Soldeer Nr. 505 - 30/08/2012 |
|---|
H/v D F Malanstraat & Eendrachtstraat Kloofsig |
Posbus 11760 |
Telefoonnommers: |
Faksnommer: |
|---|
| HOOFSTORIE | |||||||||
Manyi se idees moet saam met hom gaan – Solidariteit |
|||||||||
Deur Nico Strydom Die vakbond Solidariteit het die besluit om nie die regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, se kontrak te hernu nie, verwelkom. Volgens Solidariteit moet die regering egter nie net van Manyi ontslae raak nie, maar ook van sy idees oor ras en regstellende aksie. Manyi is bekend vir sy omstrede rasidees en veral vir sy uitsprake dat bruin mense oorverteenwoordig in die Wes-Kaap is en oor die hele land heen moet versprei. Die hoof van die beplanningskommissie, minister Trevor Manuel het in ʼn ope brief aan Manyi geskryf dat sy rassisme die hoogste raadsale (“echelons”) van die regering geïnfiltreer het. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit sê Manyi se idees het nie net die regering geïnfiltreer nie, maar het regeringsbeleid geword. “Die departement van korrektiewe dienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se regstellendeaksiebeleid is ʼn toonbeeld van Manyi se idees en verskeie howe het hulle al daarteen uitgespreek. Die nuwe konsepwysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming wil Manyi se idees versterk deur die minister van arbeid die mag te gee om regulasies af te dwing waarvolgens maatskappye die nasionale demografie op provinsiale vlak kan toepas. Ons beroep op die regering is dus om nie net ontslae te raak van Manyi nie, maar ook sy rassistiese idees,” het Hermann gesê.
|
|||||||||
| NUUS | |||||||||
| SAL diskrimineer steeds teen wittes – Solidariteit | |||||||||
Deur Nico Strydom Die vakbond Solidariteit het vandeesweek die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) versoek om redes te verskaf oor hoekom twee wit persone se aansoeke vir sy kadetprogram binne minute nadat dit ingedien is, afgekeur is. Solidariteit het die SAL verder versoek om alle inligting rakende aansoeke wat ontvang en goedgekeur is bekend te maak met spesifieke verwysing na ras en geslag. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond tree in hierdie geval namens Clarice Berteyn en Bradley Lane op. Kruger sê Berteyn en Lane het as deel van die aansoekproses die nodige dokumente, insluitend ʼn werksopdrag, ingedien, maar is minute later in kennis gestel dat hulle aansoeke afgekeur is. “Albei voldoen aan die vereistes en as ʼn vrou is Berteyn deel van die aangewese groep. Sy en Lane beskik ook reeds oor private vlieglisensies. Solidariteit het die SAL versoek om skriftelik redes te verskaf oor hoekom hulle aansoeke afgekeur is. Ons het die lugredery ook gevra om die inhoud van suksesvolle kandidate se aansoeke aan ons beskikbaar te maak.” Kruger sê Solidariteit het die afgelope ruk talle navrae ontvang van mense wat steeds sukkel om aanlyn vir die SAL se kadetprogram aansoek te doen. Die vakbond het die SAL ook versoek om ʼn persoon aan te wys om navrae rakende die lugredery se kadetprogram en enige klagtes rakende die aanlyn aansoeke te hanteer. Solidariteit het voorverlede week ʼn openbare veldtog teen die SAL van stapel gestuur nadat dit aan die lig gekom het dat wit aansoekers se aansoeke vir die kadetprogram op die lugredery se webblad onmiddellik geweier is, terwyl swart aansoekers met dieselfde profiel se aansoeke aanvaar is. SAL het in ʼn prokureursbrief aan Solidariteit bekendgemaak dat hy sy verbod op aansoeke van wit manlike studente vir sy omstrede kadetprogram gaan ophef. Solidariteit doen ʼn beroep op wit aansoekers wat aan die vereistes voldoen om die vakbond in kennis te stel indien hulle steeds nie vir die kadetprogram kan aansoek doen nie óf as daar verder tydens die keuringstydperk teen hulle gediskrimineer word. Dit kan gedoen word by www.stopkwotas.co.za.
