Terugvoer oor tragiese ongeluk; Brink-gesin dankbaar vir ondersteuning

Vriende en kollegas

Die tragedie wat dr. Danie Brink (die uitvoerende direkteur van die Solidariteit Helpende Hand) en sy gesin die afgelope naweek getref het, het ons almal geruk.

Ons kan nou eerstehandse terugvoer oor die tragiese ongeluk gee.

Dit blyk dat ’n band óf gebars óf losgeraak het en die motor het die pad verlaat en verskeie kere gerol. Nooddienswerkers kon egter nie bevestig wat die presiese oorsaak van die ongeluk is nie. Ons is dankbaar dat almal veiligheidsgordels gedra het anders kon die tragedie nog erger gewees het.

Twee van Danie se kinders, Rachel (8) en André (13), is op slag dood. Johann (9) is met ’n kopbesering in die hospitaal opgeneem.

Die ander twee kinders, Mieke en Daniël, het ligte beserings opgedoen. Danie het ook ligte beserings opgedoen.

Danie se vrou, Lise, is ernstig beseer en is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Sy het ernstige kopbeserings en arm- en beenbreuke opgedoen.

Dit is met dankbaarheid dat ons kan sê dat haar toestand effens verbeter het. Sy begin op pyn reageer en probeer om haar oë oop te maak. Haar toestand het tot so ’n mate gestabiliseer dat sy waarskynlik vandag na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas kan word vir verdere chirurgie aan haar gesig.

Johann is ook vandag ontslaan.

Die familie het besluit dat dit belangrik is dat Lise die begrafnis moet bywoon en daarom sal dit eers later plaasvind.

Die familie wil aan almal wat omgee dankie sê vir hul ondersteuning en gebede. Die liefde van mense was die afgelope tyd oorweldigend. Ons kon Christus se teenwoordigheid deur mense, wonderlike wonderlike mense, ervaar: die hospitaalpersoneel, van kundige dokters en toegewyde verpleegsters wat omgee, tot die ontvangsdame; familielede, vriende en kollegas wat hulle bystaan; Helpende Hand-takke en -ondersteuners;die familie se gemeente en die predikantspaar wat vir drie dae in Welkom gaan bly het om daar te wees vir die gesin; gebedsgroepe wat deur vreemdelinge, ou vriende en nuwe vriende begin is; die duisende boodskappe op sosiale media; en die vrou by die gastehuis wat sorg vir toebroodjies, om maar net enkeles te noem.

Almal ervaar daardie gemengde emosie van intense pyn en hartseer aan die een kant en groot dankbaarheid vir liefde aan die ander kant.

Daar lê nog ’n lang pad vir die Brink-gesin voor.

Ons vra almal om te bly bid en om die gesin te bly ondersteun.

Nogmaals dankie

Dirk Hermann
Voorsitter: Solidariteit Helpende Hand