Soldeer


Nr. 682 - 19/05/2016

HOOFSTORIE:

Solidariteit loods #onsbou-veldtog
As jy twyfel oor die toekoms – bou dit

Deur Inge Strydom

Solidariteit het op 18 Mei, tydens sy nasionale kongres, ’n reuseveldtog, wat mense aanmoedig om saam aan ’n toekoms te bou, van stapel gestuur. Die kerntema van die veldtog is: As jy twyfel oor die toekoms, bou dit self.

Suid-Afrikaners gaan eersdaags reusekennisgewingborde langs snelweë met die woorde “#onsbou – bou saam” sien. Groot koerantadvertensies, radioadvertensies, TV-gesprekke en omvattende sosialemediaveldtogte gaan ingespan word om Suid-Afrikaners en spesifiek die Afrikaanse gemeenskap se gemoed in 'n positiewe rigting te stuur. Kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Jac de Priester, Sorina (die Flooze) en Adam Tas verskyn onder meer in van die advertensies. Die veldtog gaan ook na honderde werkplekke in Suid-Afrika geneem word.  

“Ons is nie naïef in die veldtog oor die werklikhede in Suid-Afrika nie. Ons het ’n regering wat swak regeer; ’n president in wie almal hul vertroue verloor het; ’n ekonomie wat onder groot druk is; en misdaad wat handuit ruk. Ons kan egter nie toelaat dat dié faktore ons totaal oorheers nie. Die veldtog gaan mense aanmoedig om die krag van die gemeenskap te ontdek, wat sterker kan wees as die mag van die staat,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Volgens Solidariteit gaan dié veldtog een van die grootste veldtogte van sy soort wees. Die doel is om ’n positiewe invloed op mense se gemoed te hê. “Ons is bekommerd dat mense nie net negatief is nie, maar dat hulle selfs angstig is. Ons wil mense weer die gevoel gee dat hulle sélf beheer oor hul toekoms kan neem en dat hulle nie net slagoffers van omstandighede hoef te wees nie. Ons is van mening dat veral die Afrikaanse gemeenskap dit dringend nodig het,” sê Hermann.

Volgens Hermann is nog ’n belangrike tema van die veldtog dat baie bietjies baie maak. As elkeen net doen wat hy moet doen, staan 'n mens dikwels verstom oor die groot uitkoms. Die veldtog doen ’n beroep op mense om prakties in die gemeenskap betrokke te raak.

“Ons vra mense om betrokke te raak by hul skool, by hul kerk. Gaan ry patrollie, ondersteun die plaaslike biblioteek, gaan koop ’n Afrikaanse CD of boek en gaan kyk na ’n Afrikaanse rolprent. Sluit aan by gemeenskapsinstellings. As elkeen ’n ekstra myl in sy of haar gemeenskap loop, word miljoene myle op pad na ’n nuwe toekoms afgelê.

“Solidariteit gaan nie toelaat dat die toekoms met ons gebeur nie; ons gaan dit bou. As Afrikaans onder druk is en universiteite word afgebrand, bou ons ’n nuwe wêreldklas-Afrikaanse privaat universiteit, Akademia. As staatskolleges in duie stort, bou ons ’n nuwe tegniese kollege, Sol-Tech. As daar teen ons jongmense op grond van ras gediskrimineer word wanneer dit kom by die toekenning van studiehulp, bou ons saam met Solidariteit Helpende Hand ’n studiefonds wat reeds R100 miljoen sterk staan,” aldus Hermann. 

Hermann het verder gesê dat die Solidariteit-bouprojekte honderde miljoene rande kos en dat dit gebou word deur elke Solidariteit-lid wat R10 per maand aan die projekte skenk. “Om ’n groot toekoms te bou, is dikwels baie kleiner as wat mens dink. Klein druppeltjies maak strome, strome maak riviere en riviere vorm damme. Elkeen moet net sy deel doen. Indien jy dit besef, dan besef jy dat jy beheer het oor die toekoms. Ons toekoms is nie in die hande van ’n swak staat of president nie.”

Die veldtog gaan ook ’n beroep doen op mense om gemeenskapsinstellings sterk te maak. Ons glo die antwoord vir minderhede wat hulself in ’n meerderheidsomgewing bevind, lê in lewenskragtige instellings soos kultuurinstellings, vakbonde, burgerregte-instellings, opleidingsinstellings, media-instellings, finansiële instellings en nog meer. Deur burgerlike instellings kan grondwetlike regte verwesenlik word. Goed georganiseerde burgerlike instellings help om effektiewe interaksie met die staat te bewerkstellig.

Die veldtog gaan vier maande duur. 

 

SOLIDARITEIT NUUS:

Jansen-opvolger moet bande met Afrikaanse gemeenskap herstel -
Solidariteit Beweging

Deur Inge Strydom

Die Solidariteit Beweging het vandeesweek sy hoop uitgepreek dat professor Jonathan Jansen, huidige rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), se opvolger moeite sal doen om bande met die Afrikaanse gemeenskap, wat 'n groot aandeel in die vorming van die universiteit gehad het en steeds het, te versterk. Dit volg na die aankondiging dat professor Jansen op 31 Augustus vanjaar sal uittree.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen die UV se raad het die afgelope paar jaar onder Jansen se bestuur, onder meer deur dreigemente om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, die Afrikaanse gemeenskap vervreem. “Die Afrikaanse kultuur en karakter van Kovsies het grootliks help vorm aan die sukses en uitnemendheid van die universiteit. Afrikaans en Afrikaanssprekendes het boonop 'n reusebydrae tot die akademiese integriteit van die universiteit gelewer. Laasgenoemde kan en mag nie ontken word nie,” het Buys gesê.

Buys het die hoop uitgespreek dat die aanwysing van Jansen se opvolger met die nodige deursigtigheid en agting vir die universiteit se regulasies rondom die verkiesing van rektors sal geskied. “Die onus rus nou op die universiteitsraad om toe te sien dat Jansen se opvolger geskik is om die universiteit te midde van die heersende kultuur van konflik en geweld op universiteitskampusse na nuwe hoogtes te neem sonder om enige taal- of kultuurgroep verder te vervreem,” het Buys gesê.

Solidariteit het aangedui dat hy intussen, in samewerking met die burgerregte-organisasie AfriForum, sy hofsaak teen Kovsies oor die universiteit se beplande taalbeleid vir 2017 sal voortsit.

 

Raad moet werknemers in ag neem met Comair-besluit – Solidariteit
Deur Inge Strydom

Die vakbond Solidariteit het 'n beroep op die lugdienslisensiëringsraad gedoen om aan Comair se nagenoeg 2 072 werknemers te dink wanneer daar besluit word of Comair se vlieglisensie opgeskort moet word. Flysafair het in 2014 'n klag by die lugdienslisensiëringsraad (ASLC) ingedien waarin die lugredery aanvoer dat Comair die Wet op Lugdienslisensiëring oortree omdat ’n groter belang in Comair in buitelandse besit is as die maksimum wat deur die wet voorgeskryf word.

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die Professionele Bedryf by Solidariteit, het in 'n brief vertoë tot die adjunkdirekteur van die ASLC, Andries Ntjane, gerig om die negatiewe gevolge verbonde aan die opskorting van Comair se vlieglisensie in ag te neem.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie en arbeidsmark beleef tans stormagtige tye. Die werkloosheidkoers het onlangs 'n skokkende 36,3% bereik, terwyl duisende werkers vanjaar reeds in verskeie bedrywe afgelê is. Daarom vra ons die ASLC om te verhoed dat meer as 2 000 Comair-werknemers en hul gesinne in armoede gedompel word, en dat die Suid-Afrikaanse ekonomie nog 'n terugslag ervaar,” het Botha gesê.

Ingevolge die Wet op Lugdienslisensiëring, wat deur die vorige regering ingestel is, moet die aandeelhouding van 'n plaaslike lugdiens so gestruktureer word dat Suid-Afrikaanse inwoners 75% van die stemreg behou. “Dit blyk dat plaaslike lugvaartmaatskappye toenemend hulself tot hierdie wetgewing wend om mededingers uit die mark te dwing. Dit hou nie net katastrofale gevolge vir die lugvaartbedryf in nie; dit is ook nadelig vir die ganse plaaslike ekonomie,” waarsku Botha.

Die raad sal na verwagting vandeesweek besluit of hulle Comair se lisensie gaan terugtrek.

 

Skerp afname in die getal afgestudeerdes uit die SAPD se opleidingsakademies

Daar was oor die afgelope vier jaar ’n afname van bykans 50% in die getal werknemers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat aan die SAPD se opleidingsakademies gegradueer het.