|
|||||||||
| Hof staan interdik teen DKD se omstrede rasplan toe | |||||||||
Deur Nico Strydom Die arbeidshof in Kaapstad het onlangs ʼn dringende interdik teen die Departement van Korrektiewe Dienste se omstrede regstellendeaksie-plan toegestaan. Volgens die interdik mag die DKD nie voortgaan om die pos waarvoor ʼn Solidariteit-lid, Christo February, aansoek gedoen het te vul voordat die hoofsaak wat Solidariteit namens vyf DKD-werknemers by die arbeidshof in Kaapstad aanhangig gemaak het, aangehoor is nie. In sy betoog het regter Robert le Grange gesê dat Solidariteit aan al die vereistes van ʼn dringende aansoek voldoen het. Die vakbond het ook daarin geslaag om ʼn prima facie-saak vir onbillike diskriminasie uit te maak. Die regter het gesê dat die DKD teen mnr February gediskrimineer het op grond van sy ras en dat niemand aangestel of bevoordeel is nie. Hy het ook gesê dat die DKD absolute kwotas ten alle koste wil bereik en dat die Wet op Billike Indiensneming dit nie toelaat nie. “Ons is verheug oor die uitspraak. Die is die eerste stap vir geregtigheid vir die werknemers van die DKD namens wie ons optree. Dit is jammer dat ons hof toe moes kom om so interdik af te dwing. Die DKD moes self ʼn sin vir billikheid gehad het, maar hulle voel so sterk oor die ideologie van verteenwoordiging dat hulle ten alle koste hof toe sal gaan om dit te verdedig,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit gesê. Intussen het Solidariteit ook by die hof aangekondig dat hy nog vyf sake teen die Departement Korrektiewe Dienste se rasplan na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys het. Dit sal die totale getal regstellendeaksie-sake teen die DKD opstoot na 10 en die totaal teen die Suid-Afrikaanse regering na 31. “Ons het besluit om die hofaksie teen die DKD te verskerp. Daar is honderde mense wat deur die DKD se regstellendeaksie-plan onbillik benadeel word. Ons voorsien dat al tien sake gekonsolideer sal word om dit die grootste regstellende aksie in Suid-Afrika te maak,” het Hermann gesê. “Die DKD het in die interdik-verhoor dit ondubbelsinnig gestel dat hulle plan op die absolute toepassing van die nasionale demografie gebaseer is en dat hulle dit so toepas. Hulle regsverteenwoordiger het selfs sover gegaan om te sê dat bruin persone na ander provinsies moet trek vir loopbaanbevordering. Hulle sal nie in die hoofsaak hierop kan teruggaan nie en die hof sal moet uitspraak gee of so plan geldig kan wees,” het Dirk Groenewald, hoof van die arbeidshofafdeling van Solidariteit gesê. Al Solidariteit se sake teen die DKD fokus op die Departement se omstrede regstellendeaksie-plan. Volgens die plan moet die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël word ongeag die profiel van die provinsie of streek. Die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap van bruin werknemers is sowat 51% terwyl die nasionale profiel sowat 8,8% van die totaal is. Dit beteken dat deur regstellendeaksieprogramme bruin persone van 51% in die Wes-Kaap na sowat 8,8% verminder moet word. Die gevolg is dat daar baie min of geen bevorderingsgeleenthede vir bruin persone in die Wes-Kaap is nie. “Die DKD se plan is niks anders as ʼn reuse sosiale manipulasieprogram nie. Volgens die plan moet mense trek om regte te kry waarop hulle geregtig is. Suid-Afrikaners moet die volle beskerming van alle wetgewing ontvang en die vryheid hê om hulle beroepe onbevange te beoefen waar hulle ook al bly,” het Hermann bygevoeg.
