Soldeer

Nr. 492 - 24/05/2012

H/v D F Malanstraat
& Eendrachtstraat
Kloofsig

Posbus 11760
Centurion
0046

Telefoonnommers:
012-644-4300
0861-25-24-23

Faksnommer:
(012) 664-6493

navrae@solidariteit.co.za

diens@solidariteit.co.za

HOOFSTORIE

Solidariteit beteken hofstukke teen Korrektiewe Dienste se regstelplan

Deur Dirk Hermann

Die vakbond Solidariteit het Maandag, 21 Mei hofstukke namens vyf van sy lede in ʼn saak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) by die arbeidshof in Kaapstad ingedien. Die saak is teen die DKD in die Wes-Kaap aanhangig gemaak oor sy omstrede regstellendeaksie-plan. Solidariteit voer aan dat die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Volgens Solidariteit gaan hierdie regstellendeaksie-hofsaak die omvangrykste nóg in Suid-Afrika wees.

Volgens mediaberigte het Tony Ehrenreich, Cosatu se provinsiale sekretaris, in ʼn brief aan Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, gesê dat hierdie saak ʼn verwoestende uitwerking op die toekoms van die ANC in die Wes-Kaap kan hê.

Volgens die DKD se regstellendeaksie-plan moet die nasionale rassedemografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. Gevolglik het wit – en veral bruin – werknemers in die Wes-Kaap byna geen kans meer op bevordering en aanstellings nie. Die DKD se plan bepaal dat bruin Suid-Afrikaners slegs 8,8% van die werknemers in die DKD in die Wes-Kaap moet uitmaak, terwyl bruin Suid-Afrikaners sowat 53% van die ekonomies aktiewe bevolking in die provinsie uitmaak.

Solidariteit gaan nie net vra vir ’n beslissing dat sy lede bevorder word nie, maar ook dat die regstellendeaksie-plan van die DKD in sy geheel onwettig verklaar word. Die plan bepaal ook dat die streke hulle regstellendeaksie-planne met die nasionale plan moet belyn.

Die hofuitspraak sal nie net implikasies vir die DKD inhou nie, maar vir alle regstellendeaksie-planne regdeur die staatsdiens.

“Ons gaan in die hofsaak aanvoer dat die Grondwet van Suid-Afrika nie hierdie soort sosiale manipulasie toelaat nie. Regstellende aksie het ontwikkel in ʼn rassetelling en het sy regstellingskarakter verloor,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Volgens die nasionale plan moet elke streek ʼn presiese replika van die nasionale rassedemografie wees. Volgens die DKD se plan beteken dit dat daar oral in Suid-Afrika 79,3% swart, 9,3% wit, 8,8% bruin en 2,5% Indiër-werknemers moet wees.

In ʼn skrywe van die nasionale kommissaris van 27 Junie 2011 het hy die volgende opdrag gegee: “Regions are not to develop their own regional plans based on the regional demographic profile of the economically active population butthe different regions are to develop their own EE implementation plans towards the realisation of the national numerical goals set for the entire department.” Enige afwykings van dié plan moet gemotiveer word en kan net deur die nasionale kommissaris goedgekeur word.

“Ons is oortuig daarvan dat geen wetgewing in Suid-Afrika hierdie soort sosiale manipulasie toelaat nie. Die plan van die DKD plaas ʼn absolute plafon oor wit, Indiër- en bruin werknemers, stel kwotas en neem nie dienslewering en vaardighede in ag nie. Niks hiervan word deur die wet op billike indiensneming of die Grondwet van Suid-Afrika toegelaat nie.”

Solidariteit voer die hofsaak namens Pieter Davids, Christopher February, André Jonkers, Linda-Jean Fortuin en Geo-nita Baartman.

Pieter Davids is ʼn wit werknemer met 26 jaar diens. Hy het aansoek gedoen om die pos van assistent-direkteur: menslikehulpbronne-administrasie. Hy was die beste kandidaat en is as die enigste kandidaat aanbeveel. Die area- en streekskommissaris het aanbeveel dat daar van die regstellendeaksie-plan afgewyk word en dat hy aangestel word. In die aanbeveling is selfs gesê dat indien mnr Davids nie aangestel word nie, dienslewering benadeel sal word. Op grond van die DKD se regstellendeaksie-plan het die nasionale kommissaris egter geweier en die pos is weer geadverteer.

Christopher February is ʼn bruin werknemer met 16 jaar diens. Hy neem tans waar in die pos van senior staatsrekenmeester. Die pos waarin hy waarneem is geadverteer en hy het aansoek gedoen. Hy is as die beste kandidaat aanbeveel. Die waarnemende streekskommissaris het die aanbeveling ondersteun en gesê dat mnr February reeds ʼn geruime tyd lank in die pos waarneem. Die direkteur vir Billike Indiensneming het egter gesê dat die aanbeveling nie strook met die regstellendeaksie-plan nie en die tweede beste kandidaat, ʼn swart vrou, is aanbeveel. Sy het egter reeds ʼn ander pos aanvaar en die pos is weer geadverteer. Mnr February neem steeds waar in die pos.

André Jonkers is ʼn bruin man met 17 jaar diens. Hy het reeds twee keer waargeneem in die pos van bestuurder in die opleidingsdivisie. Hierdie pos is geadverteer en hy het aansoek gedoen. ʼn Swart vrou is egter aangestel. Sy het ʼn ander pos aanvaar en mnr Jonkers is gevra om weer waar te neem. Hy het reeds vier keer om poste aansoek gedoen maar ʼn swart persoon is telkens aangestel.

Linda-Jean Fortuin is ʼn bruin vrou met 26 jaar diens. Sy het om drie poste aansoek gedoen. Sy is aanbeveel vir een pos maar is nooit aangestel nie. Die pos is steeds vakant.

