XXXXXXXXXX
XXXXXXXXXX
XXXXXXXXXX

Geagte XXXXXXX

Uitspraak van die konstitusionele hof in die saak: FEDSAS//LUR vir Onderwys Gauteng en andere

Ek neem die vrymoedigheid om hierdie skrywe aan u te rig omdat die meer as 360 000 Afrikaanse lede van die Solidariteit Beweging, soos ander lede van die Afrikaanse gemeenskap, ook ’n belang het by die hantering van en reaksie op die uitdagings wat hierdie uitspraak inhou.

Die doel van hierdie skrywe is om u te verseker van ons ondersteuning vir Afrikaanse skole en moedertaal onderrig.

Die beskerming, behoud en uitbou van die toekoms van Afrikaanse onderrig en Afrikaanse skole is daarom vir die 18 instellings wat deel vorm van die Solidariteit Beweging van die uiterste belang.

Dit is juis vanuit ons oortuiging dat die demokratiese ruimte vir Afrikaanse skole bestaan dat ons glo dat Afrikaanse onderrig aktief opgeëis, beskerm en uitgebou moet word.

Ons wil u graag verseker dat die Solidariteit Beweging ’n vennoot van bestuursliggame en bestuur van Afrikaanse skole is, ook om die moontlike uitdagings wat vir Afrikaanse skole en Afrikaanse onderrig wat uit die uitspraak gaan spruit, die hoof te bied.

Dit is van die uiterste belang dat ’n veelkantige strategie vir die hantering van die toekoms van Afrikaanse skole en onderrig vir die kort, medium en lang termyn daargestel word.

Solidariteit het by sy onlangse Nasionale Kongres die volgende mosie aanvaar dat:

  • Kinders, ingevolge die Grondwet, die reg het om onderrig in hul moedertaal te ontvang en dat dit beskerm moet word;
  • Ouers die reg het om te besluit in watter skole hulle hul kinders wil plaas;
  • Enige vorm van sentrale registrasie en plasing in beginsel verwerp word;
  • Ouers, beheerliggame en skoolhoofde nie verskonend hoef te wees oor hul regte nie;
  • 'n Oproep op beheerliggame, skoolhoofde en ouers gedoen word om hulle nie te laat intimideer deur die LUR, Panyaza Lesufi, se politieke aktivisme nie;
  • Beheerliggame met selfvertroue hul regte, soos besluite oor toelating en kapasiteit, mag beskerm en dat hulle en skoolhoofde moet weet dat die gemeenskap hulle ondersteun;
  • Beheerliggame, skoolhoofde, beheerliggaamorganisasies en ouers in alles wat nodig is, ondersteun moet word om skole te beskerm;
  • Korttermynpogings om onregmatige voorskrifte te akkommodeer ten alle koste vermy moet word;
  • Korttermynkitsoplossings volhoubare oplossings op die lang termyn ongedaan kan maak;
  • Regsaksies in belang van skole waar nodig kan deur Solidariteit geïnisieer of ondersteun word om skole te beskerm;
  • Lede van Solidariteit, wat ook ouers by skole is, baie meer aktief by die skole moet wees om die skole te beskerm;
  • Ouers en die gemeenskap gemobiliseer kan word teen enige planne om Afrikaanse by skole af te skaal;
  • Solidariteit en die hele Solidariteit Beweging, insluitend AfriForum en die Solidariteit Helpende Hand ons verbind om steeds aktief by die beskerming van skole betrokke te bly en skole op alle moontlike wyses in die proses by te staan; 
  • Politieke gesprekke met die regerende party gevoer moet word in 'n poging om 'n langtermynskikking vir die beskerming van Afrikaans by skole te bereik; en
  • Gesamentlike strategieë met skole en ander organisasies, wat reeds op hierdie gebied werk, ontwikkel moet word.

Die Solidariteit Beweging wil graag saam met sy vennote ’n padkaart voorstel vir die hantering van die kwessie. In breë trekke behels ons onmiddellike strategie die volgende:

  • Die deeglike ontleding van die uitspraak en die inwinning van regsopinies van senior regslui ten einde te bepaal watter juridiese beweegruimte vir Afrikaanse skole bestaan. Ons besef egter dat ons nie ’n volhoubare juridiese oplossing vir ’n politieke probleem kan bewerkstellig nie. Die proses is reeds aan die gang en ons sal die uitkoms van die regsopinies verpak en versprei ten einde soveel as moontlik belanghebbendes te bemagtig.
  • Skakeling met die ANC en verkryging van erkenning van ons belang as ’n rolspeler in die verdere stappe wat ingevolge die hofuitspraak geneem moet word. In hierdie verband is spesifiek die konsultasieproses wat binne die volgende 12 maande met rolspelers moet plaasvind oor die daarstelling van finale voedingsones vir skole van kritieke belang.
  • Die verskaffing van inligting en voorligting aan skole en beheerliggame oor die kwessie.
  • Gesprekvoering met rolspelers, insluitend die SAOU en FEDSAS.
  • Navorsing oor en die saamstel van ’n handleiding vir die langtermynplan vir die finansiële selfstandigheid van Afrikaanse skole.
  • Die aanbieding van ’n toekomsberaad vir onderwys.

Enige navrae, kommentaar of voorstelle van u kant word waardeer.

Die uwe

P J W Buys
Voorsitter: Solidariteit Beweging