|
|||||||||
| Afleggings by 1time vir eers gestaak – Solidariteit |
|||||||||
Deur Nico Strydom Konsultasies met die vakbond Solidariteit oor die moontlike aflegging van nagenoeg 25% van Jetworx se werkmag weens die finansiële probleme van die laekoste-lugdiens 1time Holdings, is tydelik gestaak nadat ’n ondernemingsreddingspesialis aangestel is. 1time Holdings het Jetworx, sy bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel, asook sy ander bedryfsfiliaal, die lugdiens 1time Airline, in ’n proses van ondernemingsredding geplaas. Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, het die vakbond reeds in Junie ’n artikel 189-kennisgewing van Jetworx ontvang. “Ons is egter tydens konsultasie meegedeel dat die proses vir eers gestaak is vanweë die aanstelling van ’n ondernemingsreddingpraktisyn. Die praktisyn moet nou ’n plan vir die herfinansiering en herstrukturering van die maatskappy opstel. Die maatskappy sal ook die geleentheid kry om ’n sakereddingsplan te ontwikkel en in te stel en om terselfdertyd sy bedrywighede voort te sit. 1time Holdings, Jetworx en die ondernemingsreddingspraktisyn gaan per brief versoek word om Solidariteit by die proses te betrek.” Croucamp sê Jetworx het reeds sowat 15 werknemers afgelê voor dit deur 1time Holdings in ’n proses van ondernemingsredding geplaas is. “Die werknemers is afgelê weens ’n diensverskaffingskontrak wat beëindig is. Luidens Jetworx se artikel 189-kennisgewing kan sowat 25% van die maatskappy se 400 werknemers geraak word. Solidariteit het intussen die hoop uitgespreek dat die ondernemingsreddingsplan dié en verdere afleggings sal voorkom,” sê Croucamp.
|
|||||||||
| Beweging-nuus | |||||||||
AfriForum AfriForum kondig reuse-veldtog teen plaasmoorde saam met bekendes aan AfriForum het Dinsdagaand sy Stop die Moorde-veldtog, wat daarop gemik is om die publiek by die stryd teen plaasmoorde te betrek, aangekondig. Verskeie van die land se bekendste kunstenaars, waaronder Steve Hofmeyr, Chris Chameleon, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Pieter Koen en Gerrie Pretorius het die bekendstelling bygewoon en ook hulle steun vir die veldtog verklaar. By dié geleentheid is een dosyn projekte, sowel as die webblad www.stopdiemoorde.co.za, aangekondig. Die webblad gee die publiek ʼn platform om by die veldtog betrokke te raak deur hulle kontakbesonderhede in te vul, waarna AfriForum hulle sal kontak en vertel hoe hulle by die stryd teen plaasmoorde betrokke kan raak. AfriForum se nuutste video, getiteld Skep Moed, is ook op die webblad bekendgestel. Die video is vervaardig om moedelose Suid-Afrikaners te herinner aan die swaar tye wat generasies voor hulle deurgemaak het en hulle dan aan te moedig om moed te skep en voort te gaan om ʼn konstruktiewe bydra tot Suid-Afrika te maak. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat die veldtog breedweg op twee bene staan. “Aan die een kant vereis ons optrede van die regering. Ons sal aanhou met ons veldtog totdat plaasmoorde deur die regering geprioritiseer word en spesialiseenhede vir landelike veiligheid daargestel word. Aan die ander kant sê ons ook dat ons nie agteroor gaan sit totdat die regering optree nie, maar dat ons op ʼn opbouende manier beter na ons eie veiligheid sal kyk deur by gemeenskapsveiligheidsnetwerke in te skakel.” By die geleentheid het Roets gesê dat die regering se stilswye oor plaasmoorde agterdog onder die publiek skep. “Daar is mense wat glo dat plaasmoorde sentraal beplan word. Daar is ook mense wat glo dat die regering hulle as tweedeklasburgers sien en dat hulle veiligheid nie vir die regering ʼn prioriteit is nie. Die regering se stilswye word deur dié mense as bevestiging gesien.” Roets het bygevoeg dat hierdie veldtog net sal slaag indien die publiek in groot getalle daarby inskakel deur die webblad www.stopdiemoorde.co.za te besoek en hul betrokkenheid te verklaar.
Helpende Hand Helpende Hand Beroepsleidingsdiens Solidariteit Helpende Hand se diens aan jongmense fokus op die verskaffing van beroepsleiding om:
Skoolkinders, onderwysers en ouers wat meer inligting oor verskillende beroepe en toekomsmoontlikhede benodig, kan die webtuiste www.loopbaan.co.za besoek. Die gewilde Loopbaangids word ook binnekort weer aan hoërskole landswyd versprei sodat jongmense ingeligte besluite oor hulle toekoms kan maak. Die gids sal ook aan die publiek beskikbaar wees. Vir meer inligting oor die Beroepsleidingsdiens se werksaamhede, skakel Karin Venter by 012 644 4390.
