Soldeer

Nr. 440

H/v D F Malanstraat
& Eendrachtstraat
Kloofsig

Posbus 11760
Centurion
0046

Telefoonnommers:
012-644-4300
0861-25-24-23

Faksnommer:
(012) 664-6493

navrae@solidariteit.co.za

diens@solidariteit.co.za

HOOFSTORIE

Uitspraak voorbehou in groot regstelsaak

Deur Ilze Nieuwoudt

In een van die opspraakwekkendste hofsake in die arbeidsappèlhof in Johannesburg oor die toepassing van regstellende aksie, is uitspraak Woensdag voorbehou. Na verwagting kan dit enigiets tussen drie maande en ʼn jaar neem voordat ʼn uitspraak in dié saak tussen Solidariteit namens kaptein Renate Barnard en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gelewer word.

Volgens dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, veg Barnard reeds sedert 2005 om bevorder te word en beteken die voorbehoud van uitspraak vandag dat dit selfs nog langer sal neem voordat geregtigheid in dié saak sal kan geskied.

Barnard is bevordering op grond van die toepassing van regstellende aksie geweier. Sy het in 2005 die eerste keer aansoek gedoen vir ʼn bevorderingspos as superintendent van die eenheid vir klagte-ondersoeke. Sy het reeds sedert
2004 as kaptein in dieselfde eenheid gewerk. Hoewel die onderhoudspaneel Barnard aanbeveel het as die geskikte kandidaat vir die aanstelling, het die afdelingskommissaris egter beslis dat Barnard nie aangestel moet word nie, omdat haar aanstelling nie verteenwoordiging sal bevorder nie. Die pos is intussen nie gevul nie.

Toe die pos weer in 2006 geadverteer is, het Barnard weer aansoek gedoen en is sy weer deur die onderhoudspaneel as die geskikste kandidaat aangewys.
Hierdie keer het dieselfde afdelingskommissaris egter aanbeveel dat Barnard wel in die pos aangestel word. Volgens die afdelingskommissaris se aanbeveling sou die verkeerde boodskap oorgedra word as Barnard nie dié keer in die pos aangestel word nie. Die aanbeveling het ook aangedui dat aanstellings en bevorderings gedoen moet word om dienslewering aan te pak.

 

POPCRU tree toe tot Renate Barnard saak

 

Die polisievakbond POPCRU het as vriend van die hof toegetree in die regstellendeaksie-appélhofsaak tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Solidariteit namens Renate Barnard. Die saak is Woensdag in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor.

In die hofstukke wat POPCRU ingedien het, voer hulle aan dat wittes nie vir poste kan aansoek doen indien regstellendeaksie-teikens nog nie bereik is nie. Hulle voer ook aan dat die nasionale kommissaris poste vakant mag los vir die doel van regstellende aksie.

Volgens POPCRU het die polisie teikens vasgemaak waarvolgens die nasionale demografie in die SAPD weerspieël moet word. Volgens hulle was die pos waarvoor Renate Barnard aansoek gedoen het, slegs vir kandidate wat verteenwoordiging moes bevorder, bedoel. Hulle argumenteer verder dat kandidate wat die beste punte in ʼn onderhoud gehad het of vir bevordering aanbeveel is, nie ʼn regmatige verwagting kan hê om bevorder te word nie.

“POPCRU se argument plaas ʼn absolute plafon vir bevordering bo wit werknemers van die polisie. Hulle glo aan die idee van absolute verteenwoordiging. Die doel van bevorderingsposte is dus nie om die polisiediens te verbeter nie, maar om regstellende aksie te bevorder. Poste kan selfs vakant gelos word vir die doel van regstellende aksie. Enige pos is tog geskep om ʼn diens te lewer. Indien die pos vakant gelaat word, gaan daardie diens nie meer gelewer word nie. POPCRU argumenteer met ander woorde dat regstellende aksie belangriker is as dienslewering,” het dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit gesê.

