SAPD en die nuwe landskap vir vakbonderkenning

Die landskap van vakbonderkenning het verander nadat die wetgewer besef het dat die absolute drempels wat deur meerderheidsvakbonde soos POPCRU en SAPU gestel word vir minderheidsvakbonde om erkenning te kry, tot groot ontevredenheid lei en selfs arbeidsonrus tot gevolg het.

Die welbekende gebeure by Marikana het hierdie probleem onder die vergrootglas geplaas. Dit het op sy beurt daartoe gelei dat 'n aantal stappe gedoen is om die probleem die hoof te bied.

Die Wet op Arbeidsverhoudinge maak nou voorsiening daarvoor dat 'n vakbond wat onder 'n vasgestelde drempel val, aansoek mag doen vir erkenning indien daardie vakbond die volgende kan bewys:

  • Daardie vakbond verteenwoordig ’n wesenlike belang; of
  • Daardie vakbond het ʼn beduidende aantal lede.

*Neem kennis: Jy mag aan meer as een vakbond behoort en jou reg op vryheid van assosiasie mag nie onbehoorlik beperk word nie.

  • Solidariteit het reeds baie lede in die SAPD maar is onder die 15 000-drempel vir erkenning wat deur POPCRU en SAPU beding is.
  • Solidariteit gaan aansoek doen om erkenning ingevolge die nuwe wetswysiging omdat ons glo dat ons 'n wesenlike belang vir ons lede dien.
  • Dit is juis omrede ons hierdie en ander kwessies aanvat dat lede by Solidariteit aansluit as hulle vakbond van keuse.
  • Solidariteit glo ons dien 'n wesenlike belang van ons lede binne die SAPD juis omdat die vakbonde POPCRU en SAPU, aan wie alle polisielede agentskapsgelde betaal, nie hulle belang op die hart dra wanneer dit kom by sake wat vir hulle belangrik is nie.
  • Inteendeel, POPCRU en SAPU sluit kollektiewe ooreenkomste wat polisielede uiters negatief raak, terwyl hulle maandeliks agentskapsgelde aan hierdie vakbonde moet betaal. Voorbeelde hiervan is:
    • Die bedinging en aanvaarding van regstellendeaksieplanne wat kwotas daarstel en uiters skadelik is vir polisielede se loopbane binne die SAPD.
    • Die bedinging van 'n nuwe rangstruktuur wat uiters skadelik is vir polisielede se loopbane en die algemene goeie orde binne bevelstrukture van die SAPD.
  • Solidariteit gaan sy aansoek om erkenning op die volgende skoei:
    • Sy lede se regstellendeaksiebelang;
    • Sy lede se pensioenfondsbelang;
    • Sy lede se belang daarby om probleme met die nuwe rangstruktuur binne die SAPD te bespreek; en
    • Sy lede se belang by verteenwoordiging in griewe en dissiplinêre verhore deur hulle vakbond van keuse.
  • Solidariteit veg al jare teen onbillike regstellende aksie namens sy lede in die SAPD.
  • Die bekende saak van kaptein Renate Barnard is sekerlik die saak wat tot dusver die meeste publisiteit geniet het.
  • Solidariteit het meer as 20 hangende sake teen die SAPD om onbillike diskriminasie deur die SAPD te beveg.
  • Die regstellendeaksieplan van die SAPD word vyfjaarliks tussen die SAPD, POPCRU en SAPU beding.
  • Hierdie planne stel steeds meer en meer rigiede rassekwotas daar, wat as “teikens” probeer verdedig word. In wese word die nasionale rassedemografie as die uitsluitlike maatstaf gebruik aan die hand waarvan aanstellings en bevorderings plaasvind.
  • Dit is hierdie rassekwotas wat lei tot die blatante diskriminasie deur die SAPD, wat voortgaan om swart persone te bevorder aan die hand van velkleur (in ooreenstemming met die SAPD se RA-plan), terwyl wittes wat dieselfde getal diensjare of meer het, eenvoudig oor die hoof gesien word op grond van ras.
  • Hierdie bevorderings op grond van ras is deur POPCRU en SAPU beding en hulle het dit aktief teen Solidariteit in die Arbeidshof gelitigeer toe ons die plan en die niebevordering van 'n paar van ons lede in die Arbeidshof beveg het.
  • Solidariteit wag reeds etlike jare vir 'n uitspraak deur die Arbeidshof oor die regmatigheid van die SAPD se RA-plan.
  • POPCRU en SAPU het aktief teen Solidariteit gelitigeer om hierdie plan te verdedig.
  • In die onlangse hofsaak van Solidariteit namens lede in die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD), waar Solidariteit ook die regmatigheid van die DKD se RA-plan aangevat het, het POPCRU ook teen Solidariteit gelitigeer om die RA-plan van die DKD te verdedig. Die plan is, soos in die geval van die SAPD, daarop geskoei om verteenwoordigendheid (“representivity”) in die werkmag te bereik aan die hand van rigiede rassekwotas. Ons wag tans nog vir die uitspraak in daardie saak.
  • Na aanleiding van die druk wat Solidariteit gedurende 2015 op die GEPF geplaas het oor die toepassing van die “skoonbreuk-beginsel”, het die GEPF onderneem om afstand te doen van die stelsel en dit te hersien, waarskynlik ten gunste van die meer gebruiklike stelsel van verrekening in diensjare. Die GEPF het onderneem om met Solidariteit te skakel en elke persoon namens wie ons optree se betalings ingevolge die skoonbreuk-beginsel te evalueer en te vergelyk met die stelsel van verrekening in diensjare ten einde te bepaal of iemand skade gely het. Hierdie proses sal binnekort begin. Intussen moet die GEPF met die georganiseerde arbeid skakel om die verandering in die stelsel te verduidelik.
  • Wat betref die aanpassing in die waardes van die formule wat vir die berekening van ’n persoon se bedankingswaarde uit die fonds by bedanking gebruik word, het die GEPF erken dat daar nie met arbeid gekonsulteer is hieroor nie. Hierdie versuim is waarskynlik hersienbaar ingevolge die Wet op Administratiewe Geregtigheid. Ten einde die hof in staat te stel om nie alleen hierdie versuim te hersien nie, maar ook die vraag of dit ’n rasionele waardeaanpassing was (m.a.w. is die aktuariële aanbeveling aan die hand waarvan die trustees die besluit geneem het korrek?) het Solidariteit alle dokumente van die GEPF se aktuarisse bekom. Ons eie span aktuarisse ontleed nou hierdie aanbevelings ten einde te bepaal of daar ’n verdere grond vir hersiening van die besluit bestaan. Ons teikendatum is die einde van Januarie 2016 vir die ontvangs van ’n aanbeveling deur ons aktuarisse.
  • Ons sal daarna 'n finale regstrategie kan uitwerk en dit so aan lede kommunikeer.
  • Sien die aangehegte dokumente wat verder uitwei oor die “skoonbreuk-beginsel”.
  • Solidariteit staan reeds ’n aantal van sy lede by oor die onvoldoende besoldiging van polisielede in die range van kaptein en luitenant-kolonel.
  • Die SAPD se herinwerkingstelling van die voormalige militêre rangstelsel in 2011 het meegebring dat die besoldiging van polisielede in die genoemde range dieselfde is as dié van lede in meer junior range.
  • Polisielede in die range van kaptein en luitenant-kolonel verdien op die oomblik dieselfde as lede in die laer range van onderskeidelik luitenant en majoor. Nie net word daar onbillik teen ons lede gediskrimineer nie, maar dit beïnvloed ons lede se moraal, outoriteit en vermoë om dissipline te handhaaf.
  • Solidariteit se grief is gebaseer op artikel 6(4) van die Wet op Billike Indiensneming (No. 55 van 1998) wat bepaal dat werknemers geregtig is op betaling gelykstaande met die waarde van die werk wat hulle verrig.
  • Dit is vir ons duidelik dat daar onbillik teen ons lede gediskrimineer word aangesien hulle nie dienooreenkomstig besoldig word vir die werk wat hulle verrig nie.
  • Solidariteit wil verder rondom hierdie kwessie mobiliseer. Dit is 'n wesenlike belang vir ons lede wie se loopbane gekortwiek word deur hierdie stelsel.
RANG SALARISSKAAL SOLIDARITEIT-VOORSTEL
Konstabel Band A
Sersant
Adjudant-offisier Band B1
Adjudant-offisier Band B2
Luitenant/Kaptein Band C/Salarisvlak 8
Vakant Salarisvlak 9 Hierdie salaris vlak is vakant en Kaptein kan dus hier ingeskuif word
Majoor/Luitenant-kolonel Band D/Salarisvlak 10
Vakant Salarisvlak 11 Hierdie salarisvlak is vakant en Luitenant-kolonel kan dus hier ingeskuif word
Kolonel MMS Band/Salarisvlak 12  