Geo-nita Baartman is ʼn bruin vrou met 13 jaar diens. Sy het aansoek gedoen om ʼn assistent-direkteurspos. Die ander kandidate was vier swart vroue. Sy was die beste kandidaat en is vir die pos aanbeveel. Ten spyte hiervan is besluit dat die tweede beste kandidaat aangestel word. Dié persoon is egter in ʼn ander pos aangestel en daar is aanbeveel dat die derde beste kandidaat aangestel word. Hierdie aanbeveling is nie geïmplementeer nie. Die pos is eerder vakant gelaat en me Baartman neem steeds in die pos waar.

 

NUUS
Name van 34 000 ABO-sterftes teen Voortrekkermonument onthul
Nuwe boek oor lyding van vroue en kinders in konsentrasiekampe bekendgestel

Deur Ilze Nieuwoudt

Die name van meer as 34 000 vroue, kinders en mans wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (ABO) in en op pad na Britse konsentrasiekampe gesterf het, is Dinsdag, 22 Mei as deel van die herdenking van 110 jaar sedert die beëindiging van die oorlog teen die Voortrekkermonument in Pretoria onthul. Tydens die geleentheid is Kraal-Uitgewers (die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging) se jongste boek in die Erwe van ons vaad’re-reeks, Onthou! Kronieke van vroue en kinderlydig, 1899-1902, bekendgestel.

Die onthulling is veral merkwaardig aangesien dit vroeëre syfers oor die aantal sterftes in konsentrasiekampe verkeerd bewys. Die sterftelys* is opgestel na aanleiding van jarelange navorsing wat die navorser Celeste Reynolds oor die onderwerp gedoen het.

Volgens dr Dirk Hermann, voorsitter van Kraal-Uitgewers se direksie en adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is hierdie navorsing merkwaardig aangesien dit as ’t ware die geskiedenis oor die Anglo-Boereoorlog herskryf. Vir meer as 100 jaar is daar geglo dat nagenoeg 27 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf het, maar hierdie nuwe navorsing bewys dat die omvang van sterftes in en as gevolg van die konsentrasiekampe met minstens 7 000 sterftes onderskat is.

Die onthulling is Dinsdag by Kraal-Uitgewers se herdenking van 110 jaar sedert die einde van die oorlog gedoen. Die 34 000 name, vanne en ouderdomme van mense wat in en as gevolg van die kampe gesterf het, is op massiewe baniere teen die kant van die Voortrekkermonument onthul. Die woord “Onthou” het aan die bokant van die baniere verskyn en dra die boodskap oor dat die lyding van diegene wat as gevolg van die Britte se verskroeideaardebeleid gesterf het, onthou moet word.

Die bekendstelling van Kraal se nuutste boek, Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, die vyfde in die Erwe van ons vaad’re-reeks, maak ’n prominente deel van die herdenking uit. Die boek is deur AWG Raath van die Universiteit van die Vrystaat en Elria Wessels van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein geskryf en saamgestel. (Lees die volledige verklaring oor Onthou! wat hierby aangeheg is.)

Volgens Raath fokus Onthou! op die universele morele en humanitêre implikasies van Boerevroue- en kinders wat van hul waardigheid gestroop is. “Historici se ongeërgdheid oor die morele implikasies van die kampe en die humanitêre waardes wat daardeur geskend is, skep ’n teelaarde vir toekomstige etniese suiwering, geringskatting van die politieke en ekonomiese belange van groepe en individue en die goedpraat van die siening dat die doel die middele heilig. Terwyl sommige navorsers oor die Britse konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog in ’n debat gewikkel is oor die gehalte van die mediese geriewe in die kampe, word die oog gesluit vir die sterwenskrete van vroue en kinders wat onder die hiel van politieke magshebbers van hul waardigheid gestroop en ontmens is,” verduidelik Raath. “Die onderliggende tema van Onthou! is dat geloof, hoop en liefde oor onreg, marginalisering en onderdrukking van Afrikaners triomfeer – soos in die Bethulie-konsentrasiekamp waar ’n ou moeder ’n 14-jarige gestremde seun met die mond gevoer het, soos ’n duif.”

Benewens die bekendstelling van Onthou! en die onthulling van die sterftelys is Kraal ook betrokke by verdere aksies ter herdenking van die 110 jaar sedert die beëindiging van die ABO. Die herdenking gaan ook gepaard met ’n hofsaak oor die bewaring van erfenisterreine van die oorlog (insluitende kerkhowe van konsentrasiekampe en slagvelde) sowel as ’n aksie waarby afstammelinge van mense wat in die konsentrasiekampe was, betrek gaan word.

* Die Reynolds-sterftelys is nie by Onthou! ingesluit nie, maar sal na verwagting binnekort in ’n aparte publikasie oor die konsentrasiekampe verskyn.

Die boek is slegs deur Kraal-Uitgewers beskikbaar. Die koste van die boek beloop R520 (R60 posgeld uitgesluit), maar mense wat van die voorafbestellingsaanbod (wat tot 31 Mei strek) gebruik maak, betaal slegs R450 (R50 posgeld uitgesluit).

Plaas bestelling só:

  • SMS: SMS “Onthou” na 34388 en ʼn Kraal-agent sal jou skakel. (’n SMS kos R2.)
  • Faks: 086 593 2882 of 012 644 1824
  • E-pos: kraal@solidariteit.co.za

 

Solidariteit pak Denel Dynamics in die arbeidshof oor regstellende aksie

Deur Nico Strydom

Die vakbond Solidariteit en Denel Dynamics het mekaar Donderdag, 24 Mei in die arbeidshof in Johannesburg ontmoet oor die onbillike toepassing van regstellende aksie. Strydig met Denel Dynamics se eie beleid is Ansie van Niekerk, ná 24 maande diens as kontrakwerknemer in die pos van senior sekretaresse, nié permanent aangestel nie. Toe die pos geadverteer is, is sy weens haar velkleur wéér oor die hoof gesien. ’n Saak van onbillike diskriminasie op grond van ras is deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) na die arbeidshof verwys.