TMG Digital berig dat ’n parlementêre antwoord op ’n vraag van die Demokratiese Alliansie (DA) aan die lig gebring het dat, vergeleke by vier jaar gelede, bykans die helfte minder polisiebeamptes gedurende die vorige boekjaar ná opleiding aan opleidingsakademies in aktiewe diens getree het. 

Volgens syfers wat deur die ministerie van polisie vrygestel is, het die SAPD se opleidingsakademies slegs 2 732 gekwalifiseerdes gedurende die afgelope boekjaar opgelewer het teenoor die 5 298 in die 2011 –’12 boekjaar. 

Volgens ’n DA-woordvoerder is dit ’n uiters kommerwekkende tendens wat beteken dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat reeds in groot dele van die land onder personeeltekorte op polisiekantoorvlak gebuk gaan, besig is om te krimp en dat die diens in die toekoms oor minder kapasiteit gaan beskik om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek.


Pasop vir piramiedeskemas
Deur Gerald Mwandiambira

Daar was in die onlangse verlede ’n toename in bedrieglike beleggingsmaatskappye wat as piramiedeskemas of Ponzi-skemas bekend staan. Hierdie skemas het al baie niksvermoedende beleggers uit duisende rande verneuk en hou aan kop uitsteek dwarsoor Suid-Afrika. Dit is belangrik dat almal van ons hierdie skemas van ver af moet kan uitken.

Wat is piramiedeskemas?

Piramiedeskemas is onwettige bedrogspulle waarvolgens groot getalle mense onderaan die piramiede geld aan ’n paar mense boaan betaal. Elke nuwe lid wat gewerf word, sluit aan die onderkant aan en werk sy pad op na bo. Om aan te sluit, sal jy dalk enigiets van ’n paar rand tot baie duisende rande moet betaal. Piramiedeskemas word gewoonlik met die oog op bedrog ontwerp en die stigters verdwyn spoorloos sodra die skema ineenstort. Hierdie stigters duik dan dikwels weer op in ’n ander deel van die land met dieselfde plan, nl. om mense in daardie area te bedrieg.

Wat is ‘n Ponzi-skema?

Dit is in die meeste opsigte identies aan ’n piramiedeskema en om dié rede word die terme dikwels met mekaar verwar. ’n Ponzi-skema is ’n ander onwettige operasie waar die operateur, wat ’n individu of ’n maatskappy kan wees, aan beleggers geld betaal uit nuwe geld wat beleggers inbetaal eerder as uit wins op beleggings. Operateurs van Ponzi-skemas verlei gewoonlik nuwe beleggers deur hoër opbrengste as ander beleggings aan te bied in die vorm van korttermynopbrengste wat óf abnormaal hoog óf buitengewoon konsekwent is. Ponzi-skemas vereis nie van beleggers om nuwe beleggers in te bring nie maar maak eerder staat op hul uiters aantreklikke opbrengste om nuwe beleggers te lok.

Ponzi-skemas begin soms as wettige besighede, totdat die besigheid ophou om die verwagte opbrengste te behaal. Die besigheid word dan ’n Ponzi-skema as hy op bedrieglike wyse voortgaan. Wat die aanvanklike situasie ook al is, die voortsetting van hoë opbrengste vereis ’n immer toenemende invloei van geld van nuwe beleggers om die skema te onderhou. Ponzi-skemas het dikwels wettige besigheidsregistrasie, professionele personeel met akkreditasie en slaag meeste beleggers se ondersoeke, wat dit moeilik maak om die bedrog raak te sien.

Voorbeeld van piramiede- en/of Ponzi-bedryf

R1 000 kan jou op die onderste laag van die piramiedeskema toelating gee. R500 van jou geld gaan na die persoon direk bokant jou wat jou gewerf het, en die ander R500 gaan na die persoon boaan die piramiede, d.w.s. die promotor. Na gelang meer en meer mense by die piramiede aansluit, kry die bokant van die piramiede meer geld terwyl die onderkant geld verloor. As die mense aan die bokant betaal is, word die volgende laag die bokant.

Elke keer as ’n laag na bo styg, moet ’n nuwe laag onder bygevoeg word, elkeen twee maal so groot as die vorige een. As die getal nuwe lede afneem, stort die piramiede ineen en al die onderste lae verloor geld.

Hoe om piramiedeskemas te identifiseer:

1. Jy word aangespoor om gou aan te sluit voordat die geleentheid verlore gaan.
2. Jy word dubbel en meer as dubbel jou “belegging” binne ’n kort tydjie beloof.

3. Duur, spoggerige brosjures, aanbiedings en webwerwe wat wys hoe maklik dit is om ryk te word.
4. ’n Groot bedrag moet betaal word voordat jy enigiets terugkry.
5. Die stigters van die piramiede spog graag met hul maklike geld en is gewoonlik prominente lede van die gemeenskap, en dit trek ander lede.

Vrae wat gevra moet word voordat jy belê:

1. Is die skema geregistreer by die Finasiëlediensteraad (FSB), en waar is die bewys?
2. Is die prinsipale gekwalifiseer?
3. Hoe lank doen dit al sake?
4. Moet potensiële beleggers nuwe lede en/of beleggers kry om te kan aansluit?
5. Sal die belegger se finansiële beplanner toegelaat word om die belegging en hoe dit werk, te bestudeer?

Moenie skaam wees om die skuldiges te verkla nie

Een van die redes waarom die meeste van die bedrywers van piramiedeskemas ongestraf bly, is omdat die slagoffers dikwels te skaam is om die verlies aan te meld. En ook, as die skema in duie stort, het die oorspronklike stigters reeds lankal met die reusewinste verdwyn en laat wat die middel en die bodem was in werking.

Deelnemers aan die operasie verkies ook om stil te bly om te voorkom dat hulle geld wat hulle gemaak het, verloor. Dit beteken dat die wetstoepassers nie bewyse het nie.

Meld jou verlies aan

Wanneer ’n piramiede- of Ponzi-skema misluk, is dit skadelik vir die beeld en reputasie van alle goeie en eerlike beleggings in Suid-Afrika. Meld alle verdagte skemas by die FSB aan vir onmiddellike ondersoek. Jy kan verkies om anoniem te bly en help om gevaarlike misdadigers te laat toesluit omdat Ponzi-skemas dikwels fondse verskaf vir ander kriminele aktiwiteite, soos geldwassery, dwelmhandel, prostitusie en mensehandel.

Kontakbesonderhede: Bel 0800 313 626 vir die bedrog- en etiekaanmeldingslyn (Fraud and Ethics Hotline) of fsb.co.za

 

Matige koffie-inname ‘verlaag risiko’ van voortydse dood

Mense wat ongeveer drie tot vyf koppies koffie per dag drink, mag minder geneig wees om voortydig te sterf weens sommige siektes as wat ander sou wat glad nie of minder koffie drink, volgens 'n studie deur die Harvard T.H. Chan Skool van Openbare Gesondheid se navorsers.

Drinkers van beide gekafeïeneerde en kafeïenvrye koffie het voordele ondervind, insluitend 'n laer risiko van sterfte wens kardiovaskulêre siektes, neurologiese siektes, tipe 2 diabetes en selfdood.

“Bio-aktiewe verbindings in koffie verminder insulienweerstandigheid en sistemiese inflammasie,” sê Ming Ding, 'n doktorale student in die departement van voeding. “Dit sou sommige van ons bevindinge kon verklaar. Meer studies is egter nodig om die biologiese meganismes te ondersoek wat hierdie effekte produseer.”

Die studie het aanlyn in die joernaal Circulation verskyn.

Navorsers het gesondheidsdata ontleed wat in drie groot voortgaande studies versamel is: 74,890 vroue in die Verpleegstersgesondheidstudie; 93,054 vroue in die Verpleegstersgesondheidstudie 2 en 40,557 mans in die Persone in Gesondheidsberoepe-opvolgstudie. Koffiedrinkery is geassesseer deur gebruik te maak van voedsel-vraelyste elke vier jaar oor ongeveer 30 jaar. Gedurende die studieperiode het 19,524 vroue en 12,432 mans weens verskeie oorsake gesterf.

In die hele studiebevolking is matige koffie-inname verbind met verminderde risiko vir sterfte weens kardiovaskulêre siektes, diabetes, neurologiese siektes soos Parkinson se siekte, en selfdood. Koffieverbruik is nie met kankersterftes geassosieer nie. Die analises het potensieel verwarrende faktore in ag geneem, soos rook, liggaamsmassa-indeks, fisiese aktiwiteit, alkoholverbruik en ander dieetkundige faktore.

“Hierdie studie voorsien verdere bewys dat matige inname van koffie gesondheidvoordele mag bydra in terme van die vermindering in voortydse dood weens verskeie siektes,” sê Frank Hu, professor van voeding en epidemiologie. “Hierdie data ondersteun die 2015 Dieetriglyne Adviserende Verslag wat tot die gevolgtrekking gekom het dat matige koffie-inname by 'n gesonde dieetpatroon ingesluit kan word.”