KRAAL-UITGEWERS Kom sing weer in jou taal met die nuwe FAK Sangbundel Volume II Met die oog op die nuwe FAK-Sangbundel wat binnekort deur die FAK vrygestel gaan word, is die FAK se kantoor in samewerking met vele kundiges hard besig met die proses. Die FAK het die voorreg om saam met Jannie du Toit, Johan van Rensburg, Prof. Bertha Spies, Katrien Holm en andere aan hierdie geskiedkundige projek te werk. Die FAK-Sangbundel Voulume II, gaan gevul wees met splinternuwe liedjies uit die Afrikaanse skatkis van die afgelope 40 jaar. Die publiek kan verwag om al hulle gunstelinge daar te kry. Liedjies soos Bellade vir ’n Enkeling deur Richard van der Westhuizen, Die Onverkrygbare van Chris Chameleon, Drie uur in die Môre van Jannie du Toit en vele meer. Om seker te maak jy kry jou nuwe FAK-Sangbundel Volume II, SMS ‘FAK’ na 34388 gevolg deur jou naam, van en kontaknommer. Ons sal jou kontak vir meer besonderhede. Dié bundel (R450, posgeld uitgesluit) word amptelik by Aardklop bekendgestel.
|
|||||||||
| RUBRIEKE | |||||||||
BEDRYFSBROKKIES |
|||||||||
Nasionale Gesondheisdversekering (NGV) kan nog 25 jaar neem Die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekeringplan sal volgens raming nog sowat 25 jaar neem. Die plan vorm deel van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat onlangs aan president Zuma oorhandig is. Die plan stel vier voorwaardes waaraan daar voor die implementering van die NGV voldoen moet word, nl. die verbetering van die gehalte van openbare gesondheidsorg, die verlaging van die koste van privaat gesondheidsorg, die aanstelling van meer professionele mense in die openbare en private sektor en die ontwikkeling van gesondheidinligtingstelsels vir die openbare en privaatsektor.
|
|||||||||
MY WERK |
|||||||||
Irriteer jy jou kollegas? Kan jy jou die volgende situasie voorstel: in die hoek luister iemand na die nuutste Kurt Darren-treffer. Oorkant jou hoor jy die gekraak en geritsel van iemand wat aan ʼn pakkie skyfies peusel. In die gang staan ʼn paar dames en giggel oor ʼn nuwe komediereeks op televisie. Intussen het jy ʼn dringende verslag om te voltooi en begin jou kantoorvenster al meer na ʼn nooduitgang te lyk. Lees bietjie hieronder na die mees algemene irritasies wat in die werkplek kan ontstaan en hoe jy dit kan vermy. Hou dit in gedagte en probeer om nie jouself daaraan skuldig te maak nie:
Al bogenoemde punte kan in een sin opgesom word: Neem ander in ag. Net soos jy jou woonstelmaats of jou gesin by die huis in ag moet neem, moet jy ook jou kollegas in ag neem. Verseker sodoende ʼn gelukkiger werkomgewing vir almal!
|
|||||||||
REGSVRAAG |
|||||||||
Vraag: Ek is tans werksaam as ʼn sweiser maar ondervind ʼn erge toestand van rumatiek wat veroorsaak dat ek nie altyd my hande na behore kan gebruik nie. Kan die werkgewer my net ontslaan? Antwoord: Ongeskiktheid kan tydelik of permanent wees. Indien tydelik, moet die werkgewer die omvang van die ongesteldheid ondersoek. Indien permanent ongeskik moet die werkgewer die moontlikheid van alternatiewe diens of aanpassing van die pligte of werksomstandighede van die werknemer ondersoek ten einde die werknemer se ongeskiktheid te akkommodeer. Die werknemer behoort die geleentheid gebied te word om aangehoor te word en om deur ʼn vakbondverteenwoordiger of medewerknemer bygestaan te word.