Van Niekerk is tussen 9 Februarie 2009 en 28 Februarie 2011 sewe keer in aaneenlopende vastetermyn-kontrakte aangestel – maar nooit permanent nie. Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidshofafdeling, het Denel Dynamics se personeelrekwisisiedokument vir die pos dit duidelik gestel dat ’n permanente aanstelling noodsaaklik was en dat ras of geslag, weens die dringendheid van die aanstelling, nie ’n bepalende faktor moes wees nie.

“Denel Dynamics se diensvoorwaardes stel dit duidelik dat werknemers wat langer as 24 maande op kontraktuele basis aangestel is, na dié tydperk permanent aangestel moet word,” sê Groenewald. ’n Eksterne kandidaat, ’n swart vrou, is intussen in die pos aangestel, hoewel daar volgens die maatskappy se beleid aan interne kandidate voorkeur gegee moet word. “Hoewel Van Niekerk aan al die vereistes vir die pos voldoen het, is sy suiwer op grond van haar velkleur nie aangestel nie.”

Solidariteit en Denel Dynamics se ontmoeting voor die KVBA oor die maatskappy se onbillike diskriminasie het ’n dooiepunt bereik en die saak is na die arbeidshof verwys. Dit is een van meer as 20 regstellendeaksie-sake wat Solidariteit teen staatsdepartemente en semistaatsinstellings oor die onbillike toepassing van regstellende aksie ingestel het.

Feite oor die Van Niekerk-saak

• Ansie van Niekerk was effektief van 9 Februarie 2009 tot 28 Februarie 2011 as senior sekretaresse by Denel Dynamics werksaam. Die pos behels die ondersteuning van drie elektroniese-ingenieursdepartemente met nagenoeg 40 ingenieurs en tegnici asook drie lynhoofde.
• Sy is in die tydperk sewe keer in aaneenlopende vastetermyn-kontrakte aangestel: 9 Februarie 2009 tot 9 Mei 2009; 10 Mei 2009 tot 30 Augustus 2009; 1 September 2009 tot 31 Desember 2009; 1 Januarie 2010 tot 30 April 2010; 1 Mei 2010 tot 31 Augustus 2010; 1 September 2010 tot 31 Januarie 2011; 1 Februarie 2011 tot 28 Februarie 2011.
• Sy het ’n konsekwente evalueringspunt van 4,2 behaal wat volgens die evaluering van die prestasiestandaard gelyk is aan “produksie van beter as verwagte prestasie, gehalte en standaard”. Hoewel sy aan die vereistes voldoen het en langer as twee jaar in die pos was, is sy oor die hoof gesien.

 

Ons vir jou terug op die planke!
Wees een van die gelukkige wenners

Deur Cilleste van der Walt

Solidariteit is trots om aan te kondig dat hy hierdie jaar die hoofborg van die Hertzogprys-wenner, Deon Opperman, se musiekspel Ons vir jou is. Ons vir jou is die grootste Afrikaanse musiekspel in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater. Persone wat potensiële lede na Solidariteit verwys, staan ’n kans om een stel van 50 dubbelkaartjies na ’n vertoning van Ons vir jou te wen aan. Kaartjies kan vanaf 25 Mei 2012 by Computicket gekoop word.

Vanjaar se speelvlak val saam met die viering van Solidariteit se 110de bestaansjaar en ons wil dit graag saam met jóú vier.

SMS die woorde ‘Ons vir jou’ na 34388 saam met die besonderhede van iemand wat by Solidariteit sal aansluit en staan die kans om dubbelkaartjies vir die vertoning van 10 Julie 2012 te wen!

Solidariteit-lede kan vanjaar weer hierdie besondere verhoogstuk teen 15%-afslag gaan kyk (sien die blokkie vir meer inligting hieroor). Ons vir jou is vanaf 7 tot 29 Julie 2012 in die Operateater van die Staatsteater in Pretoria te sien. Die vertonings vind van Woensdae tot Vrydae plaas en daar is twee vertonings op Saterdae en Sondae.

Die stuk vertel die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en beeld met deernis en passie die impak van die oorlog op die wording van die Afrikanervolk uit. Die musiekspel is in samewerking met Sean Else geskryf en Johan Vorster het die musiek gekomponeer. Ons vir jou is in 2008 vir die eerste keer aangebied in die Staatsteater en het in 2009 op publieke aandrang teruggekeer. Altesaam 45 000 mense het reeds hierdie treffermusiekspel gesien.

Lede van die Solidariteit Beweging kry 15%-afslag op kaartjies vir Ons vir jou

Telefoniese besprekings:
1. Skakel Computicket by 011 340 8000 of 083 915 8000.
2. Sê vir die operateur vir watter vertoning jy wil bespreek en in watter pryskategorie jy belangstel (die pryskategorie hang van die sitplek af).
3. Gee aan die operateur die afslagkode (ONTHOU) om die afslag te aktiveer.

Computicket-kiosks (landwyd):
1. Sê vir die operateur vir watter vertoning jy wil bespreek en in watter pryskategorie jy belangstel (die pryskategorie hang van die sitplek af).
2. Gee aan die operateur die afslagkode (ONTHOU) om die afslag te aktiveer.

Via die internet:
1. Gaan na Computicket se webtuiste by www.computicket.co.za.
2. Navigeer na die vertoning waarin jy belangstel.
3. Kies die hoeveelheid kaartjies wat jy verlang.
4. Daarna sal jy ’n opsie gegee word om die volle prys of die afslagprys te betaal.
5. Kies die afslagprys-opsie en sleutel jou afslagkode (ONTHOU) in om die transaksie te voltooi.