Laat daardie uittree-onderhoud saak maak!
Deur Anja van den Berg

In die hedendaagse kennis-ekonomie is vaardige werknemers die bate wat sakesukses dryf. Maatskappye moet derhalwe van hulle leer – hoekom hulle bly, hoekom hulle gaan, en hoe die organisasie moet verander om hulle te behou. 'n Strategiese onderhoudsproses kan 'n konstante vloei van terugvoer op al drie fronte skep.

Nogtans onderskat of misverstaan baie maatskappye die kritieke deel van die uittree-onderhoud in personeelbehoud, korporatiewe beeldbestuur en toekomstige groei.

Werknemers wat bedank is 'n bron van waardevolle inligting

“Alhoewel uittree-onderhoude verskeie geleenthede vir beide partye verteenwoordig, is werknemers wat die maatskappy verlaat dikwels baie traag om eerlike inligting te openbaar oor hulle ervaring met die organisasie,” sê Deborah Muller, HUB van 'n tegnologie-firma wat in menslike hulpbronne-toepassings spesialiseer. “Uittree-onderhoude is waardevol. So waarom hulle nie laat tel nie?”

Everett Spain en Boris Groysberg, spesialisskrywers vir Harvard Business Review, stel dit dat die effektiwiteit van 'n uittree-onderhoud gemeet behoort te word aan die positiewe verandering wat dit genereer. “Ons weet dat betrokke en gewaardeerde werknemers meer geneig is om by te dra en minder geneig om weg te gaan. Indien dit goed gedoen word, kan 'n uittree-onderhoud – hetsy 'n van- aangesig-tot-aangesig gesprek, 'n vraelys, 'n opname, of een of ander kombinasie van al hierdie metodes – leiers se luistervaardighede kataliseer, aandui wat binne die organisasie werk en nie werk nie, verskuilde uitdagings en geleenthede beklemtoon, en noodsaaklike mededingende intelligensie genereer.”

Uittree-onderhouddoelwitte: die sleutel tot relevante inligting

Die uitree-onderhoud verteenwoordig die geleentheid om inligting in te win wat die organisasie beveilig teen dienslitigasie, betrokkenheid verhoog en omset verminder, maar dit vind baie selde in die praktyk plaas. In die vorming van hulle uittree-onderhoudprogramme, moet maatskappye op die volgende drie doelwitte fokus:

1. Onthul kwessies met betrekking tot Menslike Hulpbronne

Maatskappye wat uittree-onderhoude voer, jaag altyd hierdie doelwit na maar fokus dikwels te nou op salaris en voordele, sê Spain en Groysberg. “Mense benodig vir seker 'n sekere vlak van finansiële vergoeding om by 'n organisasie te bly, maar tensy hulle salaris nie in lyn met dié van hul porture is nie, is dit gewoonlik nie geld wat hulle by die deur uitdryf nie. Baie ander MH-praktyke kan 'n rol speel in 'n werknemer se besluit om te bedank, insluitend die maatskappy se opvolgbeplanning en talentbestuursproses.”

2. Verstaan werknemers se persepsie

'n Bo-na-onder-benadering mag die illusie van konformiteit skep – 'n lokval waarin baie minder doeltreffende bestuurspanne trap. Delf eerder in die psige van die werknemers wat bedank het in om jou personeel te persepsies te leer ken. Temas om te ondersoek sluit in werkontwerp, werkomstandighede, kultuur en porture. Hierdie inligting kan van onskatbare waarde wees om bestuurders te help om werknemers se motivering, bekwaamheid, koördinasie en doeltreffendheid te verbeter.

3. Kry insig in bestuurders se leierskapstyle en doeltreffendheid

Eerlike terugvoer rakende bestuurstyle rus die organisasie toe om positiewe bestuurders te bevestig en die wat toksies is, te identifiseer. “Een uitvoerende beampte by 'n groot restaurantketting het ons vertel dat verskeie uittree-onderhoude wat sy onlangs gevoer het, onthul het dat mikrobestuur 'n groot probleem was,” sê Spain en Groysberg. “Dit het gelei tot 'n paar tasbare uitkomste, soos om opleiding- en ontwikkeling-inisiatiewe daar te stel om beter bestuurders te skep.”

'n Strategiese uittree-onderhoudstrategie kan betrokkenheid bevorder en behoud verbeter deur die sein aan werknemers uit te stuur dat hulle menings saak maak. En dit kan werknemers wat weggaan vir jare wat kom in korporatiewe ambassadeurs verander. Van alle talentbestuurprosesse mag 'n strategiese uittree-onderhoudprogram – een wat ontwerp is om voortdurende, langtermynvoordele te bewerkstellig – inderdaad een van die magtigste dog minste verstaande besigheidsinstrumente wees.

 

SOLIDARITEIT BEWEGING NUUS:

AKADEMIA

Akademia Sakeplankompetisie - Waarom die entrepreneur in
entrepreneurskap so belangrik is

In die wêreld van entrepreneurskap word daar baie gepraat van ’n omvattende sakeplan wat die idee of besigheid tot in die fynste besonderhede bespreek. Die entrepreneur se kennis van die markomgewing, die industrie, die bemarkingsboodskap en, die belangrikste aspek, hoe geld gemaak gaan word, word deur talle YouTube-video’s en mentorskapprogramme verduidelik.

Die vraag is egter, is dit genoeg? Kan enige iemand ’n goeie sake-idee / besigheid laat floreer? Suid-Afrika is immers ’n land van mense met planne (boer maak ’n plan), maar ten spyte hiervan word bitter min van hierdie planne tot uitvoering gebring. Verdoemende statistiek deur die ministerie van handel en nywerheid vertel verder die verhaal dat daar waar planne wel tot uitvoering gebring word, slegs twee uit elke sewe langer as twee jaar handel dryf!

Die vraag wat dus tereg gevra kan word, is watter rol die entrepreneur in die proses van besigheid speel?

Hierdie kernvraag word juis aangespreek deur die Akademia Sakeplankompetisie, ’n nie-winsgewende projek met die oogmerk om besighede van konsepvlak tot klein en mediumgrootte sake-ondernemings volhoubaar uit te bou. Deelnemers kan inskryf in een van twee kategorieë:

  • Nuwe- of klein sake-ondernemings wat enige onderneming vanaf konsepfase tot minder as drie jaar handeldrywend insluit, en wat ’n netto wins van minder as R500 000 per jaar voor eienaarsonttrekking het.
  • Bestaande en mediumgrootte sake-ondernemings wat besighede insluit wat langer as drie (3) jaar handel dryf, asook ’n netto wins van meer as R500 000 per jaar voor eienaarsonttrekking het.

Die boustene wat gebruik word tydens die kompetisie en die werkswinkels, is die Gallup Strengthfinder, ’n toets wat reeds wêreldwyd deur bykans 14 miljoen mense gebruik is om hul unieke stel van 34 talente uit te wys. Vanuit die 34 talente word elke individuele entrepreneur se 10 sterkste en 10 swakste unieke talente aangedui, wat die entrepreneur sy eie uniekheid en outentiekheid, asook die unieke bydrae tot sy besigheid beter laat verstaan.

Die uitgangspunt van die kompetisie is dat die entrepreneur vyftig present (50%) en die sakeplan vyftig present (50%) tot die sukses van 'n besigheid / onderneming bydra. Die analogie van ’n perderesies is in 'n groot mate gepas – vir ’n jokkie en sy perd om die Durban July-perderesies te wen, moet die jokkie en perd mekaar goed verstaan, en moet die jokkie ook presies weet hoe sy perd onder verskillende omstandighede gaan optree. Dieselfde geld ook vir besigheid - as jy nie jou besigheid se hart en siel verstaan nie, gaan jy ook nie noodwendig weet hoe om die vinnig veranderende omstandighede wat elke dag risiko's en geleenthede vir jou besigheid inhou, suksesvol te bestuur nie.

As jy dit dus aan iemand anders oorlaat om jou sakeplan te skryf, moet jy seker maak dat daardie persoon in elke fase en tydens elke moeilike en uitdagende stadium van jou onderneming daar sal wees – hy of sy is immers die een wat jou besigheid só goed ken dat hy / sy die sakeplan daarvoor moes skryf. Jy mag dit dalk regkry deur die hulp van konsultante en professionele deskundiges op hul vakgebiede in te roep, maar maak seker dat jy ook ruim hiervoor begroot!

