Soldeer
|
Nr. 662 - 26/11/2015 |
HOOFSTORIE: |
M-Net diskrimineer teen wittes – Solidariteit
Deur Inge Strydom
Die vakbond Solidariteit het die betaalkanaal M-Net vandeesweek daarvan beskuldig dat hy onbillik teen wit mense diskrimineer. Dit volg nadat M-Net in ʼn onlangse advertensie aangedui het dat slegs swart, Indiër en bruin kandidate vir ʼn betaalde internskapprogram by sy Magic in Motion Academy mag aansoek doen. Luidens die advertensie kan tot soveel as 20 individue in die program geakkommodeer word.
Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, voldoen die advertensie nie aan die bepalings van die Wet op Diensbillikheid nie. “Die genoemde advertensie is niks anders as ’n absolute uitsluiting van wit mense nie en kom op ʼn kwotastselsel neer. Kwotastelsels word deur die genoemde wetgewing verbied. Die howe, insluitend die konstitusionele hof, het boonop reeds bevind dat die gebruik van ʼn kwotastelsel en die absolute uitsluiting van persone op grond van hul velkleur onregmatig is,” verduidelik Groenewald.
Volgens Groenewald het Solidariteit verskeie klagtes van wit kandidate ontvang wat aan die vereistes vir die internskap voldoen, maar wat weens hul velkleur nie vir die program mag aansoek doen nie. “Solidariteit het M-Net in ’n skrywe vermaan om die advertensie sodanig te wysig dat wit mense ook vir die genoemde posisies mag aansoek doen. Indien M-Net nie aan ons versoek gehoor gee nie, sal ons ʼn amptelike klag by die Menseregtekommissie indien,” het Groenewald gesê.
Die vakbond het voorts ʼn beroep op die publiek gedoen om hul stem teen M-Net se rassistiese optrede te laat hoor deur ʼn petisie by www.solidariteit.co.za te onderteken. Solidariteit sal die petisiebrief aan M-Net se bestuur oorhandig.
|
SOLIDARITEIT NUUS: |
Solidariteit Bankkosteverslag: Mededinging tussen banke bly sterk
Deur Inge Strydom
Mededinging in die mark vir basiese bankrekeninge is steeds aktief, terwyl die druk van mededinging die koste van rekeninge wat aan die middelklas bemark word, in toom hou. Dit is volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se sesde bankkosteverslag, wat vandeesweek vrygestel is.
Volgens Paul Joubert, senior navorser by die SNI, is die strawwe mededinging onder basiese bankrekeninge by veral FNB se EasyAccount sigbaar. “FNB het fooie vir verskeie elektroniese transaksies op die EasyAccount noemenswaardig verlaag. Dit beteken dat die maandelikse bankkoste van die EasyAccount nou beduidend laer as dié van Capitec se Global One-rekening is – selfs al word rente op ʼn positiewe saldo in Capitec se rekening in ag geneem. Absa, met sy Transact-rekening, ding ook op hierdie vlak goed met FNB en Capitec mee,” het Joubert gesê.
Ten spyte van die strawwe mededinging op die vlak van basiese bankrekeninge blyk Nedbank steeds uit voeling met hierdie tendens te wees. Die bank se Ke Yona-rekening is ongeveer dubbeld so duur as sy naaste mededinger se rekening.
Betreffende die rekeninge wat aan die middelklas bemark word, is dit by Absa, FNB, Standard Bank en Nedbank slegs die bondel-rekeninge wat vir die verbruiker finansieel sinvol is, almal teen ʼn koste van ongeveer R100 per maand. Die betaal-soos-jy-gebruik-rekeninge (PAYT) is, selfs vir iemand wat baie min transakies per maand doen, feitlik altyd baie duurder as R100 per maand. “Die uitsondering hierop is Capitec se PAYT-rekening wat verreweg die goedkoopste is onder die rekeninge wat aan die middelklas bemark word,” sê Joubert.
“Hoewel die kosteverskille tussen die bondel-rekeninge minimaal is, is daar steeds sterk mededinging tussen die banke op hierdie vlak. Waar Standard Bank se Elite Plus-rekening byvoorbeeld verlede jaar oorwegend die duurste in hierdie groep was, is dit vanjaar meestal die goedkoopste naas Capitec. FNB se Gold Unlimited-rekening is vanjaar die duurste van die bondel-rekeninge wat aan die middelklas bemark word,” het Joubert gesê.
Volgens Joubert is die mededinging tussen hierdie rekeninge nie meer hoofsaaklik op koste gegrond nie, maar eerder op byvoordele soos beloningsprogramme. “Kliënte wat in hierdie beloningsprogramme belang stel, moet hul huiswerk deeglik doen voordat hulle besluit watter bank om te ondersteun. Hulle moet ook bewus wees van die feit dat die bepalings en voorwaardes van hierdie programme dikwels kan verander,” sê Joubert.
Joubert het ontevrede bankkliënte aangeraai om nie die verskillende banke met mekaar te vergelyk nie, maar eerder die spesifieke rekeninge. Dit is dus belangrik dat verbruikers presies vasstel watter rekening hulle tans het en wat die koste van hul huidige rekening is, voordat hulle van bank of rekening verander.
Joubert het bygevoeg dat ingeligte verbruikers die beste reguleerders van bankkoste is. “Bankkliënte wat ontevrede met hul bankkoste is, moet dit nie net gelate aanvaar nie. Deur gedurig alternatiewe te oorweeg, hou kliënte die banke op hul tone.”
|
Boere tussen droogteknyp en hoër rente
Meer druk op kommersiële boere is ’n realiteit met die rentekoersverhoging van 25 basispunte te midde van reeds stygende skuldvlakke en ’n erge droogte.
Volgens Beeld waarsku landboukenners dat boere in hierdie moeilike omstandighede uiters omsigtige besluite ter wille van volhoubaarheid op die lang termyn moet neem.
“Moenie waaghalsige besluite neem nie – ’n krisis soos hierdie een is die tyd om jou onderneming in oënskou te neem en te kyk watter praktyke jy beter kan doen om te oorleef,” sê Manfred Venter, landbou-ekonoom van Syngenta.
