Indien hierdie e-pos nie reg vertoon nie, kyk na die aanlyn-weergawe.
 

Omgee: ’n Klippie in die water
Deur Christia Potgieter – Hoof: Maatskaplike Werk Dienste

Kan jy onthou toe jy as kind ’n klip na die water gegooi het, dit op die water gehop het en rimpels gemaak het? Jy het nie geweet hoe vêr die klip gaan hop of hoe baie rimpels daar gaan wees nie, maar elke keer hoop jy dat jou klippie asseblief tog net nie, nét gaan sink nie, maar dat dit ’n paar keer sal hop en wye rimpels en kringe op die dam sal maak.

As jong maatskaplike werker het ek die ideaal gehad om mense se lewens ten goede te verander. Om die seer wat onlosmaaklik deel van ons wêreld is weg te vat, maar die realiteit het my laat besef dat my ideaal vêr verwyderd en moeilik is. Om lewens te verander gebeur nie oornag nie. Ek word daagliks gekonfronteer met die hartseer en uitdagings van mense wat wanhopig is en nie meer kans sien om voort te gaan nie. Ek het mense gesien terwyl hulle op hulle mees kwesbaarste is, terwyl hulle van dié moeilikste situasies moes hanteer.

Die idee om lewens te verander het oor die jare heen vir my nuwe betekenis begin kry. Ek het besef dat dit nie net my inset sal vat om ’n lewe te verander nie, maar dat verskeie partye ’n stukkie verantwoordelikheid dra, wat op die ou einde ’n wanhopige situasie in ’n storie met ’n mooi einde in verander. Ek gaan nie noodwendig altyd die finale prentjie van iemand se lewe sien nie, maar dit beteken juis dat ek moet help bou aan die legkaart wanneer ’n lewe myne kruis.

Onthou jy die ou gesegde: Gee 'n man 'n vis en jy voed hom vir een dag, maar leer hom hoe om vis te vang en jy voed hom vir 'n leeftyd? Wat ’n mooi manier om die idee van omgee in ’n voorbeeld te verduidelik. 

Om opreg om te gee, is om jou medemens te help deur sy of haar potensiaal (visvang) te ontwikkel dat dit ’n blywende verandering (kos vir ’n leeftyd) in sy lewe teweeg bring.

Een van die belangrikste lesse wat ek in my lewe geleer het, is hoe ’n groot verantwoordelikheid daar in (om)gee steek!

Die gewer moenie onverantwoordelik gee om afhanklikheid te skep en as’t ware die persoon te ontneem van sy of haar wilskrag om na homself of haarself om te sien nie (om self vis te vang nie). Deur aan te hou gee, word die boodskap aan die ontvanger oorgedra dat hy of sy nie in staat is om homself of haarself te help nie (dat hy of sy nie oor die vermoëns beskik om vis te vang nie). ’n Aanhoudende transaksie van gee (ontvang vis elke dag), al is die bedoeling goed, veroorsaak dat daar gewoontes van afhanklikheid (wat beteken dat jy nooit sal kan ophou om vis te gee nie) ontwikkel.

Ware omgee is ook aangee. Moet nooit bang wees om die verantwoordelikheid om ’n bietjie van jouself, ’n bietjie van jou gawes, jou tyd, jou hoop, jou liefde en passie en dalk selfs ook dít wat vir jou moeilik is om te gee, met ander te deel nie.

Jy mag dalk nooit die rimpels sien nie, maar gooi steeds jou klippie verantwoordelik in die water.

 

Wenke vir maatskaplike werkers om hulle persoonlike veiligheid tydens tuisbesoeke te verbeter
Maatskaplike werkers help mense om intense persoonlike uitdagings en psigologiese probleme te bowe te kom. Alhoewel ’n loopbaan in maatskaplike werk baie bevredigend kan wees, word maatskaplike werkers dikwels deur die gevaar van geweld gekonfronteer.
 
Emosionele fiksheid, wat dit is en hoe om dit te verbeter
 
Die maklikste manier om emosionele fiksheid te verduidelik, is om dit met fisieke fiksheid te vergelyk. Ons kan hierdie fisieke elemente oordra na emosionele fiksheid omdat daar nie werklik ’n verskil is nie. Emosionele fiksheid bestaan ook uit krag, buigsaamheid en behendigheid.
 

VPO-opleiding word elektronies in Afrikaans deur dr. Louis Aucamp op 30 en 31 Julie aangebied.

Maatskaplikewerkersgilde-lede kan gratis vir die opleiding registreer. Stuur gerus ’n e-pos aan mw@solidariteit.co.za vir meer inligting.

 
Vir meer inligting,
besoek gerus ons webwerf
Klik hier
Word deel van ons
facebook-netwerk:
Klik hier
 
gildes.solidariteit.co.za