(English follows)
Solidariteit in arbitrasie oor “waterskeidingsaak” rakende erkenning in die SAPD
Solidariteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gister met arbitrasie begin om te bepaal of Solidariteit op basiese organisatoriese regte in die SAPD geregtig is.
POPCRU het ’n punt in limine gebring oor die definisie van “verteenwoordigende vakbond.” Al die opponerende partye – SAPD, SAPU, PSCBC en SSSBC – steun POPCRU om Solidariteit se aansoek so te belemmer. Solidariteit is juis in arbitrasie oor die wysigings aan artikel 21 van die Wet op Arbeidsverhoudinge waar wesenlike belang afgespeel moet word teen die gelyke definisie van verteenwoordigendheid.
Die KVBA-kommissaris het vandag dus besluit dat:
- Die punt in limine ondersoek sal word en dat die KVBA binne 14 dae daaroor sal beslis.
- Die KVBA dan sal bepaal of die arbitrasie sal voortgaan al dan nie.
Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is dit ’n waterskeidingsaak om te bepaal wat ’n “wesenlike belang” uitmaak. “Die Wet op Arbeidsverhoudinge is onlangs gewysig om te bepaal dat minderheidsvakbonde wat ’n wesenlike belang kan bewys, daarop geregtig is om basiese organisatoriese regte te bekom,” sê Kruger. Hy meld dat die vakbond sterk steun op die kwessie van regstellende aksie as wesenlike belang binne die SAPD. “Meerderheidsvakbonde, soos POPCRU en SAPU, steun ingrypende regstellendeaksiemaatreëls, wat die regte van wit mense en ander minderheidsgroepe vertrap. Ons lede assosieer nie met hierdie vakbonde nie, maar maak op Solidariteit staat om by wyse van aktiewe litigasie en onderhandeling te verseker dat hul regte beskerm word,” het Kruger gesê.
Ander kwessies van wesenlike belang sluit pensioenaangeleenthede en SAPD-werknemers se taalregte in. Die SAPD het onlangs ’n direktief in die Noord-Kaap uitgevaardig wat SAPD-lede verhoed om getuieverklarings in enige ander taal as Engels af te neem. “Die meeste inwoners van die Noord-Kaap is Afrikaanssprekend. Nou word SAPD-lede verbied om diens in Afrikaans te lewer en word hulle selfs met dissiplinêre optrede gedreig. Geen ander vakbond binne die SAPD beskerm hierdie wesenlike belang van lede nie,” aldus Kruger.