Volgens Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, moet boere in droër dele nie nou plant nie selfs al sou dit nou begin reën. Daar moet ten minste 50 mm tot 80 mm in die lande geval het voor dit oorweeg word. “Daar is steeds ’n gevaar van oesverlies weens onvoldoende ondergrondse vog.”
“Sukkelende veeboere sal die ergste getref word deur die rentekoersverhoging,” voeg Maree by. “Hierdie boere sou reeds die meeste van hul kuddes verkoop en die geld gebruik het om skuld te delg. Daarom kan hulle dit beswaarlik bekostig om nog vee te verkoop om vir die rentekoersverhoging ook voorsiening te maak.”
“Omdat verbruikers ook onder druk is, sal ons waarskynlik ’n laer vraag na landbouprodukte op die langer termyn sien, veral vir luukse produkte,” sê Maree.
Die impak van die droogte en die knellende landbou-omstandighede op Suid-Afrika se graanproduksie sal ook verder as net binne die landsgrense gevoel word, waarsku Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Graan SA.
“Suid-Afrika verskaf byna 70% van die mielie-invoer van die res van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. As jy Suid-Afrika uit die prentjie haal, vra jou af wáár gaan hierdie ouens mielies vandaan kry en hoeveel hiervan sal in hul jaarlikse verbruiksaanvraag voldoen?”
’n Tweede opeenvolgende droë seisoen sal nie net die kraantjie vir mielie-uitvoer toemaak nie, maar kan ook beteken dat Suid-Afrika binnekort met ’n binnelandse tekort sit.
|
Die jaarlikse kantoorpartytjie kan jou jou werk kos
Deur Anja van den Berg
Gaan jy vanjaar die maatskappy se kantoorpartytjie bywoon? Werknemers moet daarvan bewus wees dat onbehoorlike gedrag by ʼn kantoor-kerspartytjie hulle in warm water kan laat beland.
Alhoewel kantoorpartytjies veronderstel is om sosiale geleenthede te wees om werknemers te beloon en moreel ʼn hupstoot te gee, bly dit streng gesproke steeds besigheidsgeleenthede. Moet ook nie die uitnodiging om ʼn kantoorpartytjie by te woon van die hand wys nie. “Om nie te gaan nie, kan jou reputasie skade aandoen. Spandeer ten minste 30 minute by die partytjie om die skyn te bewaar, maar moenie jou verblyf oorskry deur dit tot vroeg in die oggendure uit te kap nie,” sê dr. Randall S. Hansen, stigter van Quintessential Careers.
Gedra jouself asof jy elke minuut dopgehou word – want dis waarskynlik waar! “Terwyl jy nie paranoïes moet voel nie, moet jy onthou dat jy dopgehou word en jou gedrag by ʼn kantoorpartytjie kan ʼn ernstige impak om jou toekoms met die organisasie inhou,” waarsku Hansen.
Navorsing deur die Chartered Institute of Personnel and Development hou voor dat 10% van werkers weet van ʼn kollega wat óf gedissiplineer óf ontslaan is vir onbehoorlike gedrag tydens die jaar-einde kersjolyt. “Redes daarvoor sluit in bakleiery, dreigende gedrag, seksuele teistering, afknouery, diskriminasie op grond van gestremdheid of godsdiens en ‘ander onbehoorlike gedrag’, wat onortodokse gebruik van die kantoor se fotokopieermasjien, amoreuse aktiwiteit op die maatskappy se perseel of om die baas te beledig insluit,” verduidelik Philip Landau, spesialisskrywer vir The Guardian.
So, hoe kan jy die potensiële gevare van die jaar-einde vierings vermy? Deur ʼn paar belangrike sleutelpunte in gedagte te hou:
Goeie gedrag hou steeds krag
Omdat die partytjie ʼn besigheidsfunksie is en omdat die bestuur dit sal bywoon, is dit imperatief om jou beste voet voor te sit – wat beteken dat jy algemene etiket-reëls moet volg. “’n Goeie beginpunt mag wees om jouself vertroud te maak met jou werkgewer se algemene beleid rakende gedrag, afknouery, teistering, diskriminasie en beskonkenheid,” is Landau se raad. Vermy dit ook om beledigende en gewaagde grappies en staaltjies uit te ruil.
Moet dit nie oordoen nie
Ja, neem deel aan die pret, ontspan en geniet jouself by die kantoorpartytjie – maar hou matigheid voor oë en behou jou waardigheid. “Om binne gepaste grense te bly, vermy ʼn oordadige drinkery by enige partytjie, maar veral voor jou baas en kollegas,” sê Susanna Kim, skrywer vir ABC News. Moenie vergeet waar jy is nie: tegnies, steeds by die werk want jy is saam met die werkgroep, so hanteer die partytjie soos ʼn verlengstuk van jou werksdag. Vermy dit om alkohol as ʼn verskoning te gebruik om jou opgekropte wrewel en frustrasie oor jou baas, kollegas, of die werksplek oor die algemeen uit te pak. Jy sal dit later berou.
Meng en netwerk
Terwyl dit gemaklik en veilig mag wees om by die partytjie met jou kantoortjommies uit te hang, behoort jy eintlik die rondtes te doen en met ander te meng – veral topbestuur en nie-plaaslike gaste, sê Hansen. ʼn Kantoorpartytjie is ʼn uitstekende geleentheid om besigheidsverhoudings te begin bou of te versterk, so stel jouself voor en bou aan jou netwerk.