Renate Barnard het twee keer om ʼn bevorderingspos aansoek gedoen. In beide geleenthede is sy aangewys en as die beste kandidaat vir die pos aanbeveel, maar telkens is niemand in die pos aangestel nie, weens die toepassing van regstellende aksie. Niemand is ooit in die pos aangestel nie, en die pos is later onttrek. Solidariteit het in Februarie 2010 die saak namens Barnard teen die SAPD gewen, maar die SAPD het die uitspraak op appèl geneem.

“Die Renate Barnard-saak is waarskynlik die grootste regstellendeaksiesaak tot nou in Suid-Afrika. Ons toets in die saak of verteenwoordiging die belangrikste regstellende aksie kriterium in Suid-Afrika kan wees. Die uitspraak kan ʼn nuwe wending vir die toepassing van regstellende aksie in Suid-Afrika beteken. Daar word al meer, veral in die staatsdiens, aanvaar dat alles, selfs dienslewering, voor die beginsel van verteenwoordiging moet swig. Ons argumenteer dat die wet nie daarvoor voorsiening maak nie. Indien ons suksesvol is, sal dit die wyse waarop regstellende aksie in die staatsdiens toegepas word, vir altyd verander,” het Hermann gesê.

 

Regering se werkskeppingsplanne nog verder van koers af
Werksloosheid styg tot 25%

Deur Ilze Nieuwoudt

Die regering se planne om vyf miljoen nuwe werksgeleenthede teen 2020 te skep, is in die afgelope kwartaal as ver van koers af bewys nadat Statistieke Suid-Afrika vandeesweek in sy kwartaallikse arbeidsmagpeiling aangekondig het dat werkloosheid in die afgelope kwartaal van 24% tot 25% gestyg het. Om die regering se teiken te haal, sal daar in 2020 38% meer mense in diens geneem moet wees as in 2011 – ʼn toestand wat in hierdie stadium uiters onrealisties lyk, het Solidariteit gewaarsku.

In die afgelope kwartaal was daar ʼn netto verlies van 14 000 werksgeleenthede teenoor die vorige kwartaal – weliswaar relatief min in vergelyking met verlede jaar se daling van 174 000 in die ooreenstemmende tydperk. Alhoewel indiensname in die eerste kwartaal van 2011 dus met slegs 0,1% gedaal het, is daar egter 227 000 (5,5%) meer mense wat werk soek en 73 000 (3,4%) meer mense wat al opgehou het om werk te soek. Die afgelope jaar het die aantal ontmoedigde werksoekers met meer as 350 000 toegeneem – bykans 19%.

Oor ʼn jaartermyn lyk sake maar ewe sleg: daar was slegs 42 000 meer mense in diens in die eerste kwartaal van 2011 as in dieselfde periode verlede jaar – ʼn druppel in ʼn leë emmer.

Solidariteit beklemtoon intussen dat die skade wat weens die resessie aangerig is nog lank nie ongedaan gemaak is nie. Volgens Piet le Roux, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het sowat 14 miljoen Suid-Afrikaners voor die resessie in die vierde kwartaal van 2008 ʼn werk gehad. “Dié syfer het in die afgelope twee jaar met sowat 1 miljoen na nagenoeg 13,1 miljoen gedaal,” sê Le Roux.

“Hierdie soort nuus word gereeld gebruik as regverdiging vir verdere inmenging in die ekonomie deur die regering. Die harde werklikheid is egter dat, regoor die wêreld, die geskiedenis van ekonomiese verval besaai is met regeringsinmenging. Dat een uit vier Suid-Afrikaners (4,4 miljoen) wat wil werk, vandag sonder werk sit en nog 2,2 miljoen al moed opgegee het, is veel eerder die gevolg van regeringsinmening in die ekonomie as wat dit ʼn teken is dat die regering verder moet ingryp,” verduidelik Le Roux.

