Beste ondersteuner van die Afrikaanse Alumni-vereniging
Verdere inligting insake US-konvokasieverkiesing
Saam met andere wat verlede jaar hul steun vir die stigting van ’n Afrikaanse Alumni-vereniging (AAV) op ons webblad aangedui het, het u vroeër vandeesweek ’n brief ontvang. Die brief het betrekking gehad op die verkiesing op 26 Januarie van ’n nuwe konvokasiebestuur by die Universiteit van Stellenbosch. Die verkiesing het goed afgeloop en ’n bekwame en Afrikaans-gunstige bestuur, met adv. Jan Heunis as president, is verkies – meer hieroor verderaan.
’n Kommunikasieprobleem het meegebring dat ’n dekbrief vanaf die AAV-bestuur u nie bereik het nie en dat die brief nie die ondertekening van die outeur, prof. Hermann Giliomee, bevat het nie. Ons bied verskoning daarvoor aan en verskaf hieronder meer inligting.
Die AAV 2015 tot 2016
Nadat die Stigterskomitee in September hul voorneme vir ’n oorkoepelende vereniging vir Afrikaanse alumni aangekondig het, het ons vinnig sowat 2 000 betuigings van ondersteuning ontvang. Op grond hiervan het ons in November in Stellenbosch tot stigting oorgegaan. Ruim dekking is in die Afrikaanse media daaraan verleen – kyk gerus hier en hier.
Om ’n effektiewe vereniging op te rig verg natuurlik meer as ’n aankondiging en die stigters het onderling ’n werkskomitee aangewys om sekere praktiese reëlings te tref. Die komitee het opdrag ontvang om ’n grondwet op te stel, na uitvoerende vermoë te kyk en tussentydse sake relevant tot die oogmerke van die AAV te hanteer. Ons gaan in 2016 met die algemene oprigtingsproses voort en sal met verloop van tyd verdere aankondigings doen. Terwyl die komitee met die praktiese kant van die oprigting van die AAV voortgaan, staan gebeure op ons alma maters egter natuurlik nie stil nie en is dit nodig om reeds by dié gang van sake betrokke te raak.
Tussentydse sake
Vanjaar se eerste belangrike gebeurtenis ten opsigte van Afrikaans aan ons universiteite was die vergadering van die konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch (US) op Dinsdagaand, 26 Januarie. Op die agenda was die verkiesing van ’n nuwe konvokasiebestuur uit alumni-geledere.
In die week wat die verkiesing voorafgegaan het, het dit geblyk dat senior rolspelers in die Open Stellenbosch-beweging ’n veldtog gevoer het om kandidate uit hul geledere tot die konvokasiebestuur te laat verkies. Nodeloos om te sê, sou dié kandidate verkies word, sou dit onvermydelik beteken dat die konvokasiebestuur voortaan na aan die Open Stellenbosch-kamp sou staan, ’n groepering wat verlede jaar met klasontwrigtings, gebouebesettings, die uitstel van eksamens, ’n onverdraagsaamheid teenoor Afrikaans en ander kommerwekkende ontwikkelinge geassosieer was.
In die belang van die bevordering van ’n ordelike akademiese omgewing en Afrikaans aan die US het die werkskomitee van die AAV besluit om prof. Giliomee se brief, wat reeds langs ander weë ook versprei was, aan u te stuur. In die brief het hy die bepalendheid van die konvokasieverkiesing beklemtoon en vyf kandidate, op wie die AAV kon reken om hulself vir ’n waardige konvokasiebestuur, ordelike universiteit en ’n vaste plek vir Afrikaans te beywer, aanbeveel. Vanweë die spoedeisendheid van die saak – en aangesien die AAV nog nie oor al die administratiewe kapasiteit beskik om ’n spoedige uitstuur van ’n e-pos aan ’n groot getal e-posadresse te verseker nie – het ons die kommunikasie-afdeling van Solidariteit genader, wat behulpsaam was om ons brief aan u te stuur.
Te midde van ’n geweldige opkoms van alumni (meer as 700 stemgeregtigdes – gades en besoekers nie ingereken nie) het dit uit die stemming vir die nuwe bestuur duidelik geblyk dat die konvokasie aandring op ’n vaste plek vir Afrikaans aan die US. Uit die kandidate wat prof. Giliomee in sy brief aanbeveel het, is adv. Jan Heunis (president), adv. Jacques du Preez (vise-president) en dr. Sonja Loots (addisionele lid) verkies. Twee verdere lede, Nadia Marais (sekretaris) en dr. Michael le Cordeur (addisionele lid), is ook verkies.
Baie dankie aan almal van u wat kennis geneem het van die belang van die geleentheid op Stellenbosch, asook die oud-Maties in u geledere vir wie dit op kort kennisgewing moontlik was om die geleentheid by te woon.
Intussen gaan ons as werkskomitee van die AAV voort om vorm aan die AAV te gee. Ons sal u deur die loop van die jaar weer kontak: oor alumni-sake wat u mag raak – soos verkiesings by ’n alma mater – en oor vordering met ons vereniging.
Vriendelike groete
Piet le Roux
Namens die Werkskomitee van die Afrikaanse Alumni-vereniging