Hou die gesprek skoon en gemaklik
Moenie tydens die kantoor se vakansiepartytjie sake doen of verwag dat ander dit moet doen nie, sê XpertHR, ʼn aanlyn menslike hulpbronnediens. Hansen stem saam: “Moet hulle nie verveel met besigheidspraatjies of net oor jouself praat nie, maar dis in orde om oor jou span se suksesse te praat, indien jy gevra word.” Wys jou ligter sy en hou persoonlike gesprekke ontspanne. Vermy die gewone kontroversiële onderwerpe. Hou ook in gedagte dat die kantoorpartytjie nie die platform is om die probleme wat jy in jou persoonlike of professionele ervaar uit te blaker nie. Om jou privaat gedagtes te openhartig te deel of sleg te praat van kollegas kan jou toekomstige vooruitsigte by die maatskappy skade berokken.
|
7 gewoontes van produktiewe mense aan die begin van werksdae
Deur Assaya Barrette
Aa, ’n nuwe dag op kantoor! Maar sal dit ’n goeie, produktiewe dag wees? Hoewel die lewe op kantoor onvoorspelbaar kan wees, is daar dinge wat produktiewe mense anders doen om elke dag die meeste in hul werkdag te kan inpas.
Produktiewe mense weet dat die eerste 10 minute van hulle dag op kantoor deurslaggewend is vir die hoeveelheid werk wat hulle kan doen. Produktiewe mense maak seker dat hulle sekere dinge doen voordat hulle met hul werk begin.
So, as jy daarin belangstel om jou produktiwiteit ’n hupstoot te gee, doen die volgende sewe goed gedurende die eerste 10 minute by die werk.
Skryf drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is
’n Studie oor dankbaarheid deur die Universiteit van Miami het gevind dat mense wat daagliks rekord hou van dinge waarvoor hulle dankbaar is, meer produktief en baie gelukkiger is. Sheryl Towers, ’n professionele ontwikkelingsafrigter, sê in haar boek Seeds of Success: “Die bevindings van die studie het daarop gedui dat daaglikse dankbaarheidsoefeninge hoër aangemelde vlakke van waaksaamheid, entoesiasme, vasberadenheid, optimisme en energie tot gevolg gehad het. Daarbenewens het die dankbaarheidsgroep minder depressie en stres ondervind, meer geredelik ander mense gehelp, meer gereeld geoefen en beter vordering gemaak met die bereiking van persoonlike doelwitte. Volgens die bevindings is mense wat dankbaar voel ook meer geneig om te voel dat mense lief is vir hulle.”
Ruim jou lessenaar op
Daar is niks wat produktiwiteit so goed onderdruk as ’n deurmekaarspul nie. As jy moet rondskarrel elke keer as jy ’n pen, krammasjien, notaboek of belangrike dokument nodig het, is dit verlore tyd wat jy nooit sal inhaal nie. Gebruik ’n paar oomblikke gedurende die eerste 10 minute van jou dag om seker te maak dat alles op jou lessenaar op die regte plek is en presies waar jy verwag dit moet wees.
Maak kontak met jou medewerkers
Begin die dag reg met ’n paar vriendelike “hello’s” vir jou kantoorgenote. ’n Groot deel van produktiwiteit bestaan daaruit om te weet wanneer om vrae te vra en vir wie. Om te probeer om alles self te ontrafel, maak dit net moeiliker om jou doelwitte te bereik. Maak dus seker dat jy ’n positiewe werkverhouding met jou medewerkers skep en handhaaf. Produktiewe mense besef hoe kritiek dit is en gebruik dus ’n tydjie gedurende die eerste 10 minute van elke dag om deur die kantoor te gaan en “goeiemmôre” te sê.
Skryf jou drie topdoelwitte vir die dag neer
Produktiewe mense spandeer tyd om die drie topdinge neer te skryf wat hulle dag suksesvol sal maak as hulle afgehandel word. Dit help jou om gefokus te bly op die beloning wanneer die besige kantoorlewe dreig om jou dag te laat ontspoor.
Hersien en bevestig jou taaklysie
As jy eers jou prioriteite uitgestryk het, is dit kritiek om tyd te spandeer om seker te maak dat die take wat jy vir jou gestel het inpas by jou doelwitte en prioriteite. ’n Deurdagte taaklys organiseer jou dag en help jou om te verstaan wat die spesifieke take is waaromheen jy moet beplan.
Skryf jou daaglikse verklaring neer
Produktiewe mense is opgeruimd, positief en optimisties. Hulle mors nie tyd op negatiwiteit nie – hulle gebruik dit om iets te doen. Matthew D Della Porta, skrywer van The How of Happiness, skryf: “Eenvoudig gestel, daaglikse verklarings leer jou brein om positief te dink; dis opbeurende waarhede wat jy wil glo en bemoedigende oortuigings van jouself en die wêreld as ’n geheel. Dit is een van die doeltreffendste maniere om op ’n proaktiewe wyse jou denkwyse permanent te verander.”
Lees ’n inspirerende aanhaling
Gee jou dag woema met woorde van wysheid deur suksesvolle produktiewe mense van die verlede. Voordat produktiewe mense aan die werk spring, soek hulle inspirasie by hul voorgangers deur ’n inspirerende aanhaling te lees.
Die eerste 10 minute van die dag kan werklik jou produktiwiteitsvlak vir die res van die dag bepaal. Volg in die voetspore van die meer produktiewes onder ons om seker te maak dat jy elke dag produktiwiteitsukses behaal.
|
Moenie hierdie slenters in Suid-Afrika sluk nie
The Sunday Independent het onlangs berig oor ’n slenter wat dit vir swendelaars moontlik maak om jou bankrekening binne sekondes kaal te stroop – die sogenaamde “koudskakel-tegniesesteunslenter”.
Swendelaars bel niksvermoedende slagoffers en sê hulle is van ’n vooraanstaande rekenaar- of sagtewaremaatskappy en dat die slagoffers “’n probleem met hul PR’s moet uitsorteer”.
Die skelm lei die slagoffer deur ’n proses om die “probleem” op te los, wat tot gevolg het dat die swendelaar afstandstoegang tot die teiken-PR kry. Die skelm vra dan vir betaling vir sy dienste via EFO en vra die slagoffer om hom as ’n bankbegusnstigde by te voeg.
Die skelms gebruik dan die afstandstoegang om kwaadwillige sagteware te laai en die slagoffer se bankbesonderhede te oes. As dit eers gedoen is, word die slagoffer se bankrekening leeggemaak, volgens die SA Bankrisiko-inligtingsentrum.