 

BEDRYFSBROKKIES

Deur Cilleste van der Walt

Stop van myne om veiligheidsredes lei tot afname in produksie

Die stop van myne om veiligheidsredes wat deur die departement van mineralehulpbronne aangevra is, het tot talle berigte van produksieafname gedurende die Maart-kwartaal gelei. Aquarius Platinum (Aquarius), Anglo Platinum (AngloPlat) en Eastern Platinum (Eastplat) is van die myngroepe wat die afgelope weke aangedui het dat hulle afnames in produksie ervaar het weens optrede deur die departement.

Volgens Stuart Murray, HUB van Aquarius, “was daar redelike hoë afwesigheid in die afgelope kwartaal ná die vakansiedae en verder was daar ook ʼn merkbare toename in sogenaamde artikel 54-ingryping regdeur die bedryf in Suid-Afrika.”

Aquarius se totale produksie vir die Maart-kwartaal het met 6% na 216,686 onse gedaal (Desember 2010-kwartaal ‒ 230,014 onse), terwyl produksie by sy twee grootste Suid-Afrikaanse myne – Kroondal en Marikana – onderskeidelik met 20% en 27% gedaal het.

Neville Nicolau, HUB van AngloPlat, het gesê dat daar gedurende die eerste kwartaal van 2011 meer gevalle van die stop van myne weens veiligheidsredes as gedurende die hele 2010 was.

Staat gaan appelleer teen beslissing oor minerale regte

Die staat gaan teen ʼn beslissing van die Noord-Gautengse hooggeregshof, waarvolgens houers van onteiende ou-orde-mineraleregte op vergoeding geregtig is, appelleer. Dit volg nadat die hof ʼn leidende uitspraak aangaande die meriete van ʼn vergoedingseis teen die minister van minerale hulpbronne gelewer het.

Sandile Nogxina, die direkteur-generaal van die departement van minerale hulpbronne, het gesê: “Ons bestudeer nog die beslissing en besluit nog hoe ons daarop gaan reageer, maar ons gaan definitief appelleer.”

 

Solidariteit bekroon gemeenskapsterre

Deur Moira-Marie Kloppers en Daleen de Jager

Solidariteit het tydens ʼn spesiale skemerkelkie op die vooraand van die vakbond se nasionale kongres, vyf persone wat ʼn besondere bydrae tot hul gemeenskap gemaak het, elk met ʼn Ster in die Gemeenskap-toekenning beloon.

Alta Fouche
Alta verkoop kos en wend die fondse aan om minderbevoorregtes in haar gemeenskap te ondersteun. Sy vorder ook kos, klere en ander noodsaaklikhede in vir die behoeftiges. Alta werk saam met die Leeudoringstad Ondersteuningsforum, waarvan sy sekretaresse is, om nood in haar gemeente en gemeenskap te verlig.

Hendrik van der Westhuizen
Hendrik van der Westhuizen is by die beveiliging van sy gemeenskap in Waverley betrokke. Hy het aktief ingeskakel by BMWcid (Bergtuin Môregloed Waverley City Improvement District), ʼn Artikel 21 maatskappy, wat gestig is om die Waverley gemeenskap te beveilig. Deur middel van BMWcid het Hendrik inwoners gekry om self straatpatrollies te doen, die inwoners in staat gestel om tweerigting radio’s aan te skaf en kameras by al die strategiese punte in Waverley opgerig. Die statistiek van misdaad het drasties afgeneem in Waverley en die radio-projek het reeds bystand gelewer tydens noodgevalle.

Jannie Odendaal
ʼn Ster vir reg en geregtigheid. Jannie Odendaal en ʼn kollega het op 30 Desember 2010 die voertuig waarin Winnie Madikizela-Mandela gery het afgetrek, nadat die bestuurder roekeloos en teen ʼn hoë spoed deur die verkeer gevleg het. Madikizela-Mandela en haar lyfwagte het ʼn klagte teen Jannie Odendaal ingedien omdat hy durf waag het om hul af te trek. Jannie het besluit dat hy gaan opstaan vir dit wat reg is om te verhoed dat ander polisielede soos hy geboelie word. Hy het sy eie loopbaan in gevaar gestel sodat die waarheid kan seëvier.

