Adres:
Akademia (LoanLink Park)
H.v. Suidstraat en Von Willichlaan (Von Willichlaan 284)
Die Hoewes
Centurion

Tyd:  08:00 – 16:00 met middagete en ander verversings

Voldagseminaar: R1 999, aangebied teen R1 599 vir lede

Navrae: navrae@s-leer.co.za

Meer oor die sprekers:

Coenie de Villiers is gebore en getoë in Bloemfontein, waar hy skoolgegaan en sy nagraadse studies voltooi het.  Hy was dosent in Mediakunde en Kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat, en het hom later op ’n loopbaan as omroeper, programbestuurder en bemarker in die radiowese toegespits.  Hy het verder in Bemarking studeer en was onder meer Hoof van Openbare Aangeleenthede vir een van Suid-Afrika se grootse goudmynmaatskappye.

In sy rol as bemarker was hy BD van Eliance Media in die Bidvest-groep, ’n direkteur van O2 Communication, asook sewe jaar lank ’n direkteur van BrandWealth Strategiese Bemarking, ’n maatskappy waarvan hy ’n stigterslid was.  Hy was ook ’n direkteur van SVK Holdings, die maatskappy wat onder meer staalkonstruksie en logistiek vir Hitachi (Suid-Afrika) lewer.  Hy konsulteer as ’n onafhanklike strategiese bemarker en doen werk vir verskeie groot maatskappye.  Hy is die wenner van ’n Pendoring-toekenning vir uitnemende reklame.  Hy was ook Direkteur: Kultuur vir die ATKV.  Hy het vir bykans tien jaar lank as direkteur in die direksie van SAMRO gedien, en was ’n trustee in die raad van POSA.

As televisieaanbieder was hy vir ’n totaal van 17 jaar die ankeraanbieder van die vlagskip kykNet-joernaalprogram op DSTV, Kwêla.  Hy het menigvuldige toekennings as uitsaaier en televisie-aanbieder ontvang, onder meer ’n Artes-toekenning as beste radio-uitsaaier en ses Veertjie-toekennings vir uitsaaivaardigheid in die televisiemedium.  Hy was die aanbieder en vervaardiger van die hoog aangeskrewe dokumentêre reeks ‘n Ander Wêreld wat in 2015 op kykNET uitgesaai is.  

Hy is bekend as een van Suid-Afrika se beste uitvoerende liedjieskrywers en het reeds 19 albums van sy eie werk vrygestel.  Sy eerste albums is in die vorige bedeling deur ’n speelverbod beperk.  Hy het dwarsoor die wêreld opgetree, en musikante soos die Amerikaanse saksofoon-meester Dave Koz, Sibongile Khumalo, Hugh Masekela, en Jonathan Butler het reeds by hom op sy albums aangesluit.   Afrikaanse legendes soos Laurika Rauch, David Kramer, Lucas Maree en Die Heuwels Fantasties het by velerlei geleenthede saam met hom opgetree.  Hy is in Oktober 2013 uitgenooi om deel te hê aan die internasionale Dave Koz jazz-toer in Europa, en het die verhoog met wêreldsterre soos Gerald Albright, Michael McDonald, Kirk Whalum en Sheila E gedeel.

Hy het menige toekennings vir sy musiek en skryfkuns ontvang, onder meer drie SAMA-toekennings, twee VONK-toekennings, en in 2009, die Eeufeesmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die kunste. Die Kovsie-Alumni-bond het die Cum Laude-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek aan hom toegeken.  Hy is ook die ontvanger van die Huisgenoot-Skouspel Lewenslange-erkenningstoekenning, sowel as die KKNK-Kruispunt-toekenning vir ’n leeftyd van brûe bou tussen kulture in Suid-Afrika.   In 2015 is hy deur die Nederlandse legende Herman van Veen genooi om saam met hom in daardie land op te tree.  Ook in 2015 ontvang hy die Innibos-kunstefees se lewenstoekenning vir sy bydrae tot die kunste.  Sy opera, Maximilian, word in 2009 in Oostenryk opgevoer.  ’n Versameling van sy lirieke oor die afgelope 40 jaar, Hartlangs, verskyn in 2012 met ’n voorwoord deur Hennie Aucamp.  Hy is beskermheer van die MES-organisasie wat omsien na haweloses en straatkinders in die stadskern van Johannesburg.