Buiten die “tegniese steun”-bedrog, is daar ander slenters waarvoor Suid-Afrikaners op die uitkyk moet wees.
Die slenter met die stukkende kredietkaartmasjien
In hierdie slenter sê iemand met ’n maatskappykaartmasjien – byvoorbeeld ’n kelner – vir ’n kliënt dat die toestel nie werk nie en dat hy ’n ander een moet gaan haal.
Die swendelaar gaan haal dan sy eie toestel, wat net soos die verkooppunt se eenheid lyk maar geprogrammeer is om bankkaartinligting te steel.
Die toestel bevat sagteware wat die slagoffer se kaartinligting en PIN steel en opneem.
OTM – kaartlees en termiese beeldvorming
OTM’e is ’n gewilde teiken vir skelms en swendelaars, wat ’n swetterjoel aanvalsmetodes gebruik om bankinligting te steel.
Gevorderde kaartleestoestelle, wat dun genoeg is om in enige OTM-gleuf te pas, stel swendelaars in staat om bankkaarte te kloon wanneer ’n kliënt geld trek by die masjien.
Hierdie toestelle word gewoonlik gebruik saam met ’n klein kameratjie wat die gebruiker se PIN opneem.
Termiesebeeldvorming-tegnologie kan ook gebruik word om ’n gebruiker se PIN uit te vind – en al wat die swendelaar nodig het, is ’n slimfoon met ’n termiesebeeldvorming-hegstuk.
Gebruikers laat ’n termiese merk agter wanneer hulle OTM-knoppies druk en swendelaars kan ’n slimfoon met ’n FLIR ONE-termiesebeeldvorming-hegstuk gebruik om ’n gebruiker se PIN te ontsyfer.
Handkaartleestoestelle
Handkaartleestoestelle word algemeen deur swendelaars gebruik om slagoffers se bankkaartinligting te steel.
Die swendelaars gebruik sosialemanipulasie-tegnieke – soos om vir iemand wat in ’n tou by ’n OTM wag te sê dat hulle vir die bank werk – om ’n slagoffer se bankkaart te kry.
Die kaart word dan deur ’n leestoestel getrek en die besonderhede daarop word vasgelê. Die swendelaars moet dan die slagoffer se PIN ontsyfer om saam met die gesteelde kaart te gebruik.
Microsoft-telefoonslenter
Die Microsoft-telefoonslenter is soortgelyk aan die “tegniesesteunoproep”-slenter waar ’n swendelaar ’n slagoffer bel en voorgee dat hy vir Microsoft werk.
Die swendelaar sê dan dat daar ’n probleem met die slagoffer se PR is en dat hy ’n sekere stel instruksies moet volg om die saak reg te stel.
As ’n slagoffer die instruksies volg, gee hy op die ou end vir die swendelaar afstandstoegang tot sy PR – wat die pleger in staat stel om te moniteer wat die persoon aanlyn doen.
Dit sluit in toegang tot bank- en e-posrekenings.
Microsoft sê dat hy nie koue oproepe na kliënte sal maak nie en ook nie sagteware of dienste oor die telefoon sal verkoop nie.
Bankuitvis-e-posse
Bankuitvis-e-posse is wydverspreid in Suid-Afrika, waar swendelaars hulle as bankwerknemers voordoen in ’n poging om toegang tot ’n slagoffer se rekening te kry.
Kenmerkend van uitvis-e-posse is dat hulle ’n dreigement of belofte bevat – soos “Klik hier om jou aanlyn bankdiens te heraktiveer”, of “Daar is ’n hangende betaling vir u, klik hier om toegang te kry.”
Die e-posse kan ook van oënskynlik wettige e-posadresse kom – jounaam@joubank.co.za – en lyk soos amptelike kommunikasie van die banke waarvan die slagoffers kliënte is.
As slagoffers op ’n skakel in hierdie e-posse klik, kan kwaadwillige sagteware op die slagoffers se PR’e geïnstalleer word, of dit kan hulle neem na vals webwerwe – wat hulle bankrekeningbesonderhede sal vaslê as dit ingevoer word.
As daar eers toegang tot ’n slagoffer se bankrekening verkry is, word geld oorbetaal na ’n rekening wat deur die pleger geopen is.
|
SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS: |
| AKADEMIA |
Min dae oor vir registrasie by Akademia
Het jy die plafon in jou werkplek bereik net omdat jy nie oor ’n formele kwalifikasie beskik nie? Is jy ’n skoolverlater wat graag werkservaring wil opdoen terwyl jy studeer en nog ’n salaris daarby wil ontvang?
Kyk dan na die geleentheid wat Akademia jou bied! Akademia se BCom-grade in Ondernemingsbestuur en Bestuursrekeningkunde word nauurs in Afrikaans aangebied en geniet dieselfde erkenning as enige ander universiteit se grade. Die Hoër Sertifikaatkwalifikasie sluit ’n kwalifikasie in Kantooradministrasie en een in Rekeningkunde in. Behalwe dat so ’n sertifikaat ’n amptelike naskoolse kwalifikasie in die werkplek is, verleen dit ook aan jou toelating om aansoek te doen vir relevante graadstudies.
So, waarvoor wag jy? Besoek Akademia se webblad en registreer aanlyn voor 3 Desember!
Akademia – studeer terwyl jy voltyds kan werk.
|
| AFRIFORUM |
AfriForum plaas DWS en munisipaliteit op terme oor rioolbesoedeling
Deur Mariska Batt
AfriForum het die Departement van Water en Sanitasie (DWS) asook die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor rioolbesoedeling in die Witpan en Wolwepan in Welkom.
Johan Terblanche, voorsitter van die AfriForum-tak in Welkom, sê dit is jammer dat owerhede op hierdie manier tot verantwoording geroep moet word. “In die middel van ʼn waterkrisis is owerhede egter die hoofoorsaak van waterbesoedeling.”
AfriForum het skrywes aan die DWS asook die munisipaliteit gerig waarin ons die owerhede op terme plaas om dringend in te gryp en die probleem op te los.