Saartjie Koekemoer
Saartjie Koekemoer is die koster by die NG Kerk Strubenvale in Springs. Sy het egter ʼn ster geword toe sy by die Aurora Grootvlei-myn se voedingsprojek betrokke geraak het. Hierdie projek is van stapel gestuur nadat die myn in duie gestort het en werknemers vir maande lank nie salarisse ontvang het nie. Saartjie was aktief betrokke by elke voedselprojek vir Aurora-werknemers. Sy het telkemale die verpakking van 120 kospakkies en ander logistieke reëlings hanteer. Sy is op ʼn deurlopende basis gemoeid met die lot van Aurora-werknemers en is verantwoordelik vir die daaglikse ontvangs en verspreiding van kos, klere en ander skenkings vir die behoeftiges binne die Aurora-gemeenskap.

Suné Zaaiman:
Die 11-jarige Suné Zaaiman het op Solidariteit Helpende Hand se webblad afgekom en van die armoede-nood van ander kinders en mense in ons land uitgevind. Suné is aangeraak en het besluit om ook iets te doen en as kind van die Here haar bydrae te lewer. Sy het reeds verskeie projekte aangepak, kompetisies aangebied, vergaderings toegespreek en fondsinsamelings gehou, alles om fondse vir behoeftiges in haar gemeenskap in te samel. In Oktober 2010 het Suné ʼn suksesvolle modelkompetisie in Kimberley gereël, naamlik Diamond Splash 2010, en na die kompetisie oorhandig sy R45 000 aan Helpende Hand om ʼn beursfonds te stig. Die Suné Zaaiman-beursfonds is gestig en drie kinders uit die Noord-Kaap en Vrystaat-provinsies het die geleentheid gekry om in 2011 by ʼn universiteit te studeer.

 

PMI steeds stabiel, ondanks daling

Deur Cilleste van der Walt

Die bestuurdersaankope-indeks (PMI) van Kagiso en die Buro vir Ekonomiese Navorsing wys dat daar ʼn effense daling van aktiwiteit in die vervaardigingsektor was, maar sommige subindekse dui op robuuste toestande in dié sektor.

Die PMI het in April met 0,8 gedaal van Maart se 57,2 – die hoogste vlak in 13 maande – tot 56,4. Dit is in pas met die wêreldwye gemiddelde PMI vir April wat 1,6 punte laer is.

Theo Vorster, spesialiskonsultant van Kagiso, meen egter nie die laer lesing dui op swak toestande in die vervaardigingsektor nie. “Al die subsektore is sterk genoeg om nie bekommerd te wees daaroor nie.”

Volgens Vorster is die voorraadindeks se prestasie bemoedigend. “Dié toename beteken aankopebestuurders het nie net aangehou om voorraadvlakke te bou nie, maar dis gedoen teen ʼn hoër pas.  Dit is onderliggend van die vertroue in die sektor”, sê hy.

Indiensneming bly egter ʼn saak van kommer. Dié indeks het weliswaar in April met 2,1 punte na 49 punte toegeneem, maar bly onder die 50-vlak. “Dit beteken die sektor is in afleggingsgebied. Die PMI-indiensnemingsindeks was in Februarie 2011 vlugtig bo die 50-vlak, maar is sedert Mei 2010 onder dié vlak,” het hy gesê.

 

MY WERK

 

Terugvoer en kommunikasie moontlik die geheim
Deur Cilleste van der Walt

Evalueringsgesprekke met personeel is ʼn belangrike en positiewe deel van ʼn suksesvolle organisasie of onderneming, maar dit ontbreek in meeste werkplekke.

Werknemers en bestuurders wat dit wel toepas ervaar evalueringsgesprekke as geweldig positief. Mense wíl praat oor hul toekoms in die werkplek en wil graag meer uitvind oor dinge wat hulle moontlik nie verstaan nie. Volgens Herman Hendrikse, direkteur van JHG Personnel Practitioners in Bellville in die Kaap, het sy onderneming navorsing gedoen oor die aard van prestasie-evaluering.