 

Solidariteit Tydskrif Fotokompetisie

 

My huis is hier!

Trek die kamera nader en spog met jou land Suid-Afrika.

Die Solidariteit Tydskrif Fotokompetisie is die ideale geleentheid om met jou fotografievernuf én jou hartshuis die mooi van Suid-Afrika te deel.

Stuur jou inskrywing (foto met ’n enkelsinbyskrif) na foto@solidariteit.co.za en staan die kans om een van die fantastiese pryse op die spel te wen.

Inskrywings sluit 1 Julie 2012. Vir meer inligting besoek www.solidariteittydskrif.co.za.


Beweging-nuus

AfriForum

Laat hof beslis oor Zuma-skildery

AfriForum het in reaksie op die debakel rondom die omstrede skildery van president Jacob Zuma gesê Suid-Afrikaners moet die howe nou ’n kans gun om ’n gesonde balans tussen belangrike regte soos menswaardigheid en vryheid van uitdrukking te help vind.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beskou sy organisasie die Zuma-skildery as kru en in swak smaak. “Dit is nietemin jammer dat dié saak binne die konteks van die ANC se selektiewe moraliteit rakende menswaardigheid afspeel. Die ANC berei byvoorbeeld tans voor om in die appèlhof te veg vir die reg om haatspraak te pleeg en Afrikaners se menswaardigheid aan te tas deur ‘skiet die Boer ... hulle is verkragters’ te sing, maar neem aanstoot as een van hulle leiers se waardigheid aangetas word,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat van die kunstenaar Brett Murray se ander werke die morele verval en korrupsie in die ANC baie doeltreffend uitbeeld en dat dit jammer is dat hy die oordrag van dié boodskap self deur die skepping van ’n vernederende skildery gekniehalter het.

 

Helpende Hand

Solidariteit is vanjaar 110 jaar oud en ons hou op 22 Junie 2012 amptelik partytjie… maar op ʼn heel ander manier.
Deur Juanita du Preez

Om hierdie besonderse mylpaal te vier, nooi Solidariteit Helpende Hand elke burger in die land uit om deel te neem aan die Helpende Hand Doen Goed-veldtog.
In die week van 18 tot 22 Junie gaan ons almal hande vat om 110 Doen Goed projekte aan te pak.

Hierdie is jou kans om daai onselfsugtige ding wat jy nog altyd wou doen, maar nog nooit het nie, te doen.

  • Gaan loer gerus na voorstelle vir projekte hier.
  • Vul die registrasievorm hieronder in.

Die registrasieproses is bloot sodat ons kan kophou met al die projekvoorstelle. Ons wil beslis nie hê een ding minder moet gedoen word omdat twee groepe dieselfde ding wou doen nie.

Ons wil weet wie jy is, wat jou werk is is en hoe jy gaan deelneem.
Ons wil ook weet wat jy en jou span wil doen, waar julle beplan om dit te doen en hoekom julle dit wil doen.

Dis ook vir ons belangrik om te weet wanneer tussen 18 en 22 Junie julle beplan om dit te doen en hoeveel mense deur die projek bevoordeel gaan word.

Om dinge so glad as moontlik te laat verloop wil ons graag met een lid van die spannetjie kommunikeer en reëlings tref. Hierdie persoon moet ook daarvoor sorg dat ons al julle voorbereidings vir en uitvoer van die projek op film (video of foto) vaslê.

Die sluitingsdatum vir registrasie is 31 Mei 2012 om 10:00.

Tussendeur kan julle regmaak vir allerhande verrassings van Helpende Hand se kant af want ons het klaar ons hande opgesteek en gesê ons is beskikbaar.
Dis nou julle beurt!

Sit ʼn handjie by en Doen Goed, Voel Goed, Wees Goed.

 

KRAAL-UITGEWERS

Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902
(Saamgestel deur AWG Raath en Elria Wessels)

Meer oor Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902

In 2005 verskyn Paul Alberts se Die smarte van oorlog, ’n Afrikaanse verwerking van Emily Hobhouse se bekende boek, The brunt of the war, and where it fell (wat oorspronklik in 1902 gepubliseer is). Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902 is aanvullend tot Die smarte van die oorlog. Dit is die vyfde boek in Kraal-Uitgewers se Erwe van ons vaad’re-reeks wat gesogde titels soos Bannelinge in die vreemde, De la Rey – ’n stryd vir vryheid en Bittereinde vrede insluit.

Onthou! bestaan uit drie prominente dele.

In die proloog ondersoek AWG Raath die ontstaan van die Britte se verskroeideaardebeleid, wat onder meer die oprigting van konsentrasiekampe ingesluit het, sowel as die rol van die Pro-Boere-beweging in Brittanje.

Dit word opgevolg deur 20 hoofstukke waarin onder meer die geannoteerde verhale van meer as 30 vroue wat self die kampe beleef het, vertel word. Hier is die vertellings wat opgeteken is in die bekende E Neethling-boek, Mag ons vergeet? afgestof.Die teks is vir Onthou! aangepas deur Elria Wessels, senior navorser by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Die aanpassings aan die oorspronklike teks van Mag ons vergeet? gee die nodige toeligting om dit meer verstaanbaar vir die hedendaagse leser te maak.

Die derde deel van die boek (ook geskryf deur Raath) bevat ’n insiggewende geskiedenis van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein wat in 2013 reeds 100 jaar oud sal wees. Die monument ter herinnering aan Boerevroue en -kinders wat in die konsentrasiekampe oorlede is, is in Desember 1913 onthul. Hier word die fokus geplaas op die oorspronklike doel waarvoor die monument opgerig is, die agtergrond tot die oprigting daarvan en dít waarvoor die monument staan. ’n Herdenkingsalbum oor die inwyding van die monument en die onthulling van die beeldegroep, wat die kern daarvan vorm, is nooit voltooi nie en in die lig van die honderdjarige herdenking van die monument is inligting oor die verrigtinge van 16 Desember 1913 by die boek ingesluit ten einde die gees en inslag wat tydens die inwyding geheers het, te laat herleef en op skrif te stel vir die nageslag.