“Dit is belangrik dat owerhede volhoubare, langtermynoplossings vir die probleem vind en nie net vinnige, korttermynoplossings nie,” sê Johann Hattingh, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Vrystaat.
AfriForum het vertroulik verneem dat die Witpan-rioolwerke al vir meer as vyf jaar buite werking is. Dit beteken dat rou riool al vir vyf jaar in die Witpan gestort word, wat moontlik ook besoedeling verder stroomaf kan veroorsaak.
Die DWS en die munisipaliteit het nog nie op AfriForum se skrywes gereageer nie.
|
| SOLIDARITEIT HELPENDE HAND |
Bakkies Botha nou deel van die Haka-span
Die wêreld sal eersdaags ’n nuwe gesig sien wanneer die Haka uitgevoer word. Dit is natuurlik die Tassie-Haka van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek. Die bekende rugbyspeler, Bakkies Botha, sal voortaan as ambassadeur van die projek optree. Hierdie nuwe rol van die formidabele Botha wys ’n baie sagter kant, wat nie altyd op die rugbyveld gesien is nie.
As deel van die veldtog gaan Botha ’n groepie graadeens leer hoe om ’n eg Suid-Afrikaanse vorm van die bekende Nieu-Seelandse Haka te doen. Die doel van die Tassie-Haka sal wees om mense bewus te maak van die nood onder ons graadeentjies regoor die land.
Helpende Hand het ʼn opname gedoen onder meer as 200 skole wat in 2016 tassies gaan ontvang. Die punt van die opname was om seker te maak dat die skooltassie steeds relevant bly om die uitdagings van graadeens aan te spreek. Dit het duidelik geword dat perseptuele en motoriese vaardighede twee van die grootste leerprobleme vir graadeens is.
Die Tassie-Haka is nie net ‘n bewusmakingsprojek nie, maar vertel ’n storie van die inhoud van die tassie en hoe dit die graadeens se probleme aanspreek. Die Helpende Hand Skooltassie bevat Unifix-blokkies en ’n legkaart ingesluit, sowel as ’n witbord waarop daar geskryf kan word. Hierdie items oefen hand-oog koördinasie en stimuleer die ontwikkeling van motoriese en perseptuele vaardighede.
“Helpende Hand glo dat armoede uitgewis kan word deur in opleiding te belê, en dit begin reeds met die gevoel van hoop wat by graadeens geskep word wanneer hulle die nodige skoolgoedjies kry,” sê dr. Danie Brink, Helpende Hand se Uitvoerende Direkteur.
Botha het pas sy laaste professionele rugbywedstryd gespeel nadat hy 15 jaar lank ‘n gevreesde gesig op die rugbyveld was. Botha se grootte en krag het hom ’n uitdagende teenstander gemaak wat gereeld in die moeilikheid beland het. Nietemin was hy ’n sportster waarna oud en jonk opgekyk het.
“Ek is so opgewonde want van vandag af ondersteun ek Solidariteit Helpende Hand se Tassieprojek vir volgende jaar,” sê Botha. “Daar sal meer as 4 700 tassies aan behoeftige graadeens geskenk word.
Elke skooltassie sal soos gewoonlik al die nodige skryfbehoeftes bevat, maar vanjaar sal daar ʼn paar bykomende items wees. Die inhoud van die tassie moet daartoe bydra dat hulle “Eendag as ek groot is”-droom ʼn werklikheid kan word.
Jy kan help om seker te maak dat hierdie kinders se “Eendag as ek groot is”-droom ’n werklikheid word. SMS “Tassie” na 38969 en skenk R10 of besoek tassie.co.za en borg ’n volledige tassie vir R250.00.
|
| KRAAL |
Die volgende stop: Speel-speel die lekkerste bordspeletjie
Die volgende stop is ’n prettige, lag-tot-jy-lê-bordspeletjie vir die hele gesin. Reis Suid-Afrika van hoek tot kant plat met hierdie unieke speletjie waarin jou beste stomstreektegnieke, algemene kennis en blitsverduidelikings van eiesoortige en eg Suid-Afrikaanse plekke, idees en selfs spreekwoorde handig te pas sal kom. Ideaal vir almal 10 jaar en ouer en die perfekte tydverdryf vir ervare reisigers sowel as tuisblyers. Dié duursame bordspel sluit 300 aktiwiteits- en vraagkaarte in vir ure se speelgenot. Prys: R280 (R40-posgeld uitgesluit)
Maak seker dat die pret selfs nóg langer hou met Die volgende stop: Reeks 2-aktiwiteits- en vraagkaarte. Reeks 2 se kaarte bevat 300 nuwe vrae en aktiwiteite wat jou sal laat kopkrap en skater. Prys: R120 (R20-posgeld uitgesluit)
|
RUBRIEKE: |
BEDRYFSBROKKIES |
Tribunaalverhoor uitgestel om transaksie te hersien – Vodacom, Neotel
Deur Cilleste van Dyk
Die Mededingingstribunaal se verhore oor die R7 miljard-transaksie tussen die telekommunikasiereus Vodacom en die netwerkoperateur Neotel is uitgestel terwyl die partye veranderings ontleed wat ten opsigte van die aanvanklike transaksie-ooreenkomste versoek is.
Volgens Engineering News het die partye wat wil saamsmelt die afgelope naweek ʼn dringende aansoek ingedien om die verhore, wat Maandag sou begin, uit te stel. Dit het uitgeloop op ʼn geslote voorverhoor tussen die samesmeltende en tussenkomende partye om die gewysigde transaksiestruktuur te ondersoek.
Die nuwe aanvangsdatum vir die verwagte verhore sal ook ter tafel gelê word.