Luidens JHG se navorsing is die hoofoorsake waarom hierdie bestuurstaak nie uitgevoer word nie, onder andere: omdat bestuur bekommerd is dat hulle die werknemers se gevoelens kan seermaak indien negatiewe terugvoer gegee word; omdat dit tydrowend is; en omdat die organisasie nie weet hoe om die evaluering te benader of wat presies om te doen nie.

Die terugvoer van organisasies wat wel die evalueringgesprekke toepas, is dat: dit organisasie-uitsette verbeter; veranderingsbestuur laat plaasvind; gesonde mededinging aangemoedig; die organisasie beter vaar as soortgelyke dienste en produkte; finansiële volhoubaarheid verbeter; personeelpotensiaal ontgin word; personeel ʼn toekoms by die organisasie skep; die kommunikasie verbeter; die algemene moraal positief is en meer kreatiewe insette gelewer word.

Evalueringsgesprekke het ʼn tyd en plek in elke organisasie. As dit nie tans ʼn deel van die organisasiekultuur is nie, is dit dalk die geheime sukses-bestanddeel waarna gesoek word.

 

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub


Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

 

Trap saam met die Solidariteit Fietsryklub


Vir meer inligting besoek die Klub se blad op Facebook, volg die tweets op Twitter by solfiets@twitter.com,  stuur ʼn e-pos na solfiets@gmail.com of mariusc@solidariteit.co.za of skakel  083 454 6018.

 

VENSTER OP EUROPA

Die tien grootste maatskaplike probleme in Nederland

Deur Ingrid Scholtz

ʼn Aantal weke gelede het De Groene Amsterdammer 75 akademici gevra om ʼn oorsig van die tien grootste maatskaplike probleme in Nederland saam te stel. Ekonome, filosowe, opvoedkundiges, historici en ander kenners het probeer om ʼn sorgvuldige en gebalanseerde oorsig te gee. Hierdie week se rubriek en die volgende twee rubrieke sal ʼn paar van dié probleme bespreek.

Die deelnemers aan die debat het veral een probleem, naamlik fundamentele bestaansonsekerheid, benadruk. Veranderings in die samelewing vind vinnig plaas. Niemand weet wat die gevolge daarvan vir die toekoms sal wees nie, en dit lei tot groot onsekerheid, ʼn gebrek aan rigting en die ondermyning van elke vorm van gesag. Baie ander probleme kan van hierdie onsekerheid afgelei word. In die private domein weet ouers nie meer of hulle hul kinders reg opvoed nie en kinders besef van ʼn jonger ouderdom af dat dit hulle in ʼn sterker onderhandelingsposisie plaas as vroeër. Die gesag van die dominee, die politikus en die wetenskaplike word nie meer blindelings aanvaar nie. Gevolglik kan hulle die breë publiek nie langer lei en rigting gee nie. Dink byvoorbeeld aan die skandale in die Rooms-Katolieke Kerk, of politieke en wetenskaplike debatte waar emosies oor kewssies soos massa-immigrasie of aardverwarming belangriker geword het as harde en bewysbare feite ‒ dit is net menings wat tel en niemand kan meer met gesag oor sulke kwessies praat nie. 

Die daaglikse lewe het baie ingewikkelder geword en daarmee saam ook meer onrustig. Ons moet elke dag so ʼn groot hoeveelheid  idees, beelde en inligting verwerk dat dit moeiliker word om sin te gee aan ons bestaan. Dit is byvoorbeeld inderdaad baie eenvoudiger om via die internet jou banksake af te handel, maar as jy vir elke handeling – werk, rekenings betaal, aankope doen en kommunikasie – ingewikkelde tegnieke moet gebruik, kan jy maklik verdwaal. Deesdae kan jy nie meer regstreeks met die personeel van ʼn onderneming praat nie en raak jy verstrik in ʼn doolhof van keuses wat deur ʼn onpersoonlike opname gebied word totdat jy ná tien frustrerende minute maar moed opgee.