Onthou! is ’n versamelstuk en die boek se 400 bladsye vertel die verhaal van die konsentrasiekampe deur die oë van geskiedkundiges en mense wat hul verhale van die oorlog laat opteken het. Dit bied die leser ’n intense blik op die lewe in die kampe deur verhale asook meer as 200 foto’s. Kraal se Erwe-reeks plaas sterk klem op die gebruik van foto’s om die geskiedenis mee te illustreer. Meer as 80% van die foto’s wat in Onthou! verskyn, is nog nooit voorheen gepubliseer nie en maak daarom hierdie boek uiters uniek. ’n Groot aantal van die foto’s sou sonder die gebruik van moderne tegnologie waarskynlik vir die nageslag verlore gewees het en die foto’s herleef as’t ware in Onthou!.

Wat sê ander oor Onthou!
“Nie een van ons kan vandag die lyding, hartseer en swaarkry wat die lot van die vrouens en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog was, deurgrond nie... Dit is slegs met die deurlees van die vertellings wat hier saamgevat is, dat ’n mens diep onder die indruk kom van wat gebeur het en ook van die kragtige geloof wat hierdie mense staande gehou het.” – Tokkie Pretorius (direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke).

Uittreksels uit Onthou!

  • “Die mees skokkende mededelings wat Emily Hobhouse oor die kampe gemaak het, was die hoë sterftesyfer. Dít het haar meeste aandag in beslag geneem: ‘I began to compare a parish I had known at home of 2 000 people where a funeral was an event – and usually of an old person. Here some twenty to twenty-five were carried away daily … The full realization of the position dawned on me – it was a deathrate such as had never been known except in the times of the Great Plagues … the whole talk was of death - who died yesterday, who lay dying today, who would be dead tomorrow.”’ – Onthou! bl. 25.
  • “Hy het al swakker en swakker geword, en sy einde het genader. Hy het honger gehad en kon nie melk drink nie. Wanneer ek hom vra, hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: ‘Mammie, beter, maar ek het tog so honger!” Sy laaste woord was: ‘[Ek het] honger’. Toe hy gesterf het, was hy ses jaar oud, maar die lykie was nie [eens] so groot soos dié van ʼn kind van twee jaar nie, net langer. Ek kon die tandjies deur die wangvelletjies tel. As ek my hand op die buikie lê, kon ek die ruggraat voel.” – Anna Botha van Breipaal, Smithfield, oor die dood van haar seuntjie in die Bethulie-konsentrasiekamp in Onthou! bl. 111.
  • “Die lyding is met geduld en moed gedra. Weggeskeur van hulle wonings, waarvan hulle die brandende puinhope as ’n laaste aandenking onthou het, opgesluit in die kampe, soms geskei van sommige van hulle kinders en onbekend waar hulle hul mag bevind, sonder om te weet of hulle vaders en broers en eggenote nog in die lewe was, moes hulle, dikwels baie fyn beskaafd, vir hulle behelp in ongerieflike tente, met min voedsel en ʼn paar stukke klere en beddegoed wat inderhaas van die vlamme gered is. Hierdie eentonigheid, ja, selfs van die dood, was dodend.” – President MT Steyn in sy toespraak tydens die inhuldiging van die Vrouemonument in Onthou! bl. 113.
  • “Daar sit ek met my siek kind op die skoot. Sy was sterwende en sê: ‘Mammie, gee vir my tog ʼn bietjie water.’ Wat kon ek doen? Ek antwoord: ‘My liefste, hier is geen water nie.’ Sy hou maar aan om te smeek vir water. Toe moes ek van my trane op haar lippies laat drup. Eindelik het sy gesterf. Die trein het so vinnig geloop dat ’n mens amper nie kon uitkyk nie. Daar sit ek met my twee lewende kinders en die lykie van my dogtertjie in my arms. So het ek gesit tot op Heidelberg. Hier is ons afgelaai en na ’n hospitaal gebring, waar ons moes wag tot die volgende trein. Die lykie van my kind het agtergebly. Die twee kinders en ek moes verder sonder kos tot ons op Merebank aangekom het. Ek was slap van die honger en verdriet toe ons daar aankom. Ek kan my verhaal nie so skryf soos ek dit kan vertel nie, want my hart word so seer, en dan beef my hand te veel om te kan skryf.” – Mev Magdalena van der Merwe in Onthou! bl. 261
  • “Laat ons hier by hierdie monument die teenwoordige met al sy stryd en bitterheid vergeet en ons terugplaas in die verlede. En as ons die sorge, kommer, die leed en die lyding van die verlede ons herinner, mag ons dan genade kry om, sonder enige verwyt, wrewel of haat in die hart – aangesien ons die diepe wysheid van die Almagtige nie kan peil nie – ons hoofde nederig te buig en ootmoedig te sê: ‘Vader, U wil geskied.’” – President MT Steyn in sy toespraak tydens die inhuldiging van die Vrouemonument in Onthou! bl. 372

Bestel Onthou!

  • SMS: SMS “Onthou” na 34388 en ʼn Kraal-agent sal jou skakel. (’n SMS kos R2.)
  • Faks:  086 593 2882
  • Tel: 012 644 4329
  • E-pos: kraal@solidariteit.co.za

Prys
Onthou! kos R450 (R50 posgeld uitgesluit). Hierdie spesiale aanbod geld tot en met 31 Mei waarna die normale prys van R520 (R60 posgeld uitgesluit) sal geld.