“Die uitkoms van hierdie besprekings sal ʼn regstreeks invloed hê op die omvang van die goedkeuring wat van die tribunaal verlang word, asook op die bestek van die tribunaalverhoor,” het Vodacom Maandag in ʼn verklaring aan die mark verduidelik. Die partye het aansoek gedoen vir regulatoriese goedkeuring vir die oordrag van spektrumlisensies nadat Vodacom in Mei 2014 ʼn ooreenkoms met Tata Communications wat in Indië gebaseer is, gesluit het om hul aandeel in Neotel ten volle uit te koop. Neotel se werknemers sal in Vodacom se vaste sakebedrywighede opgeneem word.
|
MY WERK |
Is ek uitgebrand?
Deur Francois Redelinghuys
Werknemers die wêreld oor is besig om al hoe meer aan uitbranding te lei. In ’n gejaagde lewe en hoëdruk-werksomgewings is dit baie belangrik dat jy betyds genoeg die tekens van uitbranding identifiseer en jou lewensstyl aanpas indien jy hierdeur geaffekteer word.
Indien jy een of meer van die volgende simptome geredelik ervaar, kan jy dalk aan uitbranding ly.
Hier is tien simptome wat kenmerkend is van uitbranding:
Moegheid
’n Duidelike teken van uitbranding is onophoudelike moegheid. Moegheid kan emosioneel, geestelik of fisies van aard wees.
Min motivering
Wanneer jy voel dat jy geen entoesiasme en ook geen interne motivering vir jou werk het nie kan uitbranding dikwels die rede daarvoor wees.
Frustrasie en negatiewe emosies
Jy mag dalk voel dat dit wat jy doen nie saak maak nie en dat jy meer pessimisties is as gewoonlik. Alhoewel almal van tyd tot tyd negatiewe emosies ervaar moet jy eerlik met jouself wees wanneer die gereeldheid daarvan ongewoon is by jou.
Kognitiewe probleme
Uitbranding kan ’n negatiewe effek op jou vermoë om te konsentreer of jou aandagspan hê.
Afname in werksprestasie
Uitbranding het dikwels ’n negatiewe effek op jou prestasie by die werk. Gaan vergelyk jou uitsette tans met dié van vorige jare as jy twyfel of jy aan uitbranding lei.
Interpersoonlike probleme by die huis en die werk
Dit gebeur gewoonlik dat jy in meer argumente met ander betrokke raak of jy onttrek totaal uit sosiale kringe.
Jy pas nie jouself op nie
Party mense begin om ongesonde gewoontes aan te kweek om kop bo water te hou. Dit sluit onder meer in om te rook, drink, medikasie te gebruik om te slaap en ongesonde eetgewoontes.
Besig met werk selfs al is jy nie by die werk nie
Nog ’n teken van uitbranding is wanneer jy tob oor die werk of werk wat jy nog gedoen moet kry selfs al is jy nie by die werk nie.
Algemeen verminderde bevrediging
Dit is ’n tendens om minder gelukkig en tevrede oor jou loopbaan en jou persoonlike lewe te voel. Jy voel dalk vasgevang en sien nie uitkoms nie.
Gesondheidsprobleme
Chroniese stres en uitbranding kan oor ’n lang tydperk lei tot gesondheidsprobleme wat onder meer insluit spysverteringsprobleme, hartverwante siektes, depressie en obesiteit.
|
MY GESONDHEID |
Hoe om asem te haal terwyl jy oefen
Saamgestel deur Medihelp (Vir bekostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)
Die kuns van in- en uitasem tydens oefening is dalk meer ingewikkeld as wat ons dink.
Volg hierdie asemhalingstegnieke om optimale prestasie gemaklik binne jou bereik te plaas.
Hoe om asem te haal as jy draf
Dis moeilik genoeg om die regte drafmetode, -tempo en -strategie te bemeester, maar dis nie al waarna ’n drawwer moet oplet nie. Jy sal nooit die wenstreep haal as jy om die baan hyg en blaas nie. Trouens, navorsing het bewys dat ’n swak asemhalingstegniek jou spoed en prestasie kan belemmer.
Alhoewel daar geen gulde reël is wat vir almal werk nie, is die meeste drawwers gemaklik daarmee om een asemteug vir elke twee treë te neem. Dit beteken jy draf twee treë (een links, een regs) terwyl jy inasem en twee treë terwyl jy uitasem – dis staan ook as die 2:2-ritme bekend.
Daar is wel enkele studies gedoen wat asemhaling deur die neus en deur die mond tydens oefening vergelyk, maar die meeste daarvan was klein steekproewe en het nie besliste resultate gehad nie. Die meeste kenners stem egter saam dat dit beter is om deur die mond asem te haal terwyl jy oefen, aangesien dit die maklikste weg is om te volg.
Hoe om asem te haal tydens hoë-intensiteitsport
Hoë-intensiteitsport kan letterlik jou asem wegslaan, danksy die vermoeiende kardio-element en die magdom duikslae, skoppe en houe wat daarmee gepaardgaan.
Die asemhalingspiere is ’n belangrike deel van die stelsels wat die middelrif stabiliseer en postuur kontroleer. As jy dus ’n lading of impak verwag, is dit beter om diep asem te haal en die middelrif te staal vir die slag. Sodoende is dit nie net moeiliker om jou om te stamp nie, maar word die ruggraat ook beskerm.
Alhoewel daar nie een enkele regte manier is om asem te haal terwyl jy op die sportveld is of draf nie, behoort jy asem met behulp van die diafragma in te trek (die doeltreffendste asemhalingspier) – nie die borskas nie.
Hoe om asem te haal tydens kragoefeninge
Aërobiese aktiwiteit is nie die enigste soort oefening wat by ’n goeie asemhalingstegniek kan baat nie. Mense wat gereeld met gewigte oefen, het waarskynlik al gehoor dat dit beter is om uit te asem tydens die inspanningsfase van die oefening. Dit maak sin: Deur die respiratoriese spiere saam te trek, help jy om jou te staal vir die lading wanneer jy swaarder gewigte optel, terwyl jy die lumbale area stabiel hou.
Neem borsstote as voorbeeld: Asem stadig en deurlopend uit terwyl jy die staafgewigte opstoot, en asem dan in wanneer die gewigte bo is of terwyl jy dit laat sak. Onthou net dat die gewigte nie verdwyn nadat dit opgestoot is nie, daarom moet jou middelrif betrokke bly om die rug te beskerm soos wat jy sou doen wanneer jy jou staal vir impak tydens kontaksport.
