KERSBOODSKAP

 

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore

- Johannes 1: 1-13

 

Geagte VRA-kollegas,

Die jaar 2016 staan nou vinnig einde se kant toe. 'n Jaar waarin ons groot uitdagings beleef het. As Suid-Afrikaners, Afrikaners, indiwidue en beroepsgroep. Die jaar wat voorlê hou groot onsekerheid in: politieke onsekerheid, ekonomiese onsekerheid en daar hang ook 'n skadu van onsekerheid oor ons beroep.

Vriende, vir ons Here Jesus was onsekerheid en verdrukking nie vreemd nie. Tog word Hy juis in hierdie duistere situasie as die lig beskryf. Christus, die lig, die sondelose, word teenoor die wêreld, die duisternis, die sonde gestel. Te midde van die wêreld se wanhopige verval in sonde en ellende (duisternis) is Christus die lig. Hy het elke vorm van verwerping, vervolging en wanhoop beleef en tog kon die duisternis van die wêreld nie Sy lig uitdoof nie. Christus is die lig - die simbool van hoop, waarheid en volharding. Deur Hom kry ons almal 'n tweede kans. Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat Hy Sy genade-lig op ons kom skyn het. Hy verlig ons en verwag dat ons Sy lig in die wêreld moet weerkaats.

Kom ons kies om in 2017 Sy lig te laat skyn in ons land. Kom ons bring hoop en positiwiteit, al is dit uitdagend en donker om ons. Mag elkeen van u 'n feesseisoen gevul deur Christus se liggewende liefde ervaar.

Groete,

Tiaan van Dyk
Voorsitter

 

TERUGBLIK: 2016

Die VRA het in 2016 'n samewerkingsooreenkoms met Solidariteit gesluit om die VRA se kapasiteit rondom ledeadministrasie, bemarking en projekbestuur te verbeter. Die ooreenkoms het reeds goeie vrugte afgewerp en die vereniging funksioneer reeds op 'n nuwe vlak. Verskeie suksesvolle seminare is aangebied, sowel as 'n uitmuntende prestige-lesing, loopbaandag vir die jeug en die jaarlikse VRA Dinee. 'n Groot vertalingsprojek is aangepak en die produk daarvan sal vroeg in 2017 bekendgestel word. Een van die hoogtepunte van die jaar is die vestiging van 'n formele studiefonds sodat die VRA Afrikaanse regstudente op 'n volhoubare wyse kan ondersteun om hul studies suksesvol af te handel.

Lees die volledige voorsittersverslag hier.



 

LIDMAATSKAP 2017

Neem asb. kennis van die volgende belangrike inligting ten opsigte van VRA-lidmaatskap

  1. Die VRA het sy jaareinde verander na 31 Desember. Lidmaatskapgeld vir jaarlikse betalers is daarom in 2017 reeds teen einde April 2017 volledig betaalbaar.
  2. Maak asb. seker dat u besonderhede op datum is. Ons benodig u kontakbesonderhede (selfoon en e-posadres) om u op hoogte te hou van ons aktiwiteite en seminare.
  3. VRA-lidmaatskap vir 2017 is R660 vir jaarlikse betalers of R55 per maand vir maandelikse betalers. Enige bykomende bydraes ten bate van ons studiefonds sal verwelkom word.
  4. Ons sal dit verwelkom as soveel moontlik van ons lede sal instem om per debietorders te betaal, aangesien dit ons administrasie baie vergemaklik. Indien u bereid is om u 2017 lidmaatskap deur middel van 'n debietorders te betaal, stuur asb. 'n e-pos na admin@vra.co.za
  5. Let asb. daarop dat die VRA se bankbesonderhede vroeg vanjaar verander het. Maak asb. baie seker dat u die begunstigdebesonderhede op u aanlynbankdienste aanpas na ons nuwe bankrekening en u ID-nommer as verwysing vir u betaling gebruik.
Die bankbesonderhede is as volg:

VRA
FNB Lopende rekening       
Takkode: 250 655
Rekeningnommer:  6261 0909 759
Verwysing: LID_ID-nommer

 

