Onderteken die brief aan die Minister van Gesondheid

Geagte minister Motsoaledi

Ek skryf aan u omdat ek daaroor bekommerd is dat die gesondheidsbedryf op ʼn krisis afstuur. Die druk op gesondheidspraktisyns is besig om in alle dissiplines gevaarlik toe te neem. Daar is ʼn reuse-uittog van vaardighede uit die professie en Suid-Afrika het reeds een van die laagste dokter-pasiënt-verhoudings ter wêreld, om statistieke uit ’n toespraak, wat u vroeër vanjaar gelewer het, aan te haal het. Onder verpleegpersoneel sien ons dieselfde tendens.

Die redes vir die vaardigheidsuittog is alombekend. Geagte Minister, ʼn baie groot deel van ons probleem lê egter by die aantal jongmense wat ons oplei om die gesondheidsberoep in Suid-Afrika staande te hou. Ons lei minder as 1 000 dokters per jaar op.

Ek is deel van ʼn professionele gemeenskap van gesondheidspraktisyns wat besluit het om jongmense aan te moedig om hulle in mediese rigtings te bekwaam. Ons gaan hierdie jongmense ook met studiehulp steun sodat hulle in staat sal wees om te studeer. Minister, daar is egter ʼn groot probleem – universiteite stel rasseteikens vir die keuring van mediese studente. Wat ons mediese professie benodig om te oorleef, is om die beste gesondheidspraktisyns te hê. Ons benodig die sterkste kandidate, ongeag hul velkleur, vir opleiding en vir die toekoms.

As ʼn gemeenskap van Afrikaanse gesondheidspraktisyns wil ons jongmense nie net help om te studeer nie, maar ons wil hulle motiveer om hier in die land te bly. Op die oomblik voel jongmense onwelkom in Suid-Afrika. Hulle kry nie keuring vir die studierigting van hul keuse nie – en dit op grond van hul ras. Hulle kry nie studiehulp nie – ook op grond van hul ras. Hoe kan hulle verkwalik word as hulle na ʼn land gaan waar hulle verwelkom word?

Minster, ons versoek aan u is dat slegs meriete moet tel by die toelating van studente. Gee daardie studente wat die beste kans het om hul studies te voltooi, ʼn kans en ondersteun hulle sodat hulle WIL bly en bou aan ʼn sterk gesondheidsorgstelsel. Ons is hier om te bly en te bou in die bedryf.

Ons dank u vir u aandag in die verband.

Klik hier om die brief te onderteken.

Stuur asb. die nuusbrief aan enige kollega of gesondheidspraktisyn aan.