Moenie vergeet om uit te asem nie. Deur jou asem in te hou, verhoog die druk binne die borskas (wat goed is vir stabiliteit) maar as jy dit te lank inhou, word die terugvloei van bloed na die hart belemmer en verhoog jou bloeddruk.
Hoe om asem te haal tydens joga
Om sama vritti, of “gelykmatige asemhaling,” te bewerkstellig, moet jy vir net so lank inasem as wat jy uitasem. Na bewering kan hierdie basiese asemhalingstyl die senustelsel kalmeer, bloeddruk verlaag en stres verminder. Om krag vir strawwer tipes joga soos ashtanga vinyasa en krag-joga te voorsien, gebruik talle jogi’s ujjayi-asemhaling (ook bekend as “oorwinningsasemhaling”). Asem bloot in en uit deur die neus terwyl jy die agterkant van die keel liggies saamtrek.
Is jy steeds kortasemig? Jy kan kragoefeninge vir die respiratoriese spiere doen, en daar is bewys dat dit prestasie kan verbeter in uithousportsoorte en hoë-intensiteit sport.
Ander sleutelfaktore om beter asemhaling te verseker, is om nie te rook nie, die korrekte postuur te handhaaf, en allergieë en asma te beheer. Of dit dus die eerste rondte om die baan of die laaste 15 minute van die wedstryd is, sorg dat jou asemhaling jou kanse op sukses maksimaliseer.
Besoek Medihelp se blog vir meer gesondheidswenke.
|
EKONOMIESE NUUS |
Koste van bondel-bankrekenings daal
Deur Paul Joubert
Die gemiddelde maandelikse koste van bondel-rekeninge by die vier grootste banke in Suid-Afrika is sedert 2012 reeds in die omgewing van R100 tot R110 per maand. Vir die afgelope vier jaar was daar slegs geringe veranderinge in die kostes, met een bank wat die een jaar met ʼn paar rand die goedkoopste is, net om die daaropvolgende jaar weer deur een van die ander banke getroef te word.
Dit kom dus voor asof die koste naastenby konstant gebly het, maar die opskrif van hierdie berig dui aan dat dit gedaal het. Die rede hiervoor is dat die algemene waarde van R100 nie konstant gebly het oor hierdie tydperk nie. Jy kan vandag ten opsigte van die meeste produkte en dienste minder koop met R100 as in 2012. Indien die algemene verbruikersprysindeks (VPI) gebruik word om die verskil uit te werk, kan gesien word dat ʼn verbruiker in 2012 slegs sowat R85 nodig gehad het om dieselfde produkte en dienste te koop as waarvoor daar tans R100 nodig is.
Pryse van verbruiksgoedere en -dienste het oor hierdie tydperk in die algemeen dus met meer as 17% gestyg. ʼn Verbruiker wie se inkomste oor hierdie tydperk ook met sowat 17% gestyg het, hoef egter in 2015 ʼn kleiner deel van sy of haar inkomste aan bankkoste te bestee as in 2012. Iemand wat in 2012 R10 000 per maand verdien het, en R100 aan bankkoste afgestaan het, het 1% van sy of haar inkomste aan bankkoste afgestaan. Indien die persoon se inkomste met 17% gestyg het, sal dit vandag R11 700 per maand wees. Hiervan is R100 se bankkoste slegs 0,85%.
In reële terme het die koste van ʼn bondel-bankrekening dus afgeneem sedert 2012. Hierdie daling is teweeggebring deur groter bewustheid van bankkoste onder verbruikers, wat steeds enige opwaartse tendens wat die banke graag sou wou implementeer, kniehalter.
|
MY SPORT |
Eddie se sak nou voller as Cheeky s’n in ’n mededingende beroepsera
Deur Francois Redelinghuys
Eddie Jones het die afgelope week finaal sy rug na Gert Smal en die Stormers gedraai nadat hy ’n reusebedrag van die RFU ontvang het om sy afrigtersvernuf eerder by die Engelse Rose te gaan ten toon stel. Dit nadat hy reeds die hoogs betaalde afrigterspos in Suid-Afrika by die Stormers losgeslaan het…. Ja inderdaad, Gert Smal en Kie was bereid om meer vir Jones uit te haal as wat SARU aan die nasionale afrigter bestee.
Kyk, dat Eddie Jones die wêreld oor ’n gesogte afrigter is, is nie te betwyfel nie. Die feit dat hy die skynbaar onmoontlike met die Brawe Bloeisels van Japan kon vermag, het sy reeds indrukwekkende CV nog ’n stempel gegee. Ek kan egter nie help om te dink dat hierdie hele affêre ’n effense brak smaak in Stormergeledere gelaat het nie. Na bewering het Jones in ’n SMS-boodskap aan die unie se bestuur om verskoning gevra, en dié het hom volgens berigte reeds vergewe. Ek vermoed dat die skikkingsbedrag wat aan die Stormerskamp oorbetaal is, baie hiermee te doen het …
Die Stormers het reeds hul belangstelling in die voormalige Leeu- en Nieu-Seelandse afrigter, John Mitchell, bekendgemaak, terwyl dié Durbaniet ook sy versugting uitgespreek het om hom moontlik in die toekoms in die Kaap te laat geld. Dat die Stormers vinnig moet plan maak en by die situasie aanpas, is ’n feit.
Intussen moes SARU dringend ingryp om die Kings en hul bestuurshoof, Cheeky Watson, se finansiële sake te help beredder. Dit nadat dié Super Rugby-nuweling vir die hoeveelste maal nie sy spelers of afrigtingspan kon betaal nie. Die ironie van die saak is dat die Kings hand en tand geveg het om in 2016 se weergawe van die Superreeks ingesluit te word. Soveel so dat SARU bereid was om alles op die spel te plaas in sy SANZAR-vennootskap met Nieu-Seeland en Australië. Die insluiting van die Kings was reeds van die begin af ononderhandelbaar en die unie se polities gedrewe argument – om meer spelers van kleur te ontwikkel – was skynbaar een van die groot redes vir sy insluiting.