As jy egter besluit om self verantwoordelikheid vir jou eie besigheid te neem, moedig ons jou aan om jouself te bemagtig met die nodige kennis oor jou jouself, jou plek in jou besigheid, en die besigheidsvorm wat die beste vir jou gaan werk. Identifiseer die vaardighede wat jou onderneming gaan nodig hê om jou besigheid in die vinnig veranderende markomstandighede van ’n 21ste eeuse Suid-Afrika, Afrika en die internasionale besigheidswêreld te vestig en volhoubaar uit te bou.

Die Akademia Sakeplankompetisie bied in samewerking met verskeie vennote soos onder andere die Atterbury-groep, Investec Batebestuur, Nikon, Tygerberg 104FM, PretoriaFM en GrootFM, Unmatched Potential en Klipkouers, om maar ’n paar te noem, verskeie geleenthede waartydens entrepreneurs blootstelling aan bogenoemde vaardighede kan kry.

Verskeie Sake-ontbyte met denkleiers en bekende sakelui soos Whitey Basson van die Shoprite-groep, Wouter Snyman van die Attooh-groep en Louis van der Watt van die Atterbury-groep gee besigheidseienaars en entrepreneurs die geleentheid om skouers te skuur met sakelui wat weet hoe om in Suid-Afrika en Afrika van 2016 ’n sukses te maak van besigheid, en dit volhoubaar uit te bou.

'n Tweedag Sakebestuur-werkswinkel op 25 en 26 Mei berei potensiële deelnemers voor om teen 20 Julie (die sperdatum vir inskrywings in die kompetisie,), hul ses (6) bladsy entrepreneur- en sakeplanvraelys behoorlik te kan beantwoord. Na verdere rondes van keuring, dring daar uiteindelik vier (4) deelnemers per kategorie deur na die Leeukuil, waar deelnemers die geleentheid gebied word om ’n paneel van ses swaargewig beleggers daarvan te oorreed dat hul "jokkie-" en sakeplan-kombinasie die beste geleentheid tot groei en verdere ontwikkeling bied. Benewens kontantpryse word wenners verder ondersteun deur ongelooflike mediablootstellingsgeleenthede, mentorskapprogramme, bemarking-, belasting- en regshulp wat reeds in die 2015-kompetisie 'n waarde van meer as R1,5 miljoen oorskry het.  Nuwe toevoegings tot die pryse van die 2016-kompetisie sluit onder andere internasionale skakeling met Afrikaanse besigheidslui in Europa en Amerika in!

Vir meer inligting en sitplekbesprekings kan entrepreneurs en belangstellende sakelui die Akademia Sakeplankompetisie-webblad besoek by sakeplankompetisie.co.za.

 

AFRIFORUM

AfriForum eis R260 000 van Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit vir slaggatherstelwerk
Deur Mariska Batt

AfriForum het verledeweek as deel van hul nasionale slaggatmaand R260 000 van die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit geëis vir slaggate wat in Piet Retief herstel is. Dit volg nadat dié munisipaliteit ’n ooreenkoms met AfriForum – wat reeds op 24 Junie 2015 bereik is – oor die herstel van slaggate in Piet Retief se industriële gebied verontagsaam.

Die sakegemeenskap in Piet Retief het in Oktober 2015 reeds R140 000 vir slaggatherstelwerk in Salignastraat in dié dorp se industriële gebied beskikbaar gestel, terwyl AfriForum die afgelope week ander slaggate van 1 400 m2  teen ’n koste van R120 000 herstel het. ’n Gekonsolideerde eis is daarom teen die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit ingestel.

“AfriForum het in April vanjaar talle munisipaliteite op terme geplaas om gevaarlike slaggate op die hoofroetes in hul onderskeie dorpe te herstel. Die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit het egter tot op hede nie op dié aanmaning gereageer nie en versuim steeds om hul grondwetlike plig ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet No 32 van 2000) na te kom. Indien die munisipaliteit hierdie eis van R260 000 ignoreer, het AfriForum geen ander keuse as om hom tot die hof te wend nie,” het Johann Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, gesê.

Volgens mediaberigte gaan die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit binnekort R84 miljoen aan ’n teerpad van drie kilometer spandeer wat ’n klein plaasgemeenskap in Sandbank naby Piet Retief sal bedien.

“Hoewel die tenderbedrag relatief realisties is en verskeie brûe in dié munisipale gebied insluit, blyk dit dat ’n wanbalans bestaan in die wyse waarop hierdie munisipaliteit die bou en herstel van paaie prioritiseer – veral omdat so ’n groot bedrag sonder toestemming aan ’n klein plaasgemeenskap op privaateiendom spandeer word en die groter Piet Retief-gemeenskap agterweë gelaat word.”

 

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND

MINI-SIMPOSIUM OOR DIE ONDERWYS
Onderwyskommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
27 Mei 2015

'n Volhoubare buitemuurse program as positiewe bydrae tot onderwys en opvoedkunde
Dr. Pierre Edwards
Hoof, Afrikaanse Hoër Seunskool

Dit is geen geheim dat onderwys nou al vir meer as 'n dekade knaend in die nuus is en, veral wat die departement van onderwys betref, is die nuus meesal nie goed nie.

Ek verskuif die klem na goeie nuus: Ons funksionele skole met hul besondere buitemuurse aanbod het - tussen wêreldklasskole - nie hul gelyke nie.

Dat ons in Suid-Afrika blind is vir die wêreldklasopvoeding wat ons ons leerlinge bied, is by my tuisgebring tydens die konferensie van die International Boys' Schools Coalition in 2011 in Londen. Die samekoms is by een van dié stad se voorste privaatseunskole aangebied.

Een van die sessies het op skolesport gefokus. Die aanbieders was afgevaardigdes van 'n vooraanstaande seunskool in Sydney. Met die Australiërs wat bekend is vir die standaard van hulle sport en die feit dat ek kort tevore twee hoogaangeskrewe seunskole in Sydney besoek het, maar nie genoeg tyd gehad het om 'n volledige beeld te kry nie, was ek gretig om meer oor hul skolesport te wete te kom. Groot was my verbasing toe die aanbieding bloot oor 'n doodgewone Saterdagbyeenkoms tussen twee skole gehandel het. Uit hulle aanbieding het die volgende geblyk: Wat die aantal spanne betref, is daar nie veel wat dit van 'n tradisionele winter-Saterdag in Pretoria onderskei nie, behalwe dat die klein pawiljoen feitlik dolleeg was - van toeskouers was daar eintlik nie veel sprake nie.

Die afgevaardigdes was in vervoering. Dít het my aan die dink gesit oor wat daar deur die jare in hierdie verband in Suid-Afrika tot stand gebring is.

Ongelukkig het niemand my oor die stand van ons skolesport uitgevra nie. Ons Suid-Afrikaners sou sóveel kon vertel.

Hoe omvangryk ons buitemuurse program is, is verder onderstreep deur 'n musikale item of twee. Die (redelik beskeie) optrede van 'n klein ensemble en 'n sanggroep van die gasheerskool het die gehoor in vervoering gehad. Dawerende applous!

Onwillekeurig het ek gedink aan die hoë vlak van koorafrigting wat in Suid-Afrika, veral by Afrikaanse skole, aangebied word.

Na die optrede van die gasheer se kunstenaars is ek gelukkig nie in 'n hoek gedruk om komplimente uit te deel of om oor die stand van kulturele aktiwiteite by skole in my vaderland uit te wei nie.

Laat ons  op eie bodem bestek neem. Wat bied ons op buitemuurse terrein vir ons kinders?

Onder die ou TOD het 'n bestel beslag gevind waaruit ons steeds groot voordeel trek – 'n bestel waarin die volgende geld:

Kultuur

Ter plaatse is dit nie ongewoon om 'n skoolkoor met soveel as 80 tot 100 lede en 'n voltydse dirigent te hê nie. Koorfeeste trek sale vol betrokke ouers. Enige persoon wat al die finaal van ATKV se jaarlikse nasionale koorkompetisie bygewoon het, sal weet op watter professionele vlak koorsang by ons bedryf word en hoe betrokke die skoolgemeenskappe is.

Aan vanjaar se Pretoria Eisteddfod het daar nie minder nie as sewe skoolorkeste en
–ensembles deelgeneem.

Groot skouspelagtige, afgeronde verhoogproduksies (revues, blyspele en operettes) is ook nie vreemd by funksionele skole nie. Vanaf 2015 kan Gauteng se skole ook revue-groepe en A Capella-sanggroepe vir ATKV-kompetisies inskryf.

In 2015 het daar 185 skooltoneelgroepe, elkeen met 'n kundige regisseur en tegniese span, aan die ATKV Tienertoneel deelgeneem.

Vanjaar het daar landswyd ongeveer 4 000 leerlinge vir die ATKV se redenaarskompetisie ingeskryf en 540 spanne (dit is 1299 leerlinge) neem aan die nasionale debatskompetisie deel.

