(English follows)
21 September 2016
DKD weer skuldig aan rassediskriminasie – Solidariteit
Kort op die hakke van die konstitusionele hof se uitspraak dat die DKD op grond van ras teen sewe van sy personeel gediskrimineer het, het die KVBA bevind dat die DKD weer skuldig is aan rassediskriminasie. Dit volg nadat mnr. Philip Kitching oor die hoof gesien is vir ’n vakante direkteurspos in Noordwes weens die feit dat hy ’n wit man is, wat volgens die DKD oorverteenwoordig is op daardie vlak.
Solidariteit het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) weens diskriminasie in die werkplek genader nadat mnr. Kitching aan al die minimum vereistes vir die geadverteerde pos voldoen het, maar hy nie as ’n moontlike kandidaat gekortlys is nie.
Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het die vakbond namens sy lid aangevoer dat hierdie handeling ingevolge artikel 6(1) van die Wet op Billike Indiensneming op onbillike diskriminasie in die werkplek neerkom. “Die KVBA het ons gelyk gegee dat die uitsluitlike inagneming van die nasionale rassedemografie met die kortlys van kandidate vir die pos en in die afwesigheid van ‘n geldige diensbillikheidsplan onbillike diskriminasie daargestel het. Die kommissaris het beklemtoon dat om iemand op grond van sy ras en geslag nie te kortlys nie, ’n totale belemmering op sy bevorderingsgeleenthede in die werkplek plaas, en dit word uitdruklik ingevolge artikel 15(4) van die Wet op Billike Indiensneming verbied,” het Kruger verduidelik.
Volgens Kruger het die KVBA ’n bedrag skadevergoeding aan mnr. Kitching toegestaan en ook beveel dat die DKD stappe moet doen om te verhoed dat soortgelyke onbillike diskriminasie of soortgelyke praktyke, naamlik dat geskikte kandidate doelbewus bloot op grond van ras uitgesluit word, weer plaasvind.
“Hierdie beslissing is maar net weereens ’n bewys dat onbillike diskriminasie op grond van ras met hand en tand beveg moet word. Solidariteit sal steeds aanhou om die geveg teen hierdie praktyke te lei,” het Kruger gesê.
Lees die voledige artikel: Klik hier.