Een van die geraadpleegde geleerdes het die opmerking gemaak dat mense weer ʼn behoefte het aan die ou herkenbare, persoonlike netwerke, aan ʼn vorm van kontinuïteit en veral aan die idee dat jy deur jou werk, optrede en inspannings sinvol besig is en die samelewing ʼn bietjie beter agterlaat. Dit is daardie vorm van singewing wat tans ontbreek.

In ʼn samelewing waar almal luidkeels en sonder voorbehoud kan sê wat hulle dink en waar vryheid en gelykheid steeds groter word, verloor mense maklik hulle morele kompas. Dit is hierdie morele kompas wat volgens baie van die wetenskaplikes weer sal moet begin werk, want, soos een van hulle sê, sonder morele verankering kan ons nooit regtig vry en gelukkig wees nie.

Volgende week: Wat beteken dit regtig om te leef in ʼn wêreld waar die meeste grense verdwyn het?

 

INTERNASIONALE NUUS

Deur Nico Strydom

Pakistan: Die Al-Kaïda-leier Osama bin Laden is Maandag by ʼn woning in Abbottabad in Pakistan doodgeskiet. Bin Laden het vir bykans tien jaar weggekruip ná die terreuraanval op die Wêreldhandelsentrum in New York op 11 September 2001 waarin nagenoeg 3 000 mense gesterf het. Bin Laden is deur Amerikaanse spesiale magte doodgeskiet, waarna hy ter see begrawe is. Sy dood het vrese vir wraakaanvalle laat ontstaan.

Sirië: In Sirië is meer as 500 mense dood in politiese betogings wat op 15 Maart begin het en regoor die Arabiese wêreld voorkom. Volgens aktiviste is meer as 1 000 betogers deur Siriese sekuriteitsmagte in hegtenis geneem. Die regering hou vol dat die betogers militante misdadigers is en nie gewone burgers wat teen die onderdrukkende regering van president Bashar al Assad betoog nie.

Libië: Die Libiese leier Moeammar Ghaddafi het volgens berigte ʼn missielaanval deur Navo oorleef waarin een van sy seuns en drie van sy kleinkinders na bewering gesterf het. Westerlike magte het sowat ʼn maand gelede met lugaanvalle op Libië begin nadat die VN ʼn vlieg-spersone oor die land ingestel het. Gevegte tussen Ghaddafi se magte en die rebelle wat hom probeer ontsetel duur voort. Ghaddafi is al vir langer as 40 jaar aan bewind in Libië.

Brittanje: Die hertog en hertogin van Cambridge het hulle eerste naweek as man en vrou by ʼn geheime bestemming deurgebring. Prins William het Vrydag met Catherine Middleton in die huwelik getree. Miljoene mense regoor die wêreld het na die televisie-uitsending van die seremonie gekyk. Die koninklike paartjie het besluit om hulle wittebrood uit te stel omdat prins William teruggekeer het na sy werk as helikoptervlieënier. Daar word gespekuleer dat die paartjie hulle wittebrood in Afrika, spesifiek Kenia waar hulle verlede jaar verloof geraak het, gaan deurbring.

 

REGSVRAAG

Deur Johan Roos

Mag werknemers van ʼn sekuriteitsmaatskappy aan ʼn vakbond behoort?

Artikel 5 van die Wet op Arbeidsverhoudinge gee werknemers die reg om aan ʼn vakbond te behoort. Die grondwet maak ook daarvoor voorsiening onder vryheid van assosiasie.

Ingevolge artikel 187(1) van die Wet op Arbeidsverhoudinge is ontslag op grond van vakbondaktiwiteite outomatiese onbillike ontslag.