Ou nuus! Elke funksionele skool het sy eie koerantjie met 'n leerlingredaksie en 'n fotograaf of drie.

Sport

Voor u geestesoog is die volgende tonele bekend:

'n Skooljaar wat ingelui word met knap georganiseerde weeklikse atletiekbyeenkomsteen volgepakte pawiljoene. Uiteindelik loop die atletiekseisoen ten einde met die interhoërs waar duisende kinders en ouers vasgenael sit.

In dieselfde seisoen is daar swemgalas en waterpolowedstryde en swaai die manne die wilgerlatte op die krieketveld. Woensdagmiddae ry die skoolbussies met gholfspelers om aan die plaaslike ligas deel te neem. Die tennisspelers en tafeltennisspelers is ook bedrywig. Skaakspelers sit met groot konsentrasie teenoor hul opponente. En jukskei is vir baie jongelinge nie uit die oude doos nie.

In die winter speel die laer spannetjies soggens die ryp van die rugby- en hokkievelde af. Skole-derbies – dikwels selfs met TV-dekking - lok tussen 10 000 en 15 000 toeskouers. En daar is netbal en korfbal.

Die fietsrykultuur het ook na skole oorgewaai en die gewildheid van stap en draf het nuwe lewe in skole se landloop- en maratonklubs geblaas.

Ons kyk hier na 'n baie gesofistikeerde sisteem: toere, toernooie, professionele afrigting, gimnasiums met biokinetici en spesiale diëte – selfs sportsielkundiges is nie vreemd nie.

Al hierdie aktiwiteite het strukture wat interskole reël en ligabepalings ens. bestuur.

Waar kry jy dít alles – op skolevlak - elders in die wêreld?

Vakverwant

Benewens die talle geleenthede wat seuns en meisies op kulturele gebied en op die sportveld gebied word, kan leerlinge verder verryk word deur deelname aan 'n hele aantal vakverwante buitemuurse aktiwiteite.

Byna elke skoolvak het 'n olimpiade waaraan hoërskoolleerlinge kan deelneem. Daar is ook vasvrakompetisies, skryfkursusse en –kompetisies. Van laasgenoemde is die SA Akademie se Poort-projek 'n goeie voorbeeld. Duisende jong wetenskaplike neem jaarliks aan Ekspo deel en die bestes kan selfs oorsee met hul projekte gaan spog.

Saamgevat: 'n Mens is opnuut beïndruk met dit wat die funksionele skole, benewens baie goeie onderrig, bied om hulle leerlinge op te voed, verder te ontwikkel en te verryk. Sentraal in hierdie suksesverhaal staan natuurlik, in hierdie volgorde, kundige en geroepe onderwysers en meelewende ouers. Geen ander eerstewêreldland is ons in hierdie opsig voor nie.

Maar ons blink munt het 'n dowwe agterkant …

Ek neem u terug in tyd. Onder 'n nuwe onderwysbedeling en 'n nuwe tydsgees twintig jaar gelede het gerugte knaend die ronde gedoen dat die doodsklok vir buitemuurse aktiwiteite, soos dit vroeër onder die Transvaalse Onderwysdepartement (TOD) ontwikkel het, gelui het. Tien jaar gelede het 'n dosent aan 'n vooraanstaande Afrikaanse universiteit op die SAOU-konferensie oor die skool van die toekoms gepraat en onder groot gejuig uit sekere oorde voorspel dat skolesport binne tien jaar sou verdwyn.

Van hierdie voorspelling het daar niks gekom nie. Om die waarheid te sê, die destydse model C-skole het hulle buitemuurse aanbod na vlakke gelig waar dit nie vantevore was nie.

Vra jy egter laer- en hoërskoolhoofde na hulle mening oor die huidige stand van buitemuurse aktiwiteite, is die algemene gevoel dat daar tans daarmee oorboord gegaan word. Een hoof verwoord die klemverskuiwing soos volg: Die primêre opvoedingsdoel met sport en kultuur (om gebalanseerde volwassewording te verseker) het in prestasiegedrewe deelname ter wille van die skool se naam en die ouer se prestige verander.

Voorbeelde: Kinders word dikwels deur ouers wat absoluut in hulle diens staan, van een aktiwiteit na die ander gejaag. Hierdie kinders het weinig tyd om net kind te wees en leef onder groot prestasiedruk – tuis en by die skool. Daar is laerskole wat reeds so vroeg soos September rugby begin oefen - vir die volgende jaar se seisoen wat in April open. Seuns twaalf jaar oud en selfs jonger, doen reeds gimnasiumwerk. By sommige laerskole speel spannetjies 50 rugbywedstryde. Ironies: slegs 2% van laerskoolseuns wat Cravenweek speel, draf uiteindelik vir 'n provinsiale span uit. Iets is fout.

Publisiteit dra tot die probleem by. Dit is per slot van rekening wenne en prestasies wat nuuswaardig geag word en publikasies haal. Geen prestasie … geen publikasie. Ter wille van prestasie koop ouers byvoorbeeld toesprake vir hul kinders vir soveel as R1 000 per toespraak in 'n poging om hulle na 'n volgende ronde van 'n kompetisie deur te kry. Wat het die kind hierby gebaat?

Onderwysers word uitgebuit. Hulle kurrikulêre verpligtinge is meer as genoeg om 'n normale werksdag te vul, maar hulle word soms onder onmenslike druk geplaas om veel verder as die spreekwoordelike ekstra myl te loop met kursusse, toere, klinieke, afrigtingsessies, skeidsregterskursusse, ens. En , ten spyte daarvan dat hulle hulle beste onder die omstandighede gegee het, gaan  felle kritiek dikwels daarmee gepaard as die gewaande uitkoms nie bereik is nie.

Ouers en selfs beheerliggame wat nie altyd opvoedende onderwys in fokus hou nie, bepaal soms skole se buitemuurse aanbod sonder inagneming van onderwysers se primêre belading as leerkrag en is soms voorskriftelik oor prestasievlakke wat bereik moet word. Om sake te vererger, skuil sommige hoofde met eie agendas agter hul beheerliggame en beskerm nie hul personeel teen misbruik nie.

Die wyse waarop die hantering van buitemuurse aktiwiteite skeefgetrek het, lei verder tot spanning tussen skole – juis in 'n tyd waarin wedersydse ondersteuning so nodig is. In die woorde van een van my gespreksgenote: Ons lê in die loopgrawe en skiet op mekaar, terwyl daar 'n groter stryd is om te stry –'n stryd wat werklik die heil van ons kinders raak … ons taal, ons kultuur en opvoedende onderwys.

Aanbeveling

Ek wil die geleentheid gebruik om in die bres te tree vir hoofde en personeel, veral met die oog op die aanslag van owerheidsweë teen Afrikaanse skole.

Ouers sal moet besin oor prioriteite. Die omvang van buitemuurse aktiwiteite en ouers se toenemende aandrang op onderwysergedrewe spesialisasie (veral op sportgebied) is myns insiens nie volhoubaar nie. Een skool het in hierdie verband die lig begin sien: Hulle het 'n kinderontwikkelingsprogram in sport (in skooltyd?) van stapel gestuur wat kinders twee keer per week fisies help ontwikkel. Dit het tot gevolg dat afrigters minder tyd hoef te spandeer aan fiksheid, soepelheid, ens.

Indien 'n skool se buitemuurse aanbod meer tyd en geld as sy akademiese program in beslag neem, is dit vir daardie instansie belangrik om 'n waardeherbesinning te doen. Die hoofsaak moet die hoofsaak gehou word.

Wat buitemuurse aktiwiteite betref, swaai die stert waarskynlik, soos dit dikwels op ander terreine ook gebeur, die hond rond. Waarskynlik word die oordrywing van buitemuurse aktiwiteite deur slegs 10% van die betrokkenes gedryf. Goeie nuus: Uit ervaring weet ons dat 90% van die betrokkenes (ouers, hoofde, beheerliggaamlede, ens.) hulle ten doel stel om te sorg dat kinders gelukkig is en 'n gebalanseerde opvoeding kry.

Mag hierdie 90% se stem toenemend hoorbaar word.


KRAAL UITGEWERS

Wie is die Afrikaner?

In sekere sin was die heel eerste strategiese keuse wat die proto-Afrikaners van die 19de eeu gedoen het, om hoegenaamd tot stand te kom. Dit was ’n geleidelike proses wat pas onder druk van die Britse imperialisme ná die anneksasie van Transvaal in 1877 op dreef gekom het. Pas toe het sommige Afrikaners ontdek dat hulle één volk oor die destydse grense heen gevorm het. Feit is dat die Afrikaners voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog maar vaagweg van hul gesamentlike identiteit bewus was.