 

RUBRIEKE
BEDRYFSBROKKIES

 

Nuwe Sasol-aanleg deur Finne bestuur en onderhou
Deur Cilleste van der Walt

Die petrochemiese reus, Sasol, se nuwe gaskragaanleg in Sasolburg sal deur Wärtsilä South Africa bestuur en onderhou word. Wärtsilä SA is die plaaslike tak van ’n Finse maatskappy wat in die bestuur en instandhouding van toerusting in die energiebedryf spesialiseer. Die nuwe aanleg sal volgende jaar begin om 140 MW elektrisiteit ter ondersteuning van Sasol se bedrywighede in Sasolburg op te wek.

Henri Loubser, besturende direkteur van Sasol New Energy, sê die nuwe gaskragaanleg is ’n mylpaal ­vir Sasol, aangesien hulle sterk fo­kus op hul eie kragopwekking om sodoende in die bykomende elektrisiteitbehoeftes van hul bedrywighede in Sasolburg te voorsien. Volgens Loubser sal hierdie aanleg hulle ook in staat stel om hul CO2-vrystellings in Sasolburg met sowat ʼn miljoen ton per jaar te verminder.

Wärtsilä se driejaarpooreenkoms met Sasol is sy eerste kontrak in Suid-Afrika en die maatskappy sal ook van Sasol se werknemers in die bestuur en onderhoud van die aanleg oplei.

 

MY WERK

Bedanking: Hier is wat jy moet weet

Deur Inge Strydom

Dit is nie altyd maklik om uit ’n pos te bedank nie, selfs al kom jy nie met jou baas oor die weg nie en al geniet jy glad nie jou werk nie. Dit is eerstens belangrik om vas te stel of jy regtig wil bedank. Indien jy geen ander keuse het as om te bedank nie, moet jy jou bedanking so versigtig en taktvol soos enige ander besigheidtransaksie benader. Dit is belangrik dat jy nie enige brûe verbrand nie, aangesien jy waarskynlik ’n verwysing van jou vorige werknemer gaan benodig.
Hier is nog ’n paar wenke wat jy in gedagte kan hou indien jy dit oorweeg om te bedank:

  1. Indien jy ’n ander pos oorweeg en onseker is of jy wel die pos moet aanvaar, spandeer eers die dag as ’n skaduwerker by jou voornemende werkgewer.
  2. Weeg die voor- en nadele van jou huidige werk op teenoor die voor- en nadele van die posisie wat jy oorweeg. Is daar geleentheid vir bevordering? 
  3. Indien jy besluit om te bedank en jy nie ’n ander werksaanbod het nie, hou in gedagte dat dit jou tussen drie en ses maande (of selfs langer) kan neem om ’n nuwe werk te kry.
  4. Onthou om in jou bedankingsbrief die werkgewer te bedank vir die positiewe bydrae wat jou indiensname tot jou lewe gemaak het. Moenie te veel uitbrei oor die redes waarom jy bedank nie.
  5. Onthou om jou werkgewer vir ’n skriftelike verwysing te vra.
  6. Vind uit watter salaris of ander betaling by bedanking aan jou verskuldig is.
  7. Maak seker dat jy enige eiendom van die werkgewer wat in jou besit is, teruggee. Dit sluit alle dokumente, rekenaars, brandstofkaarte, skryfbehoeftes, ensovoorts in.

Bron: www.about.com

 

VENSTER OP EUROPA

Regstaat onontbeerlik

Deur Ingrid Scholtz

As Afriforum protesteer teen die nuwe voorgestelde taalwet of die verengelsing van skole, skryf die koerante dat daardie organisasie deur sy optrede sy demokratiese reg uitoefen.
Sulke proteste is egter baie meer as net die blote uitoefening van ’n demokratiese reg. Elke keer as Afriforum sulke verklarings maak, wys hy die Suid-Afrikaanse regering en die burgers van die land daarop dat Suid-Afrika daarop aanspraak maak dat hy ’n regstaat is.

Die woord demokrasie – regering deur die volk – beteken sonder die aanwesigheid van ’n regstaat niks. Lande is regstate as hulle grondwet in die praktyk deur almal – ook die regering – geëerbiedig word. As regeringsinstansies doelmatig, oop en regverdig is vir almal. As mense bereid is om aktiewe en kritiese burgers te wees en terselfdertyd die wette te gehoorsaam. En as daar by almal ’n bereidheid is om fundamentele norme en waardes toe te pas en te verdedig, op sosiale sowel as ekonomiese gebied.

Regoor die wêreld is hierdie regstaat toenemend onder druk. In Suid-Afrika self – dink byvoorbeeld aan die mediawette – maar ook in lande soos China of in die Midde-Ooste.
In China stel jy jou lewe in gevaar as jy korrupsie oopvlek. Dan word jy in ’n skynproses veroordeel of na die buiteland verban, soos onlangs met die blinde Chinese dissident Chen Guangcheng gebeur het.

Ook in die Midde-Ooste is daar toenemende kommer oor die toekoms van die regstaat. Die opstandelinge van die “Arabiese Lente” het hul tiranne verdryf, maar nou bedreig fundamentalistiese Moslems godsdienstige minderhede en vroueregte.

Selfs in Europa en Amerika hang daar vraagtekens oor die toekoms van die regstaat. Hier veroorsaak ekonomiese probleme onsekerheid. Burgers raak toenemend teleurgesteld in hul leiers, wat die indruk wek dat hulle nie weet hoe om die huidige krisis op te los nie.

Die geskiedenis leer dat samelewings onstabiel raak wanneer groeiende verwagtinge gefnuik word. Burgers raak ook al hoe meer daarvan oortuig dat die owerheid nie na hulle wil luister nie.

In Nederland was daar onlangs ’n ondersoek na die betrokkenheid van burgers by die politiek. Die navorser, Pieter Winsemius, self ’n oudminister, was geskok deur die groot wantroue tussen burgers en die owerheid.