|
|||||||||
EKONOMIESE NUUS |
|||||||||
Sonder mynbou lyk BBP nie goed nie Die jongste syfers oor die bruto binnelandse produk (BBP) is vandeesweek deur Statistieke Suid-Afrika bekendgestel. Hoewel daar eintlik oormatig op BBP as maatstaf van ekonomiese aktiwiteit gefokus word, is dit tog nuttig om te ondersoek, selfs al het dit talle gebreke. Die groeisyfer van een kwartaal tot die volgende is die een waarin daar gewoonlik die meeste belangstelling is. Vir die tweede kwartaal van 2012 was hierdie groeisyfer 3,2% – ’n noemenswaardige verbetering op die eerste kwartaal van 2012 se 2,7%. Die bogenoemde syfers beteken nie dat daar in die tweede kwartaal van die jaar 3,2% meer goedere en dienste in Suid-Afrika geproduseer is as in die eerste kwartaal nie. Die 3,2% is ’n geannualiseerde persentasie van die verandering in die seisoenaal aangepaste reële syfers van die twee kwartale. Dit beteken dat die syfers eerstens aangepas word om op te maak vir die daling in die waarde van geld tussen die twee kwartale, en dan aangepas word om gereelde fluktuasies wat seisoenaal voorkom, uit te skakel. Laastens word die koers van verandering wat dan gekry word, aangepas om ekwivalent aan ’n jaarkoers te wees. Dit wil sê, as die groei tussen die twee kwartale vir vier kwartale volgehou word, sal die hele jaar se groeikoers 3,2% wees. Noudat dit duidelik is waaroor die syfers gaan, moet genoem word dat die 3,2%-groeikoers eintlik ietwat bedrieglik is. Dit is ’n groot hupstoot deur die groei in die mynbousektor gegee. Daarsonder sou die groeikoers eintlik op 1,9% te staan gekom het. Sonder mynbou sou die vorige kwartaal se groeikoers eintlik 3,9% gewees het en nie 2,7% nie. As mynbou buite rekening gelaat word, het die BBP-groeikoers tussen die twee kwartale eintlik meer as halveer. Met mynbou, veral die platinumsektor, wat deur die loop van die derde kwartaal swaargekry het, is die vooruitsig vir die derde kwartaal se algehele BBP-syfers nie baie goed nie.
|
|||||||||
| INTERNASIONALE NUUS | |||||||||
Deur Inge Strydom Sirië Sowat 10 000 Siriese vlugtelinge wag tans op die grens tussen Sirië en Turkye terwyl meer kampe opgeslaan word om diegene wat van die geweld in Sirië probeer ontsnap, te akkommodeer. Sowat 80 000 vlugtelinge bly reeds in kampe op die grens, maar die bestaande kampe kan nie die huidige toestroming van vlugtelinge akkommodeer nie. Die hoeveelheid vlugtelinge wat die geweld in Sirië probeer vermy, het die afgelope maand toegeneem weens die toenemende militêre opstand in die noordelike stad Aleppo. Somalië Vyf Somaliese kinders is Maandag dood en minstens tien ander ernstig beseer in ʼn ontploffing by ʼn skool in die Somaliese stad Balad. Daar word berig dat die kinders gespeel het met plofstof wat ná gevegte in die gebied agtergebly het. Die stad is onlangs deur Afrika-Unie- en regeringsmagte gered uit die kloue van ʼn groep insurgente wat met Al Kaïda verbind is. Die plofstof is waarskynlik in die gevegte gebruik. Suid-Korea Suid-Koreane moes hulself vandeesweek voorberei op die aankoms van tifoon Bolaven. Teen Dinsdagoggend het die tifoon reeds tot die dood van ongeveer 15 mense gelei. Dit het reeds die suide en die weste van die land met sterk wind en swaar reën getref. Lamppale en kennisgewingborde is tydens die aanvang van die storm omgewaai. Die tifoon kom te midde van Suid-Korea se pogings om te herstel van die droogte en vloede waarmee die land tot onlangs geteister is.