Van buite het die Nederlandse regsgeleerde E.J.P. Jorissen dit só waargeneem: “De Boer woonde op zijn eigen plaats, vrij van alle aanraking met de regeering: een koning op zijn eigen terrein. In zijn rust gestoord en gedwongen om zich met politieke zaken in te laten, waren ’t niet de belangen van het land of van den staat, maar die van zijne vrienden, zijne kliek of zijne kerk, die hij ter harte nam.”

Dié haas anargistiese individualiteit, so eie aan die pioniersituasie, het gemaak dat die Afrikanerbewussyn voor 1899 maar effens was. Dié stand van sake – ’n onderskeid tussen Boer en Afrikaner – is in 1900 treffend aan Oskar Hintrager, ’n Duitse vrywilliger by die Boeremagte, verduidelik:

Boer is een wat boer, ’n plattelandse bewoner van Suid-Afrika van Nederduitse, Hollandse of Franse afkoms. Afrikaner word diegene genoem wat afkomstig is van mense wat in Afrika gebore is en in stede woon in trotse teenstelling met die ook byna uitsluitlike stedelike Uitlanders. Uit hierdie ‘Afrikaners’ wat hulle opleiding hoofsaaklik te danke het aan ’n kollege in die Kaapkolonie [die Victoria-kollege, Stellenbosch] werf die Boererepublieke hul amptenare … die Afrikaners [het] heelwat gemeen met die Amerikaners, maar vir my is die land oor die algemeen 50-100 jaar agter die Verenigde State van Amerika in sy ontwikkeling.

Dit was dié “Afrikaners” wat die dryfkrag van die Afrikanernasionalisme ná 1902 sou vorm. Veral professionele middelklas-Afrikaners – predikante, joernaliste, onderwysers en ryker boere – het aan die voorpunt gestaan van die Afrikaners se ontdekking en ontwikkeling van hul etniese bewussyn, al noem Hermann Giliomee dit tereg “a slow and halting process”. Die proses sou eers teen die jare dertig en veertig – voorlopig – afgehandel word.

Bogenoemde is ’n uittreksel uit dr. Leopold Scholtz se nuutste boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu. Die boek is uitgegee deur Kraal Uitgewers en by die uitgewer beskikbaar teen R220 (posgeld uitgesluit). Vir meer inligting oor die uitdagende keuses wat die Afrikaner in dié tyd gemaak het, kry jou eksemplaar vandag nog. Besoek kraaluitgewers.co.za vir meer inligting.


RUBRIEKE:

BEDRYFSBROKKIES

Swaar tye lê voor vir die goudmynsektor weens silikose-saak  

Franny Rabkin skryf dat die hooggeregshof in Johannesburg se sertifisering van die silikose-klasaksie bloot die eerste treë is op 'n baie lang pad na vergoeding vir mynwerkers se lyding weens die uitmergelende uitwerking van silikose en tuberkulose (TB).

Volgens Mining Weekly  is dit betekenisvol aangesien dit tot gevolg kan hê dat tot 500 000 mynwerkers skadevergoeding van Suid-Afrika se goudmynmaatskappye kan eis. Die klasaksiehofsaak sal die goudmynbedryf letterlik in die beskuldigdebank plaas.

Die mynwerkers hoop om aan te toon dat produsente gesamentlik, deur die Kamer van Mynwese, in gebreke gebly het om hul verpligting na te kom om werkers te beskerm teen die skadelike uitwerking van silikastof, wat silikose veroorsaak en die risiko om TB op te doen, verhoog. 

Die bewyse wat voorgelê is, sal poog om aan te toon hoe die myne se rassistiese en diskriminerende praktyke tot gevolg gehad het dat die getal swart mynwerkers wat aan silikose en TB gely het, buite verhouding groot was in vergelyking met wit mynwerkers, en dat die maatskappye aanspreeklikheid en die betaling van vergoeding ontwyk het as gevolg van die trekarbeiderstelsel. 

 

MY WERK

Werk nou so skaars soos hoendertande
Deur Francois Redelinghuys

Met die eng werkloosheidsyfer wat in die eerste kwartaal van 2016 tot 26,7% gestyg het en die breë syfer wat nou op sowat 36,3% staan, kan Suid-Afrikaners tereg sê: Werk is so skaars soos hoendertande.

Daar word gereken dat sowat 521 000 minder mense nou werk het as gedurende die vierde kwartaal in 2015. Die huidige totaal werkloses in Suid-Afrika is sowat 8,163 miljoen.

Wat staan jou te doen?

Om jou werk te verloor, of om reeds vir ’n geruime tyd lank op soek te wees na werk is moontlik een van die moeilikste tydperke in ’n mens se lewe. Hier volg ’n paar wenke van dinge wat jy in hierdie tyd kan doen:

Aanvaar tydelike werk

Dit is belangrik dat mense jou werk sien sodat jy kan wys waartoe jy in staat is. As die geleentheid homself dus voordoen, moenie nee sê vir daardie klein geleenthede nie, maar gryp dit aan.

Woon klasse by

Leer hou nooit op nie. Selfs al is jy werkloos kan jy steeds jou vaardighede en kennis uitbrei deur klasse in jou belangstellingsveld by te woon.

Word ’n vrywilliger

Deur vrywilligerswerk te doen maak jy jouself meer aanstelbaar en wys jy jou ingesteldheid. Vrywilligerswerk wys dat jy passievol is en bereid is om opoffering te maak vir dit wat jou na aan die hart lê.

Begin jou eie besigheid

Dit is altyd ’n goeie idee om jou eie besigheid te begin. Gebruik jou vaardighede om daardie besigheidsidee ’n werklikheid te maak.

 

MY GESONDHEID

Eetgoed wat goed is vir jou immuunstelsel
Saamgestel deur Medihelp (Vir be-kostigbare voordele-opsies, SMS “solidariteit” na 32291.)

Voorkoming is die beste manier om gesond te bly en om verkoues en griep tydens die wintermaande vry te spring. Dis nou die regte tyd om jou immuunstelsel te versterk en die verspreiding van siekte te voorkom.

Beplan jou maaltye sodat jy die volgende 15 kragtige immuniteitversterkers insluit om jou gesin te help om daardie nare wintergoggas as ‘t ware in die kiem te smoor.

1. Sitrus

Die meeste mense maak staat op vitamien C nadat hulle 'n verkoue opgedoen het. Maar het jy geweet dat dit bo-aan die lys is van voedingstowwe wat sorg dat jou immuunstelsel 100% werk? Navorsers meen dat vitamien C jou liggaam help om meer wit bloedselle te produseer. Dit is die sleutel in die bestryding van infeksies.

2. Rooi soetrissies

Jy sal dalk verras wees om te hoor dat sitrusvrugte nie die meeste vitamien C van alle vrugte of groente bevat nie. Rooi soetrissies het twee maal soveel vitamien C en is boonop ryk aan betakaroteen. Vitamien C kan jou vel help om gesond te bly, en betakaroteen sorg vir jou vel én oë.

3. Vinkel

Die gereelde inname van vinkel, wat ongeveer 20% vitamien C bevat, verhoog jou weerstand teen aansteeklike siektes. Dit laat wit bloedselle – wat bakterieë en virusse in die liggaam vernietig – harder werk; sodoende verlaag dit die moontlikheid dat jy 'n verkoue kan opdoen.

4. Broccoli

Broccoli is eenvoudig gelaai met vitamiene en minerale. Broccoli is propvol vitamiene A, C, en E, asook talle antioksidante, en is dus een van die gesondste groentes wat jy kan opdis. Die beste manier om al daardie heilsaamheid te behou, is om jou broccoli so min as moontlik te kook; trouens, die beste manier is om dit glad nie te kook nie!

5. Spinasie

Spinasie is nie net ryk aan vitamien C nie maar ook propvol talle antioksidante en betakaroteen, wat die infeksiebestrydingsvermoë van ons immuunstelsels kan verhoog. Kook dit so min as moontlik, net soos broccoli, sodat die voedingstowwe daarin behoue bly.

6. Brusselse spruitjies

Nie net verskaf Brusselse spruitjies hope voedingstowwe vir so 'n klein hoeveelheid kalorieë nie, dit voorkom ook selskade in die liggaam. Jy benodig slegs 'n halwe koppie vir die helfte van die hoeveelheid vitamien C wat per dag aanbeveel word.

7. Jogurt

Baie soorte jogurt bevat probiotika wat die liggaam help om besmettings te weerstaan en gouer van infeksies te herstel. Die probiotika in jogurt is gesonde bakterieë wat ook spysvertering bevorder. Aangesien 60% van jou immuniteit jou dermkanaal uitvoer, beteken 'n gesonde dermkanaal 'n doeltreffende verdedigingslinie.