Vra jy byvoorbeeld in ’n saal van honderd mense hoeveel van hulle deelgeneem het aan peilings deur die owerheid, steek 60% hul hande op. As jy vervolgens vra of hulle tevrede was met die proses en die uitkoms daarvan, steek net ’n paar mense hande op.

Wantroue en ontevredenheid lei toenemend tot onverskilligheid teenoor die politiek en dit ondermyn weer die regstaat. Wanneer die situasie eindelik onstabiel genoeg is, kan jy onder aanvoering van populistiese leiers – links of regs – ’n rewolusionêre situasie kry. Ook hier leer die geskiedenis dat ʼn rewolusie altyd deur ’n teenreaksie gevolg word.

Die antieke Grieke het al besef dat demokrasie en ’n regstaat wat goed funksioneer, onlosmaaklik met mekaar verbind is.

In lande soos Afganistan of Rusland kan jy “demokratiese” verkiesings hou totdat jy blou in jou gesig is, maar sonder ʼn regstaat is hulle betekenisloos.

Suid-Afrikaners, hou aan veg vir daardie regstaat, want daarsonder is daar geen demokrasie nie.

 

REGSVRAAG:

Gesinsverantwoordelikheidsverlof

Deur Phil Davel

Ek moet ’n verassingsdiens in Australië gaan bywoon van ’n familielid wat geëmigreer het.  Ek wil graag weet of ek, as ek nege dae verlof moet neem om die diens by te woon, dit oor drie jaar kan laat aftrek van my gesinsverantwoordelikheidsverlof.

Elke werknemer het ingevolge artikel 27 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes slegs drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof per jaar.  Dit kan nie na ’n volgende jaar oorgedra word nie en jy kan nie nege dae gesinsverantwoordelikheidsverlof  vooruit neem nie, tensy, natuurlik, die werkgewer dit toelaat, maar jy sal nie ingevolge die Wet daarop geregtig wees nie.

Indien jy drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof in die loop van die jaar geneem het, is dit uitgeput en jy sal gewone verlof moet neem as jy nog verlof in dieselfde jaar nodig het. Jy sal nie nege dae nou kan neem en vir die volgende drie jaar nie weer gesinsverantwoordelikheidsverlof neem nie. 

Siekteverlof werk egter anders. Artikel 22 bepaal dat jy 36 aaneenlopende dae siekteverlof in elke driejaarsiklus het en as jy in die eerste jaar alles neem, het jy vir die res van die drie jaar niks oor nie. Artikel 27(wat handel oor gesinsverantwoordelikheidsverlof in die geval van die dood van ’n familielid, soos bepaal in die Wet) maak egter nie melding van ’n driejaartydperk/-siklus nie.

Let wel dat jou beginpunt altyd sal wees om na  jou dienskontrak of die werkgewer se verlofbeleid te kyk. Dit is moontlik dat die kontrak of beleid gunstiger as die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is. Jy kan ook spesiale vergunning van die werkgewer vra, maar, indien aan die vereistes van artikel 27 voldoen word, het jy, soos genoem, slegs drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof per jaar en jy sal gewone verlof moet neem indien jy die ander ses dae verlof wil neem.

Skakel gerus die Solidariteit Dienssentrum by 0861 25 24 23 indien jy enige verdere navrae oor gesinsverantwoordelikheidsverlof het.

 

EKONOMIESE NUUS

Deursigtigheid belangrik – ook by vergoeding

Deur Paul Joubert

Sedert die finansiële krisis in 2008 in die VSA, en die daaropvolgende domino-effek daarvan in lande soos Ysland, Ierland en Brittanje, is die vergoeding van groot maatskappye se bestuurslui ʼn veelbesproke onderwerp. Die debat is veral aangevuur deurdat talle van die banke en finansiële instellings wat met belastingbetalersgeld aan die gang gehou is, kort daarná steeds vergoeding en bonusse van miljoene dollars aan topbestuurslui betaal het. Dit is beskou as ʼn klap in die gesig van die gewone belastingbetaler. Sedertdien is die debat tot ʼn mate gekaap deur ʼn meer linkse groepering wat eenvoudig daarteen is dat groot (of enige) verskille in inkomste voorkom.

ʼn Soortgelyke diskoers word al vir jare in Suid-Afrika gevoer. Hoewel geen Suid-Afrikaanse bank of ander privaat finansiële instelling gedurende die resessie van 2008/2009 met staatsgeld ondersteun is nie, is daar tog dikwels sterk reaksies van die publiek wanneer een of ander maatskappyhoof ʼn salarispakket van etlike miljoene betaal word. Aangesien Suid-Afrika se inkomsteverdeling baie ongelyk is, veel meer as dié van die VSA of die meeste Europese lande, is dit ook te verstane dat daar sterk op die oënskynlike onregverdigheid van sulke hoë salarisse gefokus word, veral ook in die lig van die armoede in Suid-Afrika.

Vanuit ʼn vryemark-perspektief soos Solidariteit s’n is daar egter nie ʼn probleem met ongelykheid van inkomste nie. Persone behoort volgens hul bydrae vergoed te word, nie volgens hul behoeftes nie, aangesien behoeftes onbeperk is. ʼn Groot bydrae verdien meer vergoeding as ʼn kleiner bydrae – dit is juis regverdig. Dit is ooglopend onregverdig om twee mense wat dieselfde werk doen en dieselfde waarde toevoeg, verskillend te vergoed. Net so is dit ook onregverdig om twee mense wat verskillende werke doen en verskillende waarde toevoeg, dieselfde te vergoed. Die hoof van ʼn maatskappy kan tog nie dieselfde vergoeding as ʼn bode in die maatskappy ontvang nie, of ʼn siviele ingenieur dieselfde as ʼn slootgrawer nie. As die een meer waarde as die ander toevoeg, is dit regverdig om hulle verskillend te vergoed.