REGSPRAAK

OPSKUDDING IN DIE DEELTITELBEDRYF

1. INLEIDING

Na ongeveer agt jaar van bespiegelinge dat die Wet op Deeltitels, No. 95 van 1986 verander moet/gaan word, het die werklikheid op Vrydag 7 Oktober 2016 ingetree met die publikasie van die 2 nuwe wette in die Staatskoerant, die “Wet op Deeltitelskemas Bestuur, 2011” (Sectional Titles Schemes Management Act, No. 8 of 2011-STSMA) en die opvolgende, heeltemal nuwe “Gemeenskap Skemas Ombudsman Dienste Wet, 2011” (Community Schemes Ombud Services Act, No. 9 of 2011-CSOS).  (Beide wette is in hierdie stadium slegs in Engels beskikbaar). (skrywer se vrye vertaling).

Skrywer het nog altyd humoristies verwys na die Deeltitel-bedryf as: “Complex living is a complexed situation”; uit die agtergrond van belewing van die bedryf as eienaar, bestuurder, administrateur en prokureur.  Die kompleksiteit het inderdaad skielik nog intenser geword, maar die doel van die nuwe wetgewing is inderdaad om die “grys gebiede”, “vrae sonder antwoorde” en vaag omskryfde begrippe in die Deeltitel-bedryf aan te spreek; hoewel met 'n gevolglike koste aspek.  Hierdie addisionele koste is om voorsiening te maak vir die toekomstige stabiliteit en finansiële lewensvatbaarheid van die kategorie behuisingskemas; gevolg deur betaling vir die nuut geskepte Ombudsman-dienste om geskille te besleg.  Vir bestuursagente en eienaars is dit egter inderdaad voordelig om Deeltitel-Skemas op die lang termyn meer gestruktureerd te bestuur en die eienaars se belange te beskerm in 'n meer gedissiplineerde gedeelte van die eiendomswese.

2. WYSIGINGS

Dis belangrik om te besef dat die No. 95 van 1986 nie in geheel vervang is nie. Al die gedeeltes wat handel oor registrasie, opening van 'n skema ens. wat alles by die Aktekantore ingedien word, bly so met verskeie wysigings.

Dit is hoofsaaklik die bestuursfunksies van skemas wat vervat in die nuwe wet- STSMA. Die klem in die nuwe wet val op die bestuur van sulke behuisingskemas wat gewysig is, met die gepaardgaande CSOS wat voorsiening maak vir die oplos van griewe en geskille tussen eienaars vs. trustees, bestuursagente of ander inwoners/eienaars op 'n gestruktureerde en bekostigbare manier.  Sommige artikels is totaal geskrap, ander gewysig, terwyl daar totaal nuwe artikels bygevoeg is.

Van die grootste verandering is as volg:
Die voorsiening vir 'n “Maintenance, repair and replacement plan” oor die volgende 10 jaar wat jaarliks op die Algemene Jaarvergadering voorgelê moet word.  Om sodanige plan in praktyk te implementeer, skryf “Sectional Titles Schemes Management Regulations” in Aanhangsel 1 voor dat daar 'n reserwe fonds moet wees en hoeveel die minimum reserwe fonds van 'n skema moet wees. Noodgedwonge sal dit by implikasie beteken dat die meeste Deeltitel-Skemas se heffings verhoog sal moet word.  Hierdie reserwe fonds moet dan verder ook in 'n aparte rekening gehou word. 

Volmagte: 'n persoon mag slegs volmagte van 2 eienaars hou. In praktyk het dit die implikasie dat 'n eienaar wat bv. 3 eenhede het sy volmagte vir een persoon kan gee en daardie persoon ook nog 'n volmag vir 'n tweede persoon mag hou.

Stemming: hierdie is baie kontroversieel. In die wet (STMA) word stemme getel volgens getal, elke lid het een stem, met ander woorde die geregistreerde eienaar van 4 eenhede het slegs een stem. Dis duidelik dat daar besef is dat dit nie reg is nie, want in die voorgestelde regulasies word voorgestel dat alle stemming volgens waarde gedoen moet word.

Gedragsreëls: word van nou af aan die ombudsman voorgelê vir goedkeuring. Die ombudsman reik 'n sertifikaat uit sodra dit goed gekeur is en die reëls is eers geldig vanaf datum van uitreiking van die sertifikaat.