8. Amandels

Wat die voorkoming en bestryding van verkoues betref, is dit vitamien C wat die kalklig steel ten koste van vitamien E. Laasgenoemde is egter uiters belangrik vir 'n gesonde immuunstelsel. Vitamien E is 'n vet-oplosbare vitamien, wat beteken dat dit slegs behoorlik geabsorbeer kan word as daar vet teenwoordig is. Neute (veral amandels) bevat baie vitamien E. 'n Halwe koppie verskaf amper 100% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid.

9. Salm

Proteïenryke salm is 'n bobaas-voedingstof vir noodsaaklike nutriënte soos omega‑3‑vetsuur, wat noodsaaklik is vir die aktivering van T-selle. Hoe hoër jou T-sel-telling, hoe groter die waarskynlikheid dat jy gesond gaan bly.

10. Knoffel

Knoffel voeg fut by kos en is onontbeerlik vir goeie gesondheid. Navorsing het getoon dat knoffel help om cholesterol te verlaag en aarverkalking te voorkom. Die immuniteitsversterkende eienskappe van knoffel kom blykbaar van 'n sterk konsentrasie van swaelryke verbindings soos allisien.

11. Gemmer

Baie mense gryp na gemmer by die eerste tekens van 'n verkoue. Maar, soos met vitamien C, kan gemmer 'n verkoue keer om 'n vastrapplek te kry. Hoewel dit dikwels in soet desserte gebruik word, bevat gemmer 'n “warmte” in die vorm van gingerol, wat tot die kapsaïsien-familie behoort. Dit is die kapsaïsien in rissies wat die brandsensasie in 'n mens se mond veroorsaak. Gemmer kan help om chroniese pyn te verlig, en volgens onlangse navorsing kan dit dalk ook cholesterol verlaag.

12. Borrie

Hierdie heldergeel bitter spesery is die vernaamste bestanddeel in talle soorte kerrie. Dit word al baie lank as 'n anti-inflammatoriese middel in die behandeling van sowel osteoartritis as gewrigsrumatiek gebruik.

13. Groen tee

Groen én swart tee is propvol flavonoïde, 'n tipe antioksidant. Die voortreflikheid van groen tee lê eintlik in sy hoë inhoud van EGCG (“epigallocatechin gallate”), 'n ander kragtige antioksidant. Die gistingsproses waardeur swart tee gaan, vernietig baie van die EGCG. Groen tee word egter gestoom en nie gegis nie; sodoende bly die EGCG ongeskonde. En wat meer is: dit is ook 'n goeie bron van die aminosuur L-teanien – 'n voedingstof wat kan help in die vervaardiging van kiembestrydende verbindings in jou T-selle.

14. Heuning

Heuning bied verligting vir 'n seer keel, en het antimikrobiese eienskappe wat help in die bestryding van infeksies. Bokwiet en lusernheuning het hoër vlakke van antioksidante en nutriënte (veral as dit organies is), en 'n lepelvol elke dag sal jou immuunstelsel versterk met talle lewende ensieme, vitamiene en minerale. Moet egter nie heuning vir kinders jonger as twee jaar gee nie. Hulle kan voedselvergiftiging opdoen weens spore waarmee die heuning dalk besmet is.

15. Hawermout

Hierdie graansoorte bevat betaglukaan, 'n tipe vesel met antimikrobiese en antioksidant-eienskappe kragtiger as echinacea. Diere op hierdie verbinding is minder geneig om griep, herpes en selfs miltsiekte op te doen; in die mens verhoog dit immuniteit, dit bespoedig wondheling, en dit kan antibiotika doeltreffender maak.

Sluit by Medihelp Mediese Skema aan ter wille van jou gesin se gesondheid

Medihelp bied tien verskillende verskeie opsies om jou gesin se mediese behoeftes te pas. Om jou te help om die regte opsie vir jou gesin te kies, gesels gerus met 'n Medihelp-adviseur deur hier te klik en die vorm in te vul.

Bronne: healthline.com, harpersbazaar.com, lifehack.org

 

EKONOMIESE NUUS

Hoenders in die pekel
Deur Paul Joubert
Herhaling

Die hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging is weer die hoenders in. Hierdie keer nie oor “ingevoerde gemors” waarteen sy lede blykbaar nie kan meeding nie, maar nou oor regulasies wat keer dat meer as 15% pekelwater per gewig deel mag wees van gevrieste plaaslik geproduseerde hoenderstukke.

Twee maande gelede is hier in 'n rubriek verduidelik hoe vreemd die opmerkings van die hoofhoenderman van Suid-Afrika oor ingevoerde hoendervleis was. Nou is hy weer briesend oor reëls wat voorskryf dat hoendervleis wat deur sy lede verkoop word, nie meer 35% soutwater mag bevat nie.

Indien dit 'n beginselargument was, sou dit nog deug. In 'n vrye ekonomie sou die beginsel geld dat hoenderboere soveel soutwater as wat hulle wil mag inspuit in die hoendervleis, mits hulle dit vryelik bekend maak. As jy 50% soutwater en 50% hoendervleis as “suiwer hoendervleis” verkoop, is dit eenvoudig bedrog en kan dit as sodanig hanteer word. As jy dieselfde produk verkoop, maar op die verpakking skryf dat dit 50% soutwater en 50% hoendervleis is, is dit geen probleem nie. Verbruikers sal dan mos eenvoudig kies of hulle jou goedkoop 50% soutwater wil koop of my 100% hoender teen 'n hoër prys.

Dat 'n regering arbitrêr voorskryf dat slegs 15% soutwater gebruik mag word, is verkeerd. Dis egter nie hierteen dat die hoenderman uitvaar nie. Skielik is hy, anders as in Maart vanjaar, besorg daaroor dat die nuwe reëls pryse kan laat styg, wat sleg sal wees vir die arm verbruiker.

Om een of ander rede is duur, plaaslik geproduseerde hoendervleis goed vir arm mense in Suid-Afrika, terwyl goedkoop, ingevoerde hoendervleis sleg is. En terselfdertyd is goedkoop, plaaslike hoendervleis (maar steeds duurder as die ingevoerde vleis!) wat 35% soutwater-ys bevat, goed vir arm mense in Suid-Afrika, maar duurder, plaaslike hoendervleis wat slegs 15% soutwater-ys bevat, is baie sleg.

Dit is onmoontlik om hierdie twee standpunte gelyktydig te huldig, maar die hoofhoenderman van Suid-Afrika is so goed, hy kry dit wel reg om dit te doen. Indrukwekkend!

 

MY SPORT

Herontwerp ons elke vier jaar die wiel?
Deur Francois Redelinghuys

Sedert die Springbokke in 1992 na isolasie tot die internasionale front teruggekeer het, was daar nog nie een Springbokafrigter wat hierdie posisie langer as vier jaar beklee het nie.

Suid-Afrikaanse rugby dink ongelukkig nou maar eenmaal in vierjaarsiklusse, van Wêreldbeker tot Wêreldbeker, met Allister Coetzee die nuwe aangewese man om die oerwoud van die hoogste pos in SA rugby binne te dring. Allister en sy nuwe, onervare (lees Mzwandile Stick) afrigtingspan sal ongetwyfeld met idees vorendag kom wat hulle glo Springbokrugby weer ’n krag op die internasionale verhoog sal maak. My verbasing sal ook glad nie groot wees indien ons vanjaar weer die holruggeryde sinsnede: ‘Ons het nie die plan uitgevoer nie’ tot vervelens sal moet aanhoor nie.

Te midde van al hierdie onsekerheid wat SA rugby tans beleef – wat boonop nie vergemaklik word deur politici wat ondeurdagte besluite neem net sodat almal nou verseker is dat hulle aan kleinmannetjie-sindroom ly nie – is my vraag: Is ons nie besig om weer die wiel te ontwerp nie?

Met al die gepraat oor die uitbrei en ontwikkeling van die spel het een gebeurtenis hierdie afgelope naweek my soos ’n klippie uit Dawid se slingervel tussen die oë getref: Jake White het die Europese Uitdaagbeker met Montpellier gewen.

Jake White, wie se rugbystyl as argaïes en dom beskou word, het daarin geslaag om ’n span wat twee jaar gelede as bodembewoners beskou is, tot ’n kampioenspan te ontwikkel. Ja, dit is Europa, en ja, spanne is geneig om meer konserwatiewe rugby daar te speel terwyl velde en weersomstandighede wat anders as in die suidelike halfrond is, wel ’n invloed het. Tog meen ek dat iets hieruit geleer kan word. Hy het immers dieselfde by die Brumbies gedoen en ook by die Springbokke na afloop van die Kamp Staaldraad-fiasko.