Met ’n balansstaat wat helderrooi flikker en talle spelers wat reeds groener weivelde gaan soek het – hoe lank kan Watson nog op hul goedgunstigheid staatmaak? ’n Maatskappy wat nie sy belangrikste bate, naamlik sy werknemers, kan betaal nie, kan mos nie voortbestaan nie, of hoe?
Dit raak vir my egter al hoe duideliker dat rugby nou ’n volslae beroepsport is en dat die jen, die euro en die dollar voortaan die praatwerk gaan doen. Spelers en afrigters is besig om al hoe meer gejag te word, soos wat al jare lank in ander sportsoorte soos sokker en Amerikaanse voetbal gebeur.
Ek dink vir die toekoms van rugby in Suid-Afrika is goeie bestuursvermoë agter die skerms noodsaaklik, maar selfs nog meer as dit is aanpasbaarheid van kardinale belang – op die veld, op die tekenbord en in die raadsaal.
Ek bedoel, voordat die nou gewilde Eddie Jones met sy onderskatte spelers van Japan Heyneke se Bokke in die Wêreldbeker verslaan het, het die twee afrigters mekaar in 2007 as die afrigters van onderskeidelik die Reds en die Bulle gepak. Heyneke het met ’n rekordtelling van 92-3 geseëvier.
Is aanpasbaarheid die antwoord?
Wat dink julle moet SA rugby in die toekoms doen om die impak van die wisselkoers en die alewig veranderende arena van wêreldrugby te trotseer?
Deel jul kommentaar hieronder in die kommentaarafdeling.
|
RIDDER EN RAMPOKKER |
Deur Francois Redelinghuys
Ridder
Vandeesweek se ridder is die Suid-Afrikaanse wetenskaplike, Jill Farrant, wat tans navorsing doen om die DNS van plante wat droogtebestand is, te ontsluit sodat gewasse voorts ook hierdie eienskap kan openbaar. Aangesien groot dele van Suid-Afrika steeds onder geweldige droogtetoestande gebuk gaan, sal hierdie soort navorsing in die toekoms van onskatbare waarde wees.
Rampokker
Om die tema van droogte voort te sit, het die regering in Mpumalanga glo sowat R24 miljoen aan luuksevoertuie vir tradisionele leiers bestee terwyl bevestiging ontvang is dat daar geen geld vir droogtehulp aan boere beskikbaar is nie. Sowat 62 voertuie is onlangs aangekoop en aan die tradisionele leiers oorhandig, wat die Mpumalanga-regering vandeesweek se rampokker maak.
|
REGSVRAAG |
Geen menslikehulpbrondepartement om grieweprosedures te hanteer nie. Wat staan my nou te doen?
Deur Aimee Kendall
Vraag:
My werkgewer behandel my sleg by die werk. Sy taalgebruik teenoor my is baie aggressief en hy dreig my gedurig dat my werk op die spel is. Ek het al gehoor dat ek ʼn grieweprosedure moet volg, maar ons het nie ʼn mensehulpbronafdeling nie en daar is geen voorgeskrewe grieweprosedure in die werkplek nie. Wat kan ek doen, en kan die grieweprosedure lei tot my afdanking?
Antwoord:
Eerstens wil ek jou verseker dat jou werkgewer jou nie sonder goeie rede kan ontslaan nie. Ingevolge artikel 188 van die Wet op Arbeidsverhoudinge is daar net drie redes waarvoor ʼn persoon ontslaan kan word, naamlik wangedrag, onderprestasie en die operasionele vereistes van die werkgewer. Hier moet die prosedures wat gevolg word ooreenkomstig die wet uitgevoer word ten einde regverdig te wees. Jou werkgewer kan jou dus nie summier ontslaan omdat jy die grieweprosedure volg nie.
Indien u voel dat u werkgewer u onregverdig behandel, viktimiseer of intimideer, kan u ʼn amptelike grief teen hom lê. Sommige maatskappye het nie ʼn interne grieweprosedure wat gevolg kan word nie. Jy kan egter jou werkgewer of ʼn senior bestuursbeampte nader en ʼn brief met jou grief daarin uiteengesit aan hom of haar oorhandig. Die belangrikste is om rekord te hou van alle teistering wat jy ervaar aangesien jy die teistering sal moet kan bewys. Jy moet jou grief dan stap vir stap hoër neem, tot op die hoogste vlak. Dit sal dieselfde doel as die grieweprosedure dien. Alle interne prosedures moet egter eers uitgeput word voordat jy verdere eksterne stappe oorweeg. Jy kan aandring op ʼn verhoor of konsultasie om die kwessie te bespreek om die teistering te laat stopsit.
As die situasie nie verbeter nie, kan jy regstappe oorweeg waarin jy ʼn prokureur versoek om die betrokke persoon vir naamskending te laat vervolg.
|
HET JY GEWEET? |
Aristoteles is in 385 v.C. gebore. Dié Griekse filosoof het die belangrikheid van filosofiese redenering beklemtoon. Hy sterf in 322 v.C.
Bron: Pharos se Feitegids. 'n Kernensiklopedie.
|
SPREEKWOORD |
‘n Blinde hen kry ook partykeer ‘n mieliepit. Selfs die onwaarskynlike kan gebeur.
Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.
|
AANHALING |
Om af te breek is geen kuns nie. 'n Klein babetjie kan 'n blommetjie verniel wat dit 'n God gekos het om te maak. - C.J. Langenhoven
|
ATTERBURY TEATER: |
Hoogtepunte by die Atterbury Teater
Vertoning/ geleentheid |
Datum |
Tyd |
Prys |
Drie van die bestes: Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo |
29 November |
15:00 |
R140 / R160 |
Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om ʼn bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur ʼn e-pos na info@atterburytheatre.co.za.
|
ATLETIEKKLUB |
Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub
Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.
|
|