Hy is getroud met dr. Ria de Villiers en het drie volwasse kinders.

 

Juran van den Heever het sy honneurs in BCom Bedryfskommunikasie aan die Noordwes Universiteit voltooi waarna hy ʼn beroep in onderwys gekies het.  Juran het in 2014 sy meestersgraad in kommunikasiebestuur voltooi en is tans besig met sy PhD waarin hy op reputasiebestuur fokus.  Juran is beklee die pos as kommunikasiebestuurder van Solidariteit en fokus veral op skakelwerk, reputasiebestuur, nuus, inhoud, media en sosiale media.  Juran het ʼn groot liefde vir die kommunikasiewêreld en het al verskeie kere oor die radio en selfs op televisie oor sosiale media en reputasiebestuur gesels.  As hy nie besig is met studies of kommunikatiewe funksies nie, sal jy hom met sy vrou en drie kinders iewers vang waar hulle die natuur geniet of op lekker uitstappies gaan.


Christine Breet is ʼn kommunikasiekonsultant met meer as 20 jaar se ondervinding in verskeie bedrywe. Sy spesialiseer in korporatiewe en interne kommunikasie met ʼn goeie skeut projekbestuur. Sy het haar meestersgraad in veranderingsbestuur behaal. Haar passie is sosiale mobilisasie – nie die Facebook-soort nie, maar beleggings in mense en gemeenskappe. Christine geniet goeie boeke en stimulerende geselskap.

Wie sal hierby baat vind?

  • Persone met ʼn eie besigheid of wat in ʼn onderneming werksaam is
  • Iemand wat produkte of dienste beskikbaar stel
  • Opvoeders en dosente
  • Bestuurders
  • Kommunikasiekundiges
  • Entrepreneurs
  • Persone wat ondersteuningsdienste bied
  • Belangstellendes in die tema

Waaroor handel die werkswinkel?

ʼn Handelsmerk is die kenteken van hoe jy jouself (“personal branding”) en jou onderneming (“branding”)  verpak en vir jou kliënte aanbied, maar dit is ook veel meer.  Ons nooi alle belangstellendes om saam met ons span kundiges, Coenie de Villiers, Christine Breet en Juran van den Heever, op ʼn ontdekkingsreis te gaan om die moontlikhede van jou eie persoonlike handelsmerk en ook dié van jou besigheid / onderneming te leer ken.  Die paneel gaan ook tyd spandeer aan effektiewe en praktiese maniere hoe om die inligting (produkte en dienste) van jou besigheid te kommunikeer en om jou in staat te stel om strategiese posisionering, krisisbestuur en jou besigheid / onderneming se reputasie te bestuur.  Daar is ook ʼn sterk sosialemediakomponent wat behandel word.

Van die temas wat aandag sal geniet:

  • Handelsmerk – “Branding”
  • Samewerkingsbemarking – “Co-branding”
  • Wat is die persepsie wat ek oor my besigheid wil skep en hoe doen ek dit?
  • Hoe formuleer ek my besigheidsboodskappe om maksimum voordeel daaruit te kan trek?
  • Wat gee geloofwaardigheid aan my Handelsmerk en my onderneming en hoe kommunikeer ek dit?
  • Wil jy graag jou besigheid se reputasie beskerm?  Kom vind meer uit oor die model wat ons vir jou gaan aanbied.
  • Hoe beperk ek die impak van krisisse op my besigheid / onderneming?
  • Hoe lyk ʼn kommunikasiebloudruk vir krisissituasies?  Watter stappe moet ek volg?
  • Hoe werk sosiale media en my besigheid? Wat is die goue middeweg?
  • Watter media is geskik vir die bemarking my besigheid?

Meer oor S-Leer:

S-Leer is ʼn gehalte Afrikaanse opleidingsentrum in die Solidariteit Beweging. Ons bemagtig professionele persone met VPO-punte – Voortgesette Professionele Ontwikkeling (Engels: “CPD”) –  en persoonlike ontwikkeling wat jou in staat stel om jou loopbaandoelwitte te bereik. S-Leer help jou om jou roeping uit te leef en vir jouself ʼn goeie werk te skep. Ons bou saam met jou aan ʼn seker toekoms in ʼn onseker werksplek. Ons maak VPO-punte maklik.