|
|||||||||
| MY GELD | |||||||||
Hoe hanteer die nuwe belastingbedeling mediesefondsbydraes? Met ingang 1 Maart 2012 het die hantering van bydraes tot mediese fondse in die Wet op Inkomstebelasting verander. Waar bydraes tot mediese fondse vroeër van belasbare inkomste afgetrek kon word, word dit nou in die vorm van ’n belasting-krediet hanteer. Die volgende voorbeeld illustreer die verandering. Om dit makliker te kan verstaan, is ander aftrekkings soos bydraes tot pensioenfondse ens. nie in berekening gebring nie. Gestel jy verdien R20 000 per maand. Jy betaal mediesefondsbydraes vir jouself, jou gade en een afhanklike kind. Jy is jonger as 65 en kry geen subsidie vir jou bydraes nie. In die belastingbedeling tot 28/29 Februarie 2012 sou jy toegelaat word om R1 440 per maand vir jou en jou gade gesamentlik en R440 per maand vir die afhanklike kind van jou belasbare inkomste af te trek. Dit beteken dat jy net belas sou word op R18 120(R20 000–R1 440–R440). Die belasting wat jy sou betaal (soos per tabelle), is R2 759 per maand. Jou netto salaris sou dan R17 241(R20 000–R2 759) wees. In die nuwe bedeling vanaf 1 Maart 2012 word dit soos volg hanteer: Jou belasting word op die volle inkomste van R20 000 bereken. Dit beteken jou belasting (soos per tabelle) is R3 250 per maand. Jy kry dan ’n krediet op die belasting ter sprake. Die betrokke krediet beloop R460 per maand vir jou en jou gade en R154 vir die afhanklike kind. Jou belasting verminder dus na R2 636(R3 250–R460–R154). Bogenoemde voorbeelde illustreer derhalwe dat ’n persoon met ’n inkomste van ongeveer R20 000 per maand uiteindelik ongeveer R123 per maand (R2 759–R2 636) minder aan belasting sal betaal as voorheen. Jou netto salaris is nou R17 364. Hou altyd in gedagte dat voorbeelde net na die hantering van die belasting verwys, en dat die bydraes nog uit jou netto salaris betaal moet word. Die stelsel is daarop gemik om persone met laer inkomstevlakke die meeste te bevoordeel. Dit blyk dat mense wat meer as 32% belasting betaal, dieselfde of ’n klein bietjie slegter daaraan toe gaan wees. Dit verskil vir elke individu. Die voorbeelde toon duidelik dat wysigings in belastingwetgewing nie altyd net die slegste vir almal inhou nie. Of gelykheid daarmee bevorder word, is ’n vraag waaroor lank gedebatteer kan word.
|
|||||||||
| HET JY GEWEET? | |||||||||
|
|||||||||
| SPREEKWOORD | |||||||||
|
|||||||||
| AANHALING | |||||||||
Die digter moet soms na verskillende kante toe skiet. Ander kere moet hy van alle skiet vergeet. Net werk en wees. - N.P. van Wyk Louw |
|||||||||
| RIDDER EN RAMPOKKER | |||||||||
Deur Inge Strydom Ridder Hierdie week se ridder is Gareth Daniell, beter bekend as “Braai Boy”. Hy het die wêreldrekord vir die persoon wat die langste aaneen gebraai het die afgelope week by Supersportpark in Centurion gebreek. Hy het die vorige braairekord van 62 uur met 30 uur, 6 minute en 16 sekondes geklop. Braai Boy het bekendheid verwerf toe hy in 2009 die uitdaging aanvaar het om vir ʼn jaar lank elke dag te braai. Hy hou egter só baie van braai dat hy dit steeds elke dag van sy lewe doen. Trots Suid-Afrikaans op sy beste! Rampokker Die man wat aangekeer is nadat hy met sy motorfiets teen 234 km/uur op die R21-snelweg gejaag het, is hierdie week se rampokker. Volgens die Gautengse verkeerspolisie is die man van roekelose of nalatige bestuur aangekla, waarna hy op borgtog van ʼn R1 000 vrygelaat is. Hy was haastig op pad na sy ma wat glo besig was om ʼn paniekaanval te kry.
|
|||||||||
| ATTERBURY TEATER | |||||||||
Hoogtepunte by die Atterbury Teater
Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.
|
|||||||||
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na atletiek@solidariteit.co.za. |
[CONTENT]