 

  • Solidariteit het verreweg die grootste regsafdeling van alle vakbonde in Suid-Afrika.
  • 'n Kardinale element van werkbeskerming is kundige en effektiewe verteenwoordiging tydens interne griewe en dissiplinêre verhore.
  • Solidariteitlede binne die SAPD word tans ontneem van verteenwoordiging tydens dissiplinêre verhore, selfs in omstandighede waar dit hulle vakbond van keuse is om hulle tydens interne griewe en dissiplinêre verhore te verteenwoordig.
  • Hierdie verteenwoordiging is 'n wesenlike belang wat nie deur die bestaande vakbonde POPCRU en SAPU aangespreek word nie, selfs al betaal Solidariteitlede agentskapsgelde en moet hulle tevrede wees om verteenwoordig te word deur vakbonde wat nie hulle eerste keuse is nie en in sekere omstandighede teen hulle belange optree met die sluit van kollektiewe ooreenkomste.
  • Solidariteit het dus 'n wesenlike belang namens wie hy optree wanneer hy lede in dissiplinêre verhore en interne griewe verteenwoordig.

Solidariteit wil opstaan vir jou belange by regstelaksie en die rangstruktuur in die SAPD en ons wil ook na jou belange by die GEPF omsien.  Om dit te kan doen moet ons wesenlike belang bewys.

Stuur hierdie e-pos aan alle polisielede.

Hulle kan hier klik om toestemming te verleen, of hulle kan “SAPD” na 34802 SMS (R2) en ons sal hulle skakel.

 

Teken uit