Notules: moet binne 10 dae by die ombudsman geliasseer word van vergaderings van eienaars.

Skemas moet registreer by die ombudsman volgens voorgeskrewe vorms en die inligting van alle trustees beskikbaar maak wat op aanvraag aan lede van die publiek beskikbaar gestel word.

Nuwe skemas: hul finansiële jaareinde is nou einde September. 

Daar word voorsiening gemaak vir die aanstelling van 'n: “executive managing agent”.

Sien ook die Hoof Registrateurs-omsendskrywe 13/2016. (gaan kyk op www.ghostdigest.com).

KANTOOR VAN OMBUDSMAN EN SY FUNKSIES
Met die Minister van Behuising (Human Settlements) aan die stuur, is die kantoor van die Community Schemes Ombud Service (CSOS) tot stand gebring en bestaan uit 10 (tien) lede.  Sekere van die regulasies ingevolge waarvan die raad sal optree, tree in werking 90 (negentig) dae vanaf publikasie van die Wet, dus op 7 Januarie 2017.  Die eerste hoof Ombudsman, Mnr Themba Mthethwa, is reeds aangestel by die hoofkantoor in Sandton.  Die ander kantore van CSOS is in Durban en Kaapstad geleë.  Die doel van die wet is om die diens daar te stel, die funksies en bedryf van die diens uit te stippel en dan daadwerklik 'n dispuut-resolusie meganisme vir gemeenskaps-behuisingskemas daar te stel. 

Die kantoor van die ombudsman word op verskeie maniere befonds: 'n Parlementêre begroting, heffings deur gemeenskapskemas betaal, kostes wat verhaal word uit dienste gelewer, beleggingsrente, lenings, donasies, subsidies en toekennings uit staatsfondse.  Dispute wat in skemas bestaan kan handel oor finansies, gedrag, skema-bestuur, vergaderings, bestuursagente, privaat- en gemeenskaplike gebiede en algemene sake, soos byvoorbeeld dat die applikant verkeerdelik toegang tot inligting geweier was/word, maar selfs enige ander aspek wat die hoof ombudsman mag aanvaar.

Die CSOS is ook van toepassing op huiseienaarsverenigings. 

Indien 'n benadeelde nie tevrede is met die uitslag nie, moet die Ombudsman die aangeleentheid verwys vir konsiliasie in gevalle waar daar moontlik 'n bevredigende oplossing gevind kan word. 

Indien konsiliasie egter nie slaag nie, kan appèl aangeteken word, in gevalle waar die benadeelde aansoeker nie tevrede is met die uitspraak/uitkoms nie ens. 

Regsverteenwoordiging word slegs toegelaat met instemming van die ander party of as die Ombud oortuig kan word dat dit nodig is.    

3. PRAKTIESE IMPLIKASIES VIR EIENAARS

Vir eienaars of bewoners van gemeenskapskemas hou die nuwe wetgewing wel voordele in.  Onder andere dat beleggings wat in sulke skemas gemaak is, veiliger is, omdat die skemas finansieel en wat onderhoud betref, by implikasie noodgedwonge beter bestuur sal word.   Tweedens is dit verblydend dat die bestuursproses noodwendig met meer konkrete riglyne voorsien is.  Derdens is daar 'n bekostigbare proses geskep vir persone wat belang het by so 'n skema het, om geskille onafhanklik te laat beslis, sonder om hulle noodwendig na 'n hof te wend.

By implikasie bring die wysiging van die wetgewing egter hoër kostes vir eienaars mee.  Sodanige stygende koste is veral te wyte aan die voorgeskrewe onderhoudsplan, die addisionele administrasie en tot 'n baie geringe mate die bydrae tot die daarstel en instandhouding van die Ombudsman-dienste (CSOS), welke koste afhang van die betaalbare heffings en tans 'n maksimum van R40.00 beloop.  Indien die huidige heffing R500.00 of minder is, betaal eenhede selfs geen addisionele bedrag nie.  Die koste verbonde aan 'n aansoek vir 'n beslissing deur die Ombudsman is 'n bekostigbare R50.00 en persone met 'n maandelikse inkomste van R500.00 of minder, word kwytgeskeld van aansoekgelde. 

Vir verdere inligting gaan na: csos.org.za.