Lid vir Lid-veldtog – Projek 6000

Wat beteken Solidariteit vir jou – hoekom is jy ’n lid? Dink bietjie daaroor – is dit net vir werksbeskerming, of is dit vir daardie iets meer? – daardie stukkie hoop wat ons alledaagse gebeure nog nie kon doodmaak nie. Nie mag doodmaak nie. Daardie stukkie hoop wat kom omdat ons ’n roeping het om van hierdie wêreld en ook ons land ’n beter plek te maak. Dit wat ons dryf om te weet ons en ons nageslag is deel van hierdie kontinent, en die dringendheid wat dit by ons wakkermaak om daadwerklik by te dra om in hierdie land vir ons kinders ’n gelyke geleentheid te gee. Die wete wat ons het dat ons hier en nou ’n verskil moet maak en sodoende die toekoms te help skryf.
Lees meer. Kliek hier.
Hiermee word bestaande lede versoek om telefoonnommers van ten minste twee ander persone wat genader kan word om aan te sluit, aan die dienssentrum te stuur.
Opleidingsbehoeftes van Solidariteit-lede in Suid-Afrika
Oorsig van die resultate
Solidariteit beoog omvangryke uitbreiding wat Afrikaanse naskoolse onderrig betref. ’n Navorsingsprojek is van stapel gestuur om te bepaal wat die behoefte aan naskoolse opleiding onder Solidariteit-lede is.
Die oorgrote meerderheid van Solidariteit-lede is baie positief ingestel teenoor voortgesette onderrig en opleiding, en die meeste sal onderrig in Afrikaans verkies. Die meeste voel dat verdere opleiding voordelig in hulle huidige werksituasie sal wees. Solidariteit-lede in elke bedryf is positief ingestel teenoor Afrikaanse opleiding. Sol-Tech kan met sukses voortgesette opleiding aan lede in al die bedrywe bied. Mense verkies oor die algemeen indiensopleiding of onderrig by ’n afstandsonderrig-universiteit. Hulle het nie ’n positiewe ingesteldheid teenoor universiteite van tegnologie of tegniese kolleges nie. Hulle verkies verder om te werk en nauurs te studeer of om werkswinkels of seminare by te woon. Telematiese opleiding word nie ondersteun nie, moontlik omdat dit nie aan die respondente bekend is nie.
Solidariteit-lede is oor die algemeen gelukkig in hulle huidige werksituasie, maar dui aan dat daar nie genoeg werks- en bevorderingsgeleenthede is nie. Solidariteit-lede se toekomsverwagting is egter meer negatief. Sommige, veral die wat tussen 30 en 40 jaar oud is, voel grotendeels onseker oor die toekoms, terwyl mense jonger as 30 meestal nie onseker voel oor die toekoms nie. Die meeste Solidariteit-lede vind dit moeilik om hulle loopbane te beplan. Hulle meen verder dat hulle nie genoegsame loopbaanontwikkelingsvooruitsigte in hulle huidige werksomgewing het nie. Solidariteit-lede voel ook dat hulle nie beheer oor hulle toekoms het nie.
Hoewel die meeste respondente aandui dat hulle nie rassediskriminasie binne hulle werkplekke ondervind nie, noem hulle dat hulle wel diskriminasie teëkom wanneer hulle aansoek doen vir werk, of wanneer bevordering ter sprake is.
Die studie kan as suksesvol beskou word en kan as grondslag vir verdere navorsing in hierdie gebied dien.
Die volledige verslag is op aanvraag beskikbaar.