Steve Hansen, die huidige All Black-afrigter wat na 2011 se Wêreldbeker by Graham Henry oorgeneem het, kon daarin slaag om seker die beste All Black-span van alle tye te brei. Alhoewel Hansen ’n uitstekende breier is, meen ek nie dat hy soveel beter as sy eweknieë is nie. Hoekom is die All Blacks dan so gedug? Ek dink die antwoord lê opgesluit in kontinuïteit.

Graham Henry, wat in 2004 as All Black-afrigter aangestel is – dieselfde jaar as White by die Springbokke – het agt jaar aan die stuur van sake gebly totdat sy hulpafrigter, Hansen, aan die begin van 2012 by hom kon oorneem. Tydens hierdie tydperk was daar nie veel ontwrigting vir die All Blacks nie. Hansen, wat agt jaar lank Henry se adjudant was en die strukture wat daargestel was goed geken het, kon bloot oorneem en die span na ’n nog hoër vlak neem.

Suid-Afrika staan egter in skrille kontras met hierdie beginsel. Ek kan maar die afrigters opnoem … Markgraaf, Du Plessis, Mallett, Viljoen, Straeuli, White, Snorre, Meyer en nou Coetzee. Dan was daar ook nog John Williams en Ian McIntosh. Wat het al hierdie afrigters in gemeen? Absoluut niks! (Behalwe dat Meyer in ’n stadium Mallett se hulpafrigter was.)

Geen sprake van kontinuïteit, opvolgplanne of nasionale belang nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Agter elke afrigter se bedanking of afdanking was daar goeie redes. Ja, daar was redes vir White, wat ’n politikus in eie reg is, se vertrek, en ondanks my hoë agting vir Heyneke Meyer dink ek nie dat hy verdien het om aan te bly as afrigter nie – ten spyte van die feit dat Meyer se wenpersentasie dieselfde was as dié van White, die mees ervare en enigste lewende Springbok-Wêreldbeker-wenafrigter. Daarvoor het vernederende nederlae teen Argentinië en Japan verlede jaar gesorg. Meyer kon ook nooit werklik daarin slaag om op ’n spelpatroon te besluit nie en was dus wisselvallig en sy dade het met sy uitsprake gebots.

Die punt is dat dit voorkom of daar geen opvolgstrategie in SA rugby is om van die Springbokke ’n permanente doring in die vlees van teenstanders te maak nie, terwyl elke afrigter sy eie kop volg van wat hy glo sal werk. Ek wonder, as ons net op die basiese beginsels fokus en ’n klein bietjie kontinuïteit skep – ook op provinsiale vlak – of ons nie dalk beter sal vaar nie.

 

RIDDER EN RAMPOKKER

Deur Francois Redelinghuys

Ridder

Vandeesweek se ridder is die 20-jarige OB Seutane, wat ’n jong ma, Nicole Morgan, se lewe gered het nadat sy deur ’n by in die Cedar Square-winkelsentrum in Fourways in Johannesburg gesteek is. Ná die bysteek kon Morgan nie asemhaal nie en het sy in ’n loopgang inmekaargesak. OB het egter ingegryp en haar na sy motor toe gedra en hospitaal toe gehaas. Morgan reken dat OB se flink optrede haar lewe gered het.

Rampokkers

Vandeesweek se rampokkers is die brandstigters wat die Sanlam-ouditorium by die Universiteit van Johannesburg (UJ) verwoes het nadat hul vermoedelik ’n petrolbom daar laat ontvlam het. Die ouditorium is in puin gelê en is vir alle praktiese doeleindes geruïneer. Die skade beloop na raming sowat R100 miljoen.

 

REGSVRAAG

Kompensasie vs skadevergoeding
Deur Annika Labuschagne

Vraag
Wat is die verskil tussen kompensasie en skadevergoeding in die Wet op Diensbillikheid?

Antwoord
In die saak South African Airways v Van Vuuren het die onderskeid tussen kompensasie (“compensation”) en skadevergoeding (“damages”) in die uitspraak van die arbeidsappèlhof ter sprake gekom. Dit was duidelik dat die twee woorde dikwels afwisselend gebruik word vanweë die dubbelsinnigheid in betekenis. Dit sal vanselfsprekend die oordeel van die hof beïnvloed in besluite oor die toeken van skadevergoeding en kompensasie.

Artikel 50(1) van die Wet op Diensbillikheid (No. 55 van 1998) (die sogenaamde “EEA”) verleen aan die arbeidshof die bevoegdheid om enige geskikte bevel, met inbegrip van 'n bevel vir kompensasie en skadevergoeding, in enige omstandighede wat die EEA kan voorsien, uit te vaardig. In artikel 50(2) word eise van onbillike diskriminasie breedvoerig behandel en die arbeidshof word dienooreenkomstig bemagtig.

Die hof het beslis dat die verwarring ontstaan het in die bespreking van die term “kompensasie” soos dit gebruik is in artikel 193 van die Wet op Arbeidsverhoudinge; dit sluit vermoënskade sowel as nie-vermoënskade in, met die gevolg dat die onderskeid tussen skadevergoeding en kompensasie vir dieselfde soort verlies of benadeling wegval. Dié verwarring het blykbaar die nodige oordeelkundigheid aangetas. Aan die ander kant word daar in die EEA duidelik onderskeid getref tussen die twee betekenisse.

“In die Wet op Diensbillikheid,” het die regter gesê,” het ‘skadevergoeding’ betrekking op 'n werklike of potensiële monetêre verlies (vermoënskade), en ‘kompensasie’ dui op die toekenning van 'n bedrag as 'n solatium of troosgeld (nie-vermoënskade). Dit is denkbaar dat gevalle van onbillike diskriminasie werklike of vermoënskade vir die eiser kan meebring, asook gekrenkte gevoelens of nie-vermoënskade.”

“Wanneer 'n akwiliaanse geding oorweeg word, moet die eiser die werklike verlies wat gely is, kan bewys sodat skadevergoeding toegeken kan word. Die geding word aangewend om die eiser terug te plaas in die posisie waarin hy sou gewees het indien hy nie die skade gely het nie. Kompensasie is egter 'n solatium wat toegestaan word om die gegriefde of gekrenkte gevoelens van die eiser te versag.”

In sommige gevalle het die hof 'n diskresionêre plig om skadevergoeding sowel as kompensasie toe te ken, welke toekenning paslik, regverdig en onpartydig moet wees. Skadevergoeding is dus bedoel om die klaer terug te plaas in die posisie waarin hy sou gewees het as dit nie was vir die onbillike diskriminasie nie; kompensasie word bedoel as “troosgeld” vir die klaer se aangetaste waardigheid of geskonde of gekrenkte gevoelens.

Die klaer in hierdie saak het R100 000 vir skadevergoeding geëis; die hof het egter 'n bedrag van R1,4 miljoen toegeken waarvan slegs R50 000 vir skadevergoeding was.

'n Hof wat die toestaan en toeken van skadevergoeding en kompensasie vir onbillike diskriminasie oorweeg, moet gewis tussen die twee begrippe onderskei en die bedrag van die toekenning dienooreenkomstig bereken.

 

HET JY GEWEET?

In 2003 is die wêreld se vierde en die Suidelike Halfrond se eerste baba, wat in haar ma se lewer ontwikkel het, in Suid-Afrika gebore.

Bron: Pharos se feitegids.

 

SPREEKWOORD

Dit is saliger om te gee as om te ontvang. Dit gee meer bevrediging om ander te help as om self gehelp te word.

Bron: Pharos se spreekwoordeboek en waar hulle vandaan kom.

 

AANHALING

Namakwaland – Op die groot saaidag van die heelal het reeds 'n entjie duskant Wupperthal oor die kaal Noordweste 'n sakkie van die Heer se beste saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

- D.J. Opperman

 

ATTERBURY TEATER:

Hoogtepunte by die Atterbury Teater

Vertoning/ geleentheid

Datum

Tyd

Prys

Navi Redd

20 Mei

20:00

R140

Bonjour Monsieur Brel met Jannie du Toit, Susan Mouton & Coenraad Rall

24 Mei

20:00

R130 / R150

Mel Botes & Friends met Mel Botes, Robin Auld, Mauritz Lotz & Valiant Swart

25 Mei

20:00

R160 / R200

Kaartjies is by enige Computicket-kantoor beskikbaar of skakel 083 915 8000 om 'n bespreking te doen. Atterbury Teater is geleë op die hoek van Lynnwoodweg en Daventrystraat in Lynnwood. Skakel die teater by 012 471 1700 of stuur 'n e-pos na info@atterburytheatre.co.za.

 

ATLETIEKKLUB

Sluit só aan by die Solidariteit Atletiekklub

Word vandag nog deel van die Solidariteit Atletiekklub. Skakel klubvoorsitter Hendrik van der Westhuizen by 082 851 8451 vir meer inligting of stuur 'n e-pos na atletiek@solidariteit.co.za.

 

Teken uit / Teken in