Hoe weet ʼn mens egter hoeveel waarde ʼn persoon werklik tot ʼn onderneming toevoeg? As dit nie bekend is nie, kan daar nie bepaal word of die vergoeding regverdig is al dan nie, en verbaas dit nie as daar dan ontevredenheid ontstaan wanneer salarisse en bonusse van miljoene aan bestuurslui toegeken word nie. Ekonomiese teorie leer dat hoe beter en gelyker die verspreiding van relevante inligting oor ʼn ekonomiese transaksie is, hoe nader aan optimaal die uitkoms van die transaksie sal wees. Natuurlik kan daar nie verwag word dat die presiese detail van elke maatskappy se vergoedingsbeleid openbare inligting moet wees nie.

Groter deursigtigheid beteken egter dat maatskappye se aandeelhouers, werkers en die algemene publiek nie slegs emosioneel kan reageer op vergoedingspakkette van miljoene rande nie, maar dat hulle wel ʼn ingeligte oordeel kan vel oor of die bestuurders se waardetoevoeging dit werklik geregverdig het, al dan nie. Aangesien die vergoeding van bestuurslui dan ook bereken sal word in die wete dat die redes daarvoor uiteindelik bekendgemaak sal moet word, dien dit ook as ʼn teenwig vir oordadige vergoeding. Soos die teorie voorspel – ʼn beter uitkoms vir al die betrokkenes.

 

INTERNASIONALE NUUS

Deur Inge Strydom

Serwië

Amptenare is van mening dat Serwië waarskynlik ’n pro-Europese Unie-regering gaan hê ten spyte daarvan dat ’n pro-Russiese nasionalis as die nuwe president van dié land verkies is. Tomislav Nikolic het Sondag Boris Tadic in die land se nasionale verkiesing geklop. Tadic se demokrate gaan egter waarskynlik ’n nuwe regering saam met die sosialiste vorm, wat Nikolic as ’n strooipoppresident sonder enige werklike mag laat.

Sirië

Siriese magte het Maandag nege oorlogdrosters in ’n noordelike woonbuurt van Damaskus voorgelê en doodgemaak. Die konflik het ontstaan weens die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) se militêre ingryping teen die diktatorskap van president Bashar al-Assad van Sirië. Verdere geweld het ontstaan nadat ’n granaat Sondag naby ’n groep inspekteurs van die Verenigde Nasies in ’n woonbuurt in Damaskus ontplof het. Nagenoeg 48 mense is ook elders in die land doodgemaak.

Italië

’n Aardbewing van ongeveer 6 op die Richterskaal het Sondag die noorde van Italië getref. Sewe mense het weens die aardbewing omgekom, terwyl nog 50 mense beseer is. Die aardbewing het sowat 32 km noord van Bologna plaasgevind en is ongeveer twee ure later deur nóg een van ongeveer 5.1 op die Richterskaal gevolg. Talle geboue, waaronder sommige met kultuurhistoriese waarde, is beskadig. ’n Aardbewing van byna dieselfde omvang het ook in Januarie die gebied getref, maar geen beserings is toe aangemeld nie.

 

HET JY GEWEET?

 

Chris Blignaut was die eerste sanger wat Afrikaanse liedjies oor die radio gesing het. Hy was ook die eerste Afrikaanse sanger van wie meer as ʼn miljoen plate in Suid-Afrika verkoop is.

Bron: Pharos se Feitegids. ʼn Kernensiklopedie.

 

SPREEKWOORD

 

Iemand se gesante en trawante. Iemand se helpers, veral in slegte sake.

Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.

 

AANHALING

 

Bose mense gehoorsaam uit vrees; Goeies uit liefde - Aristoteles.

 

RIDDER EN RAMPOKKER

 

Rampokker

Hierdie week se rampokkers is die twee polisielede wat Sondag ’n ma en haar dogter voorgekeer het en onder meer gedreig het om hul skaaphond dood te skiet. Suné Steenkamp (18) en haar ma, Amanda, was Sondag op pad na die Hoërskool Helpmekaar in Braamfontein, Johannesburg, toe ’n polisiebakkie hulle in Mellestraat voorkeer en beveel om uit hul voertuig te klim sodat hulle dit kan deursoek. Hulle het egter nie die motor deursoek nie, maar die dames geïntimideer. Die mans het onder meer vir die dames gevra of hulle hond aggressief is en later gedreig dat hulle die hond sou skiet. Hulle het na ongeveer vyftien minute weer gery. Niemand is in die voorval beseer nie. 

Ridder

Almal wat betrokke is by die Lawhill Maritime Studies-program, ’n onderrigprogram wat hoofsaaklik deur die Suid-Afrikaanse handelsvloot gefinansier word, is hierdie week se ridders. Die program is Maandag, 14 Mei met die Internasionale Seehandel-prys vir “Belegging in Mense” in Londen vereer. Die program bestaan reeds 17 jaar en het al ongeveer 300 studente met kwalifikasies in die marinebedryf toegerus. Die program is ontwikkel met die doel om werkloosheid onder veral jong Suid-Afrikaners te verlig.

 

ATTERBURY TEATER

 

Hoogtepunte by die Atterbury Teater

Vertoning / geleentheid

Datum

Tyd

Koste

Wouter Kellerman- Kontemporêre Fluitspeler

27 Mei 2012

16:00

R110 / R130

“Pat Boon Classics” met Louis-John, Helene Bester & Clinton Zerf.

29 Mei 2012

10:00

R60 / R70 / R80

Mathys Roets: “Oorkom die versperrings in jou lewe” (motiveringspraatjie).

5 Junie 2012

10:30

Binnekort beskikbaar

Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.

 

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub

Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

[CONTENT]