 

AFRIFORUM

 

ANC-Jeugliga skarrel rond oor hy weet hy gaan hofsaak verloor – AfriForum

“Die ANC Jeugliga (ANCYL) is besig om rond te skarrel en na strooihalms te gryp, omdat dit (= die ANCYL) nou begin besef dat Julius Malema sy eie saak benadeel het deur in die hof vir die gehoor te speel, eerder as om billike argumente aan die hof voor te hou.” AfriForum het só gereageer op die feit dat Julius Malema teenoor die media aangedui het dat ʼn skikking buite die hof moontlik is, terwyl Floyd Shivambu die teenoorgestelde standpunt huldig in ʼn verklaring waarin hy AfriForum aanval en van leuens beskuldig.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan sy organisasie volstoom met die hofsaak teen Malema voort en gaan AfriForum beslis nie afsien van die standpunt dat Malema se gebruik van die “Skiet die Boer”-slagspreuk haatspraak is nie. “AfriForum se regspan is gereed om Malema se erkennings tydens kruisondervraging, te gebruik om ʼn waterdigte saak aan die hof voor te hou tydens die lewering van slotargumente op 19 en 20 Mei 2011 in die Suid-Gautengse hooggeregshof,” het Kriel gesê. Malema het volgens Kriel tydens hofverrigtinge duidelik na vore getree as ʼn persoon wat met sy uitsprake gemeenskappe polariseer en disrespek teenoor ander mense toon. Kriel het daarop gewys dat Malema tydens kruisondervraging onder meer gesê dat “skiet die Boer” ook ʼn kontemporêre betekenis het omdat die struggle volgens hom nog nie verby is nie.

AfriForum sien volgens Kriel daarna uit dat die hofsaak sy gang gaan, sodat Malema deur die hof tot verantwoording geroep kan word. “Malema dink hy is verhewe bo die wet, maar die saak sal die teendeel bewys,” het Kriel bygevoeg.

 

HELPENDE HAND

 

Kulturele Sensitiwiteit
Deur dr. Danie Langner

Die Belgiese politieke filosoof en ekonoom, Philippe van Parijs, het in 1995 aangevoer dat ʼn individu ware vryheid beleef wanneer daar vir hom ʼn basiese minimum inkomste verseker word. Hierdie opinie strook met die Suid-Afrikaanse regering se opheffing-deur-toelaes filosofie.

In sy kritiek teenoor Philippe van Parijs, skryf Simon Birnbaum van Swede die volgende: “’n Basiese minimum inkomste spreek nie die onregverdige beperkings en norme aan wat daartoe gelei het dat die persoon in die eerste plek in so ʼn kwesbare situasie beland het nie. Hoewel ʼn basiese minimum inkomste die slagoffers van diskriminasie en marginalisering se dag tot dag omstandighede meer draaglik kan maak, is dit onwaarskynlik dat dit enige impak gaan maak om die strukture en meganismes aan te spreek wat tot die gemarginaliseerde omstandighede aanleiding gegee het.”

Nou kan ʼn mens tereg vra wat dan tot vryheid van armoede sal lei vir ʼn groep wat daagliks slagoffers is van diskriminasie en marginalisering? Wat kan gedoen word om vir Afrikaners ware vryheid te verseker?  Amartya Sen, van Indië, die 1998 Nobelpryswenner vir ekonomiese wetenskappe, beweer dat jy ʼn persoon se vryheid vergroot wanneer jy sy opsies vermeerder. Hoe minder opsies ʼn persoon dus het, hoe minder vry is hy – en hoe meer opsies, hoe meer vryheid. Solidariteit Helpende Hand poog om meer opsies vir Afrikaners te skep deur middel van opheffing-deur-opleiding. 

Dit is teen hierdie agtergrond wat Helpende Hand se beroepsleidingdienste in 2010 as deel van Helpende Hand se Gemeenskapsdienste op die been gebring is. Die beroepsleidingdienste is gegrond op vier boustene: roeping, selfstandigheid, verantwoordelikheid en werk. As gevolg van gebrekkige beroepsleiding, maak talle Afrikanerjongmense die verkeerde beroepskeuses en bly dan slagoffers van diskriminasie en marginalisering, en gevolglik beperkte opsies vir die toekoms. Op die platteland is die toegang tot professionele beroepsleiding dikwels beperk en in die stad is dieselfde dienste vir baie gesinne onbekostigbaar. Die leiding om die korrekte beroepskeuses te maak was dus vir baie Afrikanergemeenskappe onbereikbaar.

Om hierdie uitdaging uit te skakel, het Helpende Hand besluit om ʼn psigometris aan te stel wat ʼn hoë gehalte diens teen bekostigbare pryse kan aanbied. Indien  ʼn plattelandse gemeenskap agt of meer kinders wil laat toets, is die psigometris beskikbaar om die toetse in daardie dorp teen geen addisionele koste nie te gaan aflê. Beroepsleidingsdienste het ook in Maart 2011 ʼn virtuele beroepsleidingdiens in die vorm van ʼn webwerf van stapel gestuur. Die adres is www.loopbaan.co.za. Hierdie diens bied, deur die internet, toegang aan enige persoon tot Helpende Hand se beroepsleidingsdienste insluitend ons loopbaangids, beroepsnuus, skaduwerk en dies meer.

Deur jongmense te begelei om die korrekte beroepskeuses uit te oefen, poog Helpende Hand om hierdie jongmense se opsies te verbreed ten einde ware vryheid van die juk van armoede te verseker.

 

RIDDER EN RAMPOKKER

Deur Cilleste van der Walt

Ridder: Twee brandweermanne, George Vosloo en Mervyn van Ginkel, is vandeesweek se ridders. Hulle het ʼn vrou van Pretoria veilig van ʼn hyskraan weer op vastegrond gekry. Sy het in die verlate The Villa-inkopiesentrum se parkeerarea gedreig om van die hyskraan af te spring, nadat sy haar selfoon aan ʼn vreemdeling gegee het om haar man in kennis te stel.

Rampokker: Vandeesweek se rampokkers is die plaaslike owerhede wat verantwoordelik is dat slaggate op Suid-Afrikaanse paaie nie reggemaak word nie. ʼn Reuse slaggat het die lewe van ʼn polisievrou, konst. Matsholo Lorraine Lesia, van Sasolburg en haar ongebore baba geëis. Die polisiebus waarin sy gery het, het omgeslaan nadat dit deur ʼn slaggat gery het. Nege ander mense is met beserings na nabygeleë hospitale geneem.

Soldeer wys elke week ʼn ridder en rampokker aan. Die ridder is ʼn persoon of organisasie wat in die voorafgaande week iets positiefs bereik, behaal of gedoen het, terwyl die rampokker ʼn persoon of organisasie is wat iets negatiefs gedoen het. Voorstelle vir hierdie weeklikse toekennings kan aan Ilze Nieuwoudt by ilze@solidariteit.co.za gestuur word. (Onthou om ʼn rede vir jou nominasie by die e-pos in te sluit.)

 

VOLGENDE WEEK IN ONS GESKIEDENIS

Vir die week van 6 Mei tot 12 Mei (in die geskiedenis van volgende week)

6 Mei 1958: Die gifmoordenares Margaret Rheeder word in Pretoria gehang weens die moord op haar man, Benjamin Fredenman.

7 Mei 1652: Die skepe Walvis en Oliphant wat te swaar gelaai was om saam met Jan van Riebeeck se ander 3 skepe uit Nederland na die Kaap te vertrek, kom in Tafelbaai aan.

8 Mei 1925: Die Amptelike Talewet erken Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika.

9 Mei 1890: Suid-Afrika se eerste kameraklub word in Kimberley gestig met ʼn ledetal van 18.

10 Mei 1893: Natal verkry selfregering.

11 Mei 1909: Ooreenstemming oor die vereniging van die Kaap, Oranje-Vrystaat, Transvaal en Natal word op ʼn vergadering van die Nasionale Konvensie in Bloemfontein bereik.

12 Mei 1652: Die eerste Nagmaalsviering in die Kaap word gehou deur ds. Backerius wat op besoek aan Jan van Riebeeck is.

(Bron: Frikkie Wallis se Nuusdagboek)

 

 

AANHALING

U moet minder op boeke en meer op mense let. -  D.J. Opperman

 

SPREEKWOORD

ʼn Smulpaap is iemand wat daarvan hou om lekker te eet.

(Bron: Pharos se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